Jou skooldae met sy lief en leed is nooit vergete nie, nes jou Afrikaansonderwyser en die beeldende idiome wat jy in sy of haar klas geleer het, soos: Wat die hart van vol is, loop die mond van oor . . .

Dit is dan ook die geval met die liefde wat die skoolkinders van eergister, gister en vandag vir Afrikaans koester. 

Of F.A. Venter se Gelofteland toentertyd vir jou voorgeskryf is, Dalene Matthee se Kringe in ’n Bos ’n dekade of drie gelede of meer onlangs Marita van der Vyver se Die Ongelooflike Avonture van Hanna Hoekom, dit het jou liefde en waardering vir ons moedertaal nog dieper laat wortelskiet.

Met sulke beskrywende woorde soos japtrap, kransburger en gedoente is en bly Afrikaans #onmisbaar – ook vir die jong geslag Afrikaanssprekendes wat nou op die skoolbanke sit.

Ja, dis onmisbaar met ’n hutsmerk daarby. Want dit is hoe ’n nuwe veldtog van die webtuiste Afrikaans.com heet. Dit behels onder meer dat talle bekendes en taalliefhebbers, oud en jonk, vertel waarom Afrikaans hulle so na aan hul hart lê en hul verbeelding vlerke gee. 

Afrikaans leef ook in die mond van tieners wat nie uitgepraat kan raak oor hul gunstelingwoorde in die taal wat hulle saam met hul moedersmelk ingekry het nie, waarin hulle leer en dink en droom nie. 

Mia de Villiers

Mia de Villiers. Foto: Verskaf

Soos Mia de Villiers (18), ’n onderhoofmeisie aan die Hoër Meisieskool Paarl dit so treffend stel: “Alles wat ek verstaan, alles waaroor ek passievol voel, alles wat ek is, is in Afrikaans gesetel,” sê dié taalliefhebber wie se gunstelingvakke wiskunde en ekonomie is. Sy wil volgende jaar aktuariële wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch gaan studeer. 

Mia is een van die hoërskoolleerders wat in die #onmisbaar-veldtog haar woord doen – in Afrikaans oor Afrikaans. Kyk hier na die kort #onmisbaar-video waarin sy verskyn.

Waarom is Afrikaans vir JOU #onmisbaar? het Huisgenoot vir tieners oor die land heen gevra wat almal een ding gemeen het – hul liefde vir Afrikaans.

Lees hier wat hulle te sê gehad het. Die jongklomp kan jou dalk ’n ding of twee leer – of selfs ’n nuwe woord, soos “frummelfroempie”!

Ashley Strydom

Ashley Strydom. Foto: Verskaf

Ashley is ’n 14-jarige leerder aan die Hoërskool Noordheuwel in Krugersdorp. Oor Afrikaans sê sy: 

“Dis ’n belangrike taal in ons land. Dis my familietaal en ek verstaan en leer die maklikste in Afrikaans. Ek kan nie in ’n ander taal heeltemal myself wees nie.” 

Elrich van der Spruy

Elrich van der Spruy. Foto: Verskaf

Elrich (18) is in matriek aan die Hoërskool Waterkloof in Pretoria.

“Dis vir my onmisbaar, want daar is soveel gees in die taal. Dis hoe die taal my laat voel – warm,” beskryf hy die behaaglike gevoel wat hy kry wanneer hy Afrikaans hoor. “Die taal wys ons hoe ver ons gekom het.” Elrich sê hy’s dankbaar dat hy in sy moedertaal kan skoolgaan, en voeg by dit is vir hom geen probleem om na Engels oor te skakel nie. 

En sy gunstelingwoord?  “Kransburger – dis ’n bobbejaan. Ons taal is so beskrywend.”

Minke Marais

Minke Marais. Foto: Verskaf

“Afrikaans is ook vir my onmisbaar, want dis die taal waarin ek alles doen – van lag en huil tot vry,” sê Minke (16), ’n graad 11-leerder aan die Hoërskool Noordheuwel in Krugersdorp. 

“Daar is soveel beskrywende idiome en gesegdes. Vat nou as voorbeeld as ’n mens sê: ‘Die man het so min ritme hy sukkel om aan ’n deur te klop.’ Dit beskryf dit so raak. En Afrikaans is skeppend.”

Haar gunsteling- Afrikaanse woord is frummelfroempie. “Dis die onderste, vellerige gedeelte van ’n mens se elmboog,” beduie Minke.

Ashaan Arries 

Ashaan Arries. Foto: Verskaf

Ashaan is 17 jaar oud en in Goodwood College in Parow, Kaapstad. 

“Afrikaans is spesiaal, want dis soos familie. Dis wat ek ken en waarin ek myself kan wees. Ek hou ook van al ons uitdrukkings,” sê Ashaan. 

Hy vind hy verstaan moeilike begrippe soveel makliker wanneer dit in Afrikaans vir hom verduidelik word.

“My gunsteling sêding is: ‘Awê my broer, wat sê djy dan?’ ” laat hy hoor.

“Ek hou van die vibe in Afrikaans. Ek worrie nie oor of dit gaan voortleef nie. Dit gaan. Ons moet dit net praat, want dis ’n lekker taal.” 

Chané Ouwencamp 

Chané Ouwencamp. Foto: Verskaf

Chané is 14 jaar oud en aan die Hoërskool Klerksdorp in Noordwes.

“Ek praat eerder Afrikaans, want dis waarin ek die gemaklikste is. ’n Mens soek vir woorde wanneer ’n mens Engels praat. Dis vir my lekker dat Afrikaans soveel verskillende mense van verskillende agtergronde, rasse en van orals in ons land saambind.” 

Sy sê haar gunstelingwoord is japtrap” omdat dit so beskrywend is. Sy lees ook graag Afrikaanse tienerboeke. 

Kijanke Janse van Vuuren

Kijanke Janse van Vuuren. Foto: Verskaf

Kijanke (13) is in gr. 8 aan die Hoërskool Noordheuwel in Krugersdorp. 

“Die rollende ‘rrr’ en gorrelende ‘g’ is vir my onmisbaar,’’ gesels sy oor ons klankryke taal. “Daar is niks beters as om by ’n braai in Afrikaans te gesels nie. Ek kan grappe maak en verstaan en net myself wees.” 

Oor Afrikaanse musiek raak sy opgewonde. Kijanke is veral gek oor die sanger Bouwer Bosch se musiek. “Slaan my maar met ’n nat vis as Afrikaans nie onmisbaar is nie,” sê sy.

Maria Strauss

Maria Strauss. Foto: Verskaf

Vir Maria, ’n eerstejaardramastudent aan die Tygerberg Northlink College naby Kaapstad, is Afrikaans onmisbaar, “want dis my moedertaal en baie spesiaal. Dis deel van my identiteit. Daar is soveel dinge wat ’n mens nie in ’n ander taal kan sê nie. Dit val nie so lekker op die oor nie.” 

Maar in Afrikaans kan jy enige ding sê, glo Maria, wat ook gek is oor Afrikaanse musiek, veral as dit Riana Nel is wat sing.  

#onmisbaar

Met hul kontemporêre #onmisbaar-veldtog hoop hulle dit sal almal wat Afrikaanse praat, opnuut opgewonde oor en trots op hul taal maak, sê Milanie Vosloo, die projekbestuurder van die veldtog.

“Nege mense uit alle vlakke, beroepe en kulture vertel hoe taal aan hulle identiteit gee, wat die waarde van Afrikaans vir hulle is en hoe hulle hierdie besonderse taal geniet.

Hulle verwys veral na die opvoedkundige, ekonomiese en kulturele waarde van Afrikaans.

Soos reeds uit ons vorige veldtogte duidelik was, is taal meer as die woorde wat ons praat. Dis ons wortels én ons vlerke; daarom onlosmaaklik deel van ons identiteit.” 

Vir meer inligting oor die veldtog, besoek hul webtuiste.

Gaan na hul sosialemedia en sê wat jy hieroor op die hart het.

Waarom is Afrikaans vir JOU #onmisbaar?