Dit was die rapper HemelBesem wat aan Wes-Kaapse skoolkinders gesê het: “Afrikaans is soos ’n brijani: Dis ’n mengelmoes, en dis goed so.

So verduidelik René Arendse, koördineerder van Afrikaans.com se muurkunsprojek in die Wes-Kaap. En net so kleurryk soos die brijani, so is die muurskilderye wat geverf word.

Die boodskap? Om al die sprekers van Afrikaans, en veral kinders in die bruin gemeenskap, te oortuig dat dit cool is om die taal te praat soos jý dit praat. Wees trots Afrikaans op jou eiesoortige manier, want dis juis dié verskeidenheid wat ons taal-brijani so betowerend op die oor laat val.

Vir die muurkunsprojek by die hoërskole is die hutsfrase #droomgroot geskep.

En met die verfkwas in die hand het die Afrikaans.com-span die kinders se verbeelding vlerke gegee met die uitbeelding van die blou hemel en see, helderpienk seediere en Tafelberg in die laerskoolkunswerk, en spitsvondige woorde en die uitbeelding daarvan in die hoërskool kunswerk. 

“Ons wou ’n visuele beeld los vir die kinders van hul Afrikaans,” verduidelik René verder. “Afrikaanssprekendes in die bruin gemeenskap het soms ’n minderwaardigheidskompleks en dis onnodig. Dis hoe Afrikaans vir ons lyk en dis wonderlik.” 

Vier skole – Liebenberg Primêr, Riverlands Primêr, Lavender Hill Sekondêr en Tafelsig Sekondêr – is tot dusver vir 2018 as deel van die projek met muurkuns versier.

“Dis almal skole wat nog Afrikaans as moedertaal aanbied. Daar is nie meer baie van hulle oor nie,” sê René. 

René sê dis belangrik dat kinders hul oumas en oupas se stories vertel en om in Afrikaans te droom.

“Dit kan mos ook net behoorlik gedoen word as dit in Afrikaans gebeur. Die meeste van die kinders se ouers en grootouers praat Afrikaans, maar die kinders is besig om te verengels. Hulle dink ’n mens moet Engels wees om uit te styg. Dis die persepsie wat ons wil verander.” 

HemelBesem, oftewel Simon Witbooi, was een van die plaaslike kunstenaars wat by die skole opgetree het en die kinders oortuig dat dit oukei is om trots Afrikaans te wees op jou unieke manier. 

Sy kon die kopskuif in van die kinders sien gebeur, vertel René.

En die skole stem saam. 

“Op Malmesbury is ons ’n baie Afrikaanse gemeenskap,” sê Janine Adonis, hoof van Liebenberg Primêre Skool, “maar ouers kies soms om hul kinders na Engelse skole toe te stuur. Dit was so lekker om die kinders weer trots op Afrikaans te maak.” 

“Hulle was baie opgewonde toe hulle hoor die woorde wat hulle gebruik, soos ‘awé’, is aanvaarbaar. Ons het ons eie dialek hierso en ons meng ons taal, maar dis steeds ons s’n.” 

Janine het gekies om die muurkuns op die skool se verhoog te laat verf. “Ek wil elke keer dat ons ’n funksie het die ouers se aandag ook hierop vestig. Dís hoe ons Afrikaans lyk,” sê sy. 

Gaylin Brown (11) is in gr. 5 aan Liebenberg Primêr. Sy sê dis lekker om te hoor sy mag Afrikaans praat nes sy wil.

Gaylin Brown

“Awé is my gunsteling – dis ’n kwaai woord,” sê sy. Sy vertel sy het sommer nuwe woorde ook op die dag van die bekendstelling geleer. “Dis net wonderlik om Afrikaans te wees en te kan praat,” sê sy. 

Ook Clarence Rogers, hoof van Tafelsig Sekondêr in Mitchells Plain, sê sy leerlinge het die muurkunsprojek baie geniet.

“Onse kinders het nie ’n bangheid om Afrikaans te praat nie,” sê hy. “Hulle praat hom soos hy val. Mense is at home in Afrikaans.” 

Tafelsig is een van die min skole in Mitchells Plain wat steeds Afrikaans as huistaal aanbied. 

Nicole Nicke (17), ’n matriekleerling aan dié skool, sê sy droom in Afrikaans omdat dit so ’n groot deel van haar identiteit uitmaak.

Nicole Nicke

“Daar is baie verskillende vorme van Afrikaans, maar selfs ons slang is deel van hoe Afrikaans vir ons lyk. 

“Sy sê een van die sprekers by die muurkunsprojek het hulle daaraan herinner om nie skaam te wees oor hoe hul Afrikaans lyk nie.

“Ek het net weer besef voor jy ’n ander taal kan baasraak, moet jy eers Afrikaans goed verstaan en praat anders sal jy nie daai taal behoorlik kan praat nie. Ek is trots Afrikaans en dit sal so bly.” 

… en hoe lyk jou Afrikaans? 

Daar is nie ’n “verkeerde” antwoord nie. Vertel ons by Afrikaans.com.