Dit is bekostigbaarder as rooivleis, maklik om gaar te maak en veelsydig genoeg om te keer dat die kieskeurigste eter verveeld raak.

Daarom is dit maklik om te sien hoekom dit ’n groot gunsteling in miljoene huise is. Maar dis ook belangrik om alles oor hoender te weet, van dit koop en gaarmaak tot bêre, om te sorg dit is vir die hele gesin veilig om te eet. Carmen Niehaus, Huisgenoot se veteraan-kosredakteur, wat ’n rykdom ervaring oor alles rakende hoender het, sê daar is drie hoofdinge om te oorweeg:  

Wanneer jy dit koop

McDonalds
Foto ter illustrasie: Getty Images

Die eerste ding om te doen, is om die vervaldatum op die pak hoender na te gaan. As dit verby die verkoopdatum is, vermy dit – jy wil geen kanse waag wat jou gesin se gesondheid betref nie. Maak ook seker die pak is goed verkoel en styf gepak sonder ontblote plekke, want lug kan die hoender besmet.   

“Vars hoender is plomp en ferm en het ’n mooi pienk kleur,” sê Carmen. 

Wanneer jy dit gaarmaak

McDonalds
Foto ter illustrasie: Getty Images

Salmonella-bakterieë kan hoender tydens die bereidingsproses binnegaan. Maak dus seker jy was jou hande deeglik en gebruik altyd skoon toebehore en snyplanke.

As jy hoender marineer, sorg dat dit in ’n glas- of plastiekbak gedoen word. Die aluminium in ’n aluminiumbak is geneig om met die sure in die marinade te reageer en kan die hoender laat sleg raak. Dit is ook belangrik om te sorg dat jou hoender deurgaar is voor jy dit eet.

Die sappe moet helder wees en daar moet geen pienk wees wanneer jy die dikste deel van die hoender sny nie.

McDonalds
Foto ter illustrasie: Getty Images

Wanneer jy dit bêre

Hoender is uiters bederfbaar en moet met sorg hanteer word, veral in warm weer, sê Carmen. Bêre dit altyd in die koudste deel van die yskas (gewoonlik die onderste deel). Vries hoender as jy dit nie gaan gaarmaak binne 24 uur nadat jy dit gekoop het nie. 

Oorskiet moet bedek word om te voorkom dat dit bakterieë aantrek en verkoel word sodra die hoender afgekoel het, voeg Carmen by. Sy maan ook teen kruisbesmetting en sê rou hoender moet altyd apart van ander kosse in die yskas gebêre word sodat die sappe van die rou hoender nie met ander kosse in kontak kom nie.   

Net die beste

Die hoender wat in die vele restaurante onder McDonald’s se bekende “Golden Arches” voorgesit word, word deur die beste verskaffers in die land verskaf.

Die hoenders word op plase met 100% volhoubare bioveiligheidsmaatreëls grootgemaak en net natuurlike bestanddele gevoer. Norman Rametse en sy span toegewyde hoenderboere is agter McDonald’s se beroemde burgers en Chicken McNuggets ®.

Norman is ’n ervare hoenderboer wie se passie vir hoenders begin het toe hy as skoolseun in sy ouers se slaghuis gehelp het. 

Mettertyd kon hy ’n plaas bekom en al het hy vele uitdagings die hoof gebied, het sy reis hom ’n belangrike les geleer: Daar is geen kortpaaie om pluimvee van hoë gehalte te produseer nie.  

 “As een van die bes presterende plase met die jongste tegnologie en hoë bioveiligheidstandaard is die produksie van gehaltehoenders ons hoogste prioriteit,” sê Norman. 

Die plaas het nie net vir ’n aantal mense in die gemeenskap werk verskaf nie; Norman en sy vrou het ook plaaslike gemeenskapslede bygestaan om hul identiteitsdokumente te verkry.

Hy sorg ook dat ’n mobiele kliniek een keer per maand na die plaas kom. Gesonde werkers beteken gesonde hoenders – dis sy motto.