Wanneer daardie eerste klaviernote deur die huis trek en die Jakaranda-bloeisels op die televisieskerm verskyn, dán weet jy, hier kom ’n Binnelanders-episode propvol drama en intrige.

Dinsdagaande skuif jy voor die kassie in, want jy sal dit nie waag om ’n episode van Sara se Geheim mis te loop nie, wat nog Boer soek ’n vrou, later in die week.

Hier is die wenners wat vanjaar met Tempo-toekennings wegstap in die televisie-afdeling.

Aanbieder van die jaar

Die sprankelende Minki van der Westhuizen is deur lesers aangewys as die TV-aanbieder van die jaar.

Reeks: Aktualiteit, werklikheid en speletjies

Net so het die maatsoekreeks Boer soek ’n vrou ook die Tempo ingepalm vir TV-reeks van die jaar: Aktualiteit, werklikheid en speletjies.

Reeks: Drama, sitkom

Die kykNET-reeks Sara se Geheim het kykers geboei en wen die Tempo vir TV-reeks van die jaar: Drama, sitkom.

Akteur van die jaar (drama, sitkom)

Die wenner in dié kategorie is Marlo Minnaar, wat die rol van Aiden in Sara se Geheim vertolk.

Aktrise van die jaar (drama, sitkom)

June van Merch is vir haar rol as Sofia in Die Boekklub as die wenner aangewys.

Sepie van die jaar

Die kykNET-sepie Binnelanders is aangewys as sepie van die jaar.

Akteur van die jaar (sepie)

Hykie Berg, wat die rol van dr. Conrad Bester in Binnelanders vertolk, is die sepie-akteur van die jaar.

Aktrise van die jaar (sepie)

Cindy Swanepoel, wat dr. Annelize Roux in Binnelanders speel, is die wenner van dié kategorie.

En kyk net wat het Cindy oor haar Tempo te sê:

Woensdag, 31 Oktober, word die wenners in die kategorie: radio en boeke bekend gemaak.