Adam het nog altyd met die seldsame aangebore toestand Bartter-sindroom saamgeleef. 

Dit word deur lae kaliumvlakke en bloeddruk gekenmerk en kan die niere aantas.

In Woensdagaand se episode vertel Adam vir Minki dat hy meer as vyf maande in die hospitaal was en boonop drie keer verkeerd gediagnoseer is. Daarna het 'n professor hom eindelik reg gediagnoseer en het hy 'n jaar en 'n half in 'n rolstoel rondbeweeg voor die "wonderwerke" begin het. 

Sy spesialis in Johannesburg het met groot verbasing op sy gesondheidsverbetering reageer.

Adam onthou die boodskap soos gister: "Hy het gesê: 'Adam, you're not supposed to be using your hands and your feet. You are not supposed to be walkling and you are not supposed to be alive.' "

Huisgenoot het ook verlede jaar met  Adam oor sy gesondheidstryd gesels.

"My lewe lank moes ek versigtig wees oor alles wat ek eet en drink. Eintlik was dit 'n wonderwerk dat ek 31 gesonde jare gehad het. Ek sou nooit kon dink dié ding wat jare lank binne my liggaam gebroei het, sou my eendag by die dood laat omdraai nie," het hy voorheen vertel

Hy het die eerste keer besef iets ernstigs skort met sy gesondheid toe hy in 2016 op pad na 'n optrede in Bloemfontein van Warrenton in die Noord-Kaap skielik steekpyne gekry en duiselig gevoel het. 

"Ek onthou die oomblik asof dit gister was. Ek het geweet iets groots is fout." 

In die Rosestad is hy onmiddellik hospitaal toe. 

"Nie lank na die toetse nie het die dokters my hospitaalkamer binnegestap en prontuit gesê: 'Jy het nierversaking.' Dit was 'n slag, maar niks kon my voorberei op die storms wat nog voorgelê het nie." 

Kyk hier na 'n videogreep uit vanaand se episode van Minki.

  • Nuwe episodes van Minki word Woensdae om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai, met heruitsendings op Saterdae om 18:30. Minki word geborg deur Incanda-meubels en Bacher & Co.