Armand het reeds in 2012 teenoor familie en vriende uitgekom.

“Toe ek in 2012 uitgekom het aan my familie en vriende en kollegas, het ek vir myself gesê: ‘Jy doen dit net een keer.’ Maar jy doen dit eintlik elke dag. Elke dag wanneer jy iemand ontmoet,” deel Armand met Minki. 

“Maar as gevolg van my loopbaan wat toe begin vlamvat het, het ek minder daaroor begin praat, want jy wil ook nie te veel van jou persoonlike lewe uitlaat nie, want mense projekteer ’n fantasie op jou as akteur of aktrise. En jy wil nie te spesifiek wees nie, want jy moet verskillende rolle speel. Maar dit het toe begin verhoed dat ek daaroor praat. En dan ewe skielik – agt jaar later – is ek weer terug in die kas.” 

In dié episode het Minki ook vir Armand verras met ’n besoek deur sy ma, Petra Aucamp. 

Sy het kom gesels oor hoe Armand aan haar uitgekom het en hoe sy haar seun onvoorwaardelik aanvaar het. 

In dié videogreep uit die episode, vertel Armand oor die groot oomblik wat hy aan sy ma uitgekom het en Petra deel haar boodskap aan ouers wie se kinders ook gay is.

Armand het ook vroeër vanjaar aan Huisgenoot verklap dat daar iemand spesiaal in sy lewe is. 

Die akteur se hart behoort aan Tannah Harris (31), ’n fiksheidsinstrukteur van Kaapstad. 

“Ek is in ’n wonderlike verhouding met iemand wat vir my omgee. Hy ondersteun my en deel my belangstelling in gesonde kos,” het hy destyds vertel.

Die twee het mekaar juis ontmoet danksy hul gedeelde passie vir ’n gesonde, aktiewe leefstyl. Hulle is nou al ’n jaar lank ’n paartjie. 

“Dis nuut, maar dit is lank genoeg om te weet of jy by iemand is wat jou ondersteun en jou lewe beter maak,” sê die akteur.

  • Nuwe episodes van Minki word elke Woensdag om 20:00 op VIA uitgesaai met heruitsendings op Saterdae om 18:30. In samewerking met Finbond Platinum.