Hoofstrooimeisie, hierdie wenke is dus vir jou en die res van die gevolg om seker te maak jul vriendin straal in hierdie tyd. (Hierdie raad sluit nie die meeste van daardie stoutighede in wat by party hennepartytjies gebeur nie.)

Foto: Getty Images
  • Nie elke bruid wil ’n ontkleeddanser en rowwe partytjie hê nie. Maak seker jy vra die bruid en bruidegom ’n ruk voor die troudag hoe hulle hul onderskeie partytjies wil hê. As julle beste vriende is, sal jy in elk geval weet wat om te beplan. Die bruid moet ook nie inmeng nie; sy moet net elke oomblik geniet. 
  • Nes ’n wit trourok nie meer nodig is nie, is dit nie meer ’n vereiste dat die bruid niks oor die hennepartytjie weet nie. Dis ’n nuwe era. Vra lank voor die tyd of die bruid ’n paar idees het vir hierdie partytjie en vis uit of sy verras wil word. 
  • Maak ’n plakboek met interessante foto’s van al die gaste wat daar gaan wees. Manipuleer foto’s van elkeen deur hul gesig byvoorbeeld te plaas op ’n prent van Barbie of ’n strokiesprentkarakter. Sluit ’n snaakse boodskap van elkeen langs hul foto in. Die plakboek is iets wat die bruid kan hou. Sy kan selfs ook foto’s van daardie aand daarin plak.  
  • Die hoofstrooimeisie moet die leiding neem, maar steeds die ander strooimeisies betrek. Doen navorsing oor alles waarvan jy dink die bruid sal hou en e-pos dit vir almal om te help kies watter aktiwiteite vir die meeste lekker sal wees. Jy kan ook ’n WhatsApp-groep skep om die reëlings te bespreek. So verhoed jy misverstande en ’n chaos. Een mens moet die leiding neem, maar oop wees vir ander se advies. 
  • Maak ’n lys van waaghalsige dinge wat die bruid op haar hennepartytjie moet doen. Dit sal almal laat lag as sy byvoorbeeld drie vreemde mans hul selfoonnommer moet vra, in ’n besige restaurant op die tafel moet dans of dalk vrae moet beantwoord wat julle vooraf saam met haar aanstaande saamgestel het.
  • Pak saam met die bruid ’n nuwe ervaring aan, soos ’n paaldansklas. Dit kan net die regte medisyne wees en almal uit hul dop laat kruip. Die bruid kan selfs ’n paar wenke kry vir die wittebrood. 
  • Moenie alles tot op die sekonde beplan nie. Los tyd in die skedule om op die nippertjie iets buitengewoons te doen. Laat die dag natuurlik verloop. Dalk eindig julle langs die swembad met ’n skemerkelkie in die hand.
  • Ek dink dit is ’n moet dat julle die bruid opdollie in ’n tiara, balletrompie en ’n sash, met dalk ’n pienk of pers pruik. Kies ’ n tema sodat die gevolg en gaste almal prettig aangetrek is wanneer julle die dorp op horings neem. 
  • As dit by die begroting ingesluit is, kan julle ’n fotograaf reël. Op dié manier kan julle die dag geniet sonder die verantwoordelikheid van foto’s neem. 

Van hennepartytjies en trourokke tot volgende week!