Die volgende vraag is hoe vermaak jy jou gaste? Dis iets wat belangrik is wanneer al die formaliteite verby is, want die platejoggie laat die laaste indrukke. Hoe kies jy die regte musiekverksaffer vir hierdie sprokiesgeleentheid? 

Foto: www.sbme.co.za

Vra die platejoggie die volgende vrae met jou konsultasie:

Is dit sy/haar voltydse werk?

Vra jou platejoggie of dit sy/haar voltydse werk is en of dit net deeltyds is. Jy wil weet of hy/sy ondervinding het om so ’n geleentheid te hanteer. Pasop vir ’n musiekmaker of enige diensverskaffer wat ander verskaffers slegsê. Dit is ’n gevaarteken dat die fout dalk by hom/haar lê. 

Keuse van musiek

Kry ’n platejoggie wat jou styl en smaak kan weerspieël in die musiek. Elke kliënt en paartjie se behoeftes is anders as die vorige bruid en bruidegom s’n. Enige ervare platejoggie sal jou voorgeskrewe lys van moets en moenies in ag neem. 

Hoe kry jy die gaste om te dans? 

Vra die platejoggie hoe kry hy jou gaste op die dansbaan om te dans en die ys te breek. Die meeste beroepsplatejoggies het ’n video-opname van hul werk, net soos ’n fotograaf. Jy wil weet dat jou keuse jou gaste en julle as paartjie op die dansbaan sal hou met die energie. 

Word musiekversoeke toegelaat?

Dit is ’n belangrike vraag wat jou aand kan maak of breek. Dit is belangrik dat jou platejoggie jul keuses speel, maar ook die balans handhaaf van wat jou gaste wil hoor. ’n Goeie musiekverskaffer sal albei partye kan tevrede stel en seker maak die versoeke word tussendeur die bruidspaartjie se lysie gespeel. 

Musiek “blend & mix”

Wanneer ’n liedjie aaneenvloei met die volgende moet jy dit glad nie eers kan agterkom nie. Jy wil seker maak dat dit glad verloop sodat wanneer ’n spesifieke liedjie te lank speel, jou platejoggie ’n ander kan inmeng. Laat hy/sy vir jou speel met jul konsultasie of as hy ’n video-opname beskikbaar het, kan hy dit wys.

Beligting en klanktoerusting

Die meeste platejoggies het hul eie beligting en dis ingesluit by sekere pakketopsies waaruit jy kan kies. Maak seker dat hy/sy die beste klanktoerusting het. Sorg ook dat mikrofone vir die toesprake en ekstras, soos rookmasjiene, beskikbaar is op aanvraag. 

Noudat jy jou perfekte platejoggie gevind het met my raad, maak seker jy gaan sy kontrak en voorwaardes noukeurig deur. Jy wil nie soos ek op ’n onlangse troue wees waar die bruidspaartjie alles van die beste gehad het, selfs ’n bekende sanger wat hul duisende gekos het, maar die DJ wou glad nie versoeke van die gaste aanvaar of die liedjies speel wat die bruidspaartjie versoek het nie. 

Van liefdesliedjies en trourokke tot volgende week! 

  • Skakel elke Woensdag om 17:30 in vir nuwe episodes van My droom-trourok op VIA (DStv-kanaal 147) en Sondae om 15:30 vir die heruitsendings.