Christi en haar man Nico, wat albei voorheen in die SABC 2-sepie 7de Laan verskyn het, gesels openlik oor die pad wat hulle tot aanneming gestap het en die geloofsbesluite wat hulle geneem het om uiteindelik ’n gesin te word.

“Ons is eintlik supertrots. Ons is eintlik baie dankbaar dat dit ons pad was,” vertel Christi aan Minki in die hartroerende episode wat ook ’n verskyning deur voormalige Idols-wenner Karin Kortjé insluit.

Karin is op agt dae oud aangeneem en is vroeër hierdie jaar na 40 jaar met haar biologiese ma herenig.

Ambassadeur

Christi sê sy voel asof sy amper ’n ambassadeur geword het vir aanneming en die positiwiteit daarvan.

Sy en Nico deel graag hul storie omdat hulle al gevind het dat daar ’n uitkringeffek is wanneer hulle daaroor praat.

Die Survivor-aanbieder Nico vertel dat hy gereeld gaan draf en dat hy op een so ’n drafsessie gebid het en die antwoord op sy gebed was aanneming.

“Ek dink jy kan jouself soveel hartseer spaar as jy net daardie gehoorsaamheid van die begin af volg. Dis ’n lang pad, dis baie moeilik,” se Christi.

Nico en Christi het voor die aanneming van hul dogtertjies, Evah (8) en Shay (6), kunsmatige bevrugting op die proef gestel maar hul pogings was onsuksesvol.

Die egpaar sê dat hulle nie vir een oomblik wens dat dinge anders vir hulle gebeur het nie.

Haar raad aan paartjies wat aanneming oorweeg is tweeledig; die eerste is dat dit werklik ’n moeilike besluit is, so jy moet dit nie forseer nie.

“Baie keer wil een persoon in die huwelik of ’n verhouding dit hê, maar die ander een wil nie. Daarom is kommunikasie belangrik. Ook met jou breër familie sodat hulle kan verstaan hoekom julle dit doen,” sê Christi.

Wat aanneming behels

Sy sê ook dat dit belangrik is om jouself op te voed oor wat aanneming behels voor jy besluit om ’n kind aan te neem.

“Mense het hierdie wanpersepsie dat die kind een of ander manier gaan wees, maar die kind draai uit soos jy hom of haar grootmaak.”

Christi sê dis nog ’n rede waarom sy altyd bereid is om oor hulle aannemings te praat, want sy voel sy kan die wêreld “so klein bietjie verander”.

Tweedens, sê Christi dat wanneer die kind eers by jou is, is dinge nie so moeilik soos wat mense dink nie.

“Daardie kind kom en steel jou hart. Solank jy dit doen vir die regte redes, om ’n ouer te wees en jy moet jouself net gedurig herinner aan daardie redes,” sê sy.

Christi en Nico se dogtertjies is nog klein, maar sy sê dat die samelewing dinge soms moeilik maak.

“Ons huis is oop en eerlik en liefdevol, maar by die skool kom daar so hier en daar woorde deur wat seer maak.”

Christi sê die belangrikste vir hulle is om sulke voorvalle as n gesin te hanteer en dat hulle gereed is om enige vrae wat Evah en Shay het te beantwoord.

Vanweë hul lewe as openbare figure het Christi en Nico verkies om ’n geslote aanneming te hê, en anders as in Karin se geval, sou dit van hul dogtertjies se biologiese ma’s afhang of hulle kontak wil maak in die toekoms, maar Christi sê as Evah en Shay se biologiese ma’s dit toelaat, gun sy hulle die kans wat Karin nou met haar biologiese ma het.      

Minki word Woensdagaande om 20:00 op Via TV (DStv-kanaal 147) uitgesaai. Herhalings van die program word op Woensdae, Donderdae, Saterdae en Sondae uitgesaai.