Almal ken dié gevoel: Jou maandelikse salaris is pas inbetaal – en dan sien jy hoe die bedrag vinnig daal soos die aftrekorders begin inskop.

Dit kan soms veral skrikwekkend wees om te sien hoe die tamaai bedrae wat jy maandeliks aan jou langtermynversekering moet afstaan jou bankrekening verlaat.

Maar die goeie nuus is hoewel dié geld nie meer in jou bankrekening is nie, lewer dit steeds ’n reusebydrae aan jou lewe.

Hier deel Jeanette die vier soorte langtermynversekering wat almal móét hê.

LEWENSVERSEKERING

“’n Mens kan dink, ‘Wel, ek verdien ’n goeie salaris, ek het ’n klomp bates, ek het huise: Ek het genoeg goed wat na my familie kan kyk as daar iets met my gebeur. Maar dis nie heeltemal waar nie,” waarsku Jeanette. 

Die feit bly staan as iets met ’n mens gebeur, gaan alles in ’n boedel wat deur ’n eksekuteur bestuur word.

Om dié bates te kry om finansieel vir jou geliefdes te sorg, is ’n lang proses. Lewensversekering betaal egter onmiddellik uit. Plus,jou lewensversekering betaal uit buitekant jou boedel.

“Met ander woorde,” voeg Jeanette by, “ Dit verskaf dadelik kontant aan jou familie.”

INKOMSTEBESKERMING

Is jy onverwags in die pad gesteek? Dalk kan jy weens omstandighede vir ’n tydperk nie geld verdien nie? Hoe nou gemaak?

Daarvoor benodig ’n mens inkomstebeskerming. Jeanette raai jou sterk aan om jaarliks jou inkomstebeskerming op te dateer omdat ’n mens se salaris met die jare verander.

“Dis ’n baie lekker manier om seker te maak dat jou inkomste aangaan, selfs wanneer jy nie in ’n posisie is om ’n inkomste te kan verdien nie,” voeg Jeanette by.

ONGESKIKTHEIDSVERSEKERING

Stel jou voor daar gebeur iets met jou wat veroorsaak dat jy nie meer jou werk kan doen nie.

“Ongeskikheidsversekering is ’n enkel bedrag wat uitbetaal, met ander woorde – anders as inkomstebeskerming – is dit nie ’n maandelikse bedrag nie en dit betaal uit wanneer jy nie in staat is om jou werk te kan doen nie,” verduidelik Jeanette.

GEVREESDE-SIEKTEDEKKING

“Gevreesde-skietedekking maak voorsiening vir as daar iets met jou gebeur soos ’n hartaanval of kanker. Dis nie wanneer jy te sterwe kom nie – met ander woorde jou lewensversekering tree nog nie in werking nie,” verduidelik Jeanette.

As, byvoorbeeld, ’n rare soort kanker by jou gediagnoseer word wat nie deur jou mediese skema gedek is nie en jy moet spesiale dekking kry, help gevreesde-siektedekking jou om daardie hulp te bekom.

WIE IS JEANETTE MARAIS?

Ná 28 jaar in die finansiëledienstebedryf is Jeanette Marais, ’n gerekende kenner van finansiële dienste, in Maart 2018 as die adjunk- uitvoerende hoof van MMI Holdings Bpk. aangestel. Dit is dieselfde maatskappy waar sy haar loopbaan begin het.

Jeanette het op ’n plaas in die Vrystaat grootgeword en het as student ’n BSc in wiskunde en wiskundige statistiek aan die Universiteit van die Vrystaat behaal – en later ook ’n MBA aan die gesogte IMD-besigheidskool in Switserland.

Haar loopbaan in die finansiële sektor het in 1990 begin by Momentum, waar sy bemarking en verkope behartig het.

Ná byna nege jaar het sy die maatskappy verlaat waarna sy uitvoerende bestuursposte by verskeie ander finansiële dienste maatskappye behartig het voordat sy na MMI Holdings Bpk. teruggekeer het. 

Jeanette Marais, Theo Voster, Rozanne McKenzie. Foto: Verskaf
  • Nuwe episodes van Geldhelde word Dinsdae om 20:30 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai met heruitsendings op Woensdae om 08:30 en Sondae om 19:30. In samewerking met Momentum.