Soos jy weet, woon ek in Douglas, omring deur my familie – dis nou te sê my vier broers wat almal hier boer.

In die vorige reeks het ek saam met my dogter, Mila, en haar niggies (my broers se dogters) oliebolle gebak vir haar 11de verjaardag, en natuurlik was die seuns bitter ongelukkig dat hulle nie op TV was nie. 

Die keer is dit hulle beurt: my seun, Cilliers, die oudste neef, en dan die res van die orrelpypies – selfs Jandré, die jongste toevoeging tot die familie.

Cobus, my broer HF se jongste seun, het gevra ek moet asseblief vir hom ’n biltong-en-droëworskoek bak.

Nou, toe dink ek koek gaan nie lekker werk nie en maak toe eerder ’n potbrood met ’n biltongvulsel.

Ek dink die smaakpallet was ’n bietjie vreemd vir die spul seuns, maar as gevolg van goeie maniere het die meeste van hulle vertel hoe lekker die potbrood was.

Die biltongkoek flits gereeld verby op Facebook, waar mense dit gebruik as ’n troukoek by ’n troue op ’n wildsplaas.

Ek vermoed die meeste van die tyd word ’n fopkoek gebruik en dan net versier met droëwors teen die kant en biltong bo-op.

Natuurlik is dit dan nie streng gesproke ’n koek nie, maar dit lyk wel vrek cool op die foto’s.

Wees gereed vir ’n stewige rekening, want jy benodig nogal baie biltong en droëwors om die koek mee te bedek.

Ons sluit die episode af op my broer se wildsplaas, waar ons die koek sny op my pa se graf. Ek dink hy sou die lot seuns baie geniet het. Ek mis hom steeds.

Die nefies se biltong-en-droëworskoek

Bestanddele

1 kg witbroodmeel
1 pakkie kitsgis
3 t sout
gis
louwarm water
1 k heuning
botter

Vir die biltong-mousse
2 uie, fyn gekap
olie
1 blokkie hoenderaftreksel
100 ml kookwater
¾ e gelatien
’n knippie koljander
1 blikkie ingedampte melk
1-2 t asyn
fyn biltongpoeier, na smaak
1 k mayonnaise

Vir die versiersel
roomkaas
botter
droëwors

Metode

Voeg die meel, gis, sout, heuning en botter saam in ’n skottel en meng goed deur.

Sodra die bestanddele saamgemeng is, voeg die water by en knie goed tot ’n deeg vorm.

Sodra die deeg goed geknie is, strooi meel aan die onderkant van die skottel en plaas die deeg op die meel.

Strooi nog meel bo-oor.

Bedek die bak en laat die deeg vir ongeveer ’n uur rys.

Smelt so ’n klein bietjie botter en gebruik dan waspapier om die botter aan die binnekant van ’n pot te smeer.

Plaas die deeg in die pot om te rys terwyl jy die biltong-mousse maak.

Soteer die uie in ’n klein bietjie olie tot goudbruin.

Voeg die blokkie hoenderaftreksel en die kookwater saam in ’n glasbak en laat dit oplos.

Klits goed om die proses aan te hits.

In ’n aparte bak, los die gelatien op in ’n klein bietjie water.

Voeg ’n knippie koljander by die gelatien.

Voeg die gebraaide uie, hoenderaftreksel en gelatien bymekaar en voeg dan die asyn by.

Klits die ingedampte melk styf.

Vou die uiemengsel, die fyn biltongpoeier en die mayonnaise by die styfgeklitste ingedampte melk in en plaas dit in die yskas om te set.

Bak die potbrooddeeg in die oond teen 180 ºC vir ’n uur.

Klits die roomkaas tot styf. Voeg ’n bietjie botter by om die room sagter te maak.

Haal die pot uit die oond, verwyder die potbrood uit die pot en laat dit afkoel. Sny die korsies af van die potbrood en sny die brood in horisontale lae.

Smeer ’n laag roomkaasversiersel op ’n laag brood en smeer dan ’n laag van die biltongmousse op.

Herhaal dié proses en stapel die lae op mekaar.

Bedek die buitekant van jou koek met die roomkaasversiersel en versier dit dan met droëwors.