Dis altyd vir my vreemd hoe koeke, nes modes, heeltyd verander en vernuwe. Dankie tog daarvoor, want anders was ek lankal mal. Ek hou glad nie daarvan om dieselfde ding oor en oor te doen nie.

Onlangs het ek op Instagram ’n nuwe modegier raak gesien. Dié neiging is bekendgemaak deur die Russiese bakkery Kalabasa.

Dit is bekend as “feather cakes”, maar die Amerikaners noem dit “brushstroke cakes”, wat ons dan seker in Afrikaans kwashaalkoeke kan noem, maar dit klink amper te woes om te eet. 

Die Koektannie se kashaalkoek.

Dis eintlik ’n baie maklike manier om ’n vervelige koek mee op te dollie en enigiemand sal die tegniek kan baasraak. ’n Mens kan die sjokolade-kwashale op ’n enkellaag koek of op ’n koek met meer as een laag gebruik. Jy kan selfs kleintjies maak vir bo-op jou kolwyntjies. 

Ek het dit vir die eerste episode van Die Koektannie (Dinsdae om 18:30) van baksjokolade gemaak, want soos julle weet, bly ek op Douglas in die Noord-Kaap en hier raak dit bitter warm. My sjokoladeversierings maak ek dus van baksjokolade, anders het al my handewerk gesmelt teen die tyd dat ek by die partytjie kom en is ek te skaam om die koek uit die kar te haal.

As jy dit wil beproef kan jy gekleurde sjokoladeknope koop of soos ek sommer self die sjokolade kleur. Al wat ek gedoen het, was om die gesmelte witsjokolade met poeierkleursel te meng tot ek die regte kleur gekry het. Toe maak ek dit. Moet eerder nie jelkoekkleursel gebruik nie, want ek vermoed die jel sal jou sjokolade laat splyt en dan sit jy met ’n gemors.

My gas vir die episode is my vriendin Rina Coetzee van Prieska, die buurdorp. Ons twee het omtrent pret gehad in my kombuis.

Die Koektannie en haar vriendin Rina Coetzee.

Sy kom toe mos by my aan met ’n vliegtuig. Hoor hier, die mense van Prieska is nie van hier nie. Hulle boer al lank met pimpers (pistachioneute). Ek het toe ’n bietjie van die pimpers fyngekap en bo-op die nat sjokoladekwashale gesprinkel sodat dit in die sjokolade set. Dit gee tekstuur aan die sjokolade en ek hou daarvan.


Stap een: Gebruik gesmelte witsjokolade. As jy gekleurde kwashale wil maak, meng so ’n bietjie kleurselpoeier van jou keuse by.

Stap twee: Skep so ’n bietjie sjokolade op ’n vel waspapier, tinfoelie of ’n ander buigbare oppervlak.

Stap drie: Om die kwashale te maak, vee die sjokolade met ’n paletmes. Maak seker jy smeer nie die hele ding plat nie; daar moet op die punt genoeg sjokolade oorbly om dit ’n sterk basis te gee.

Stap vier: Laat die hale afkoel. Sodra die sjokoladehale hard is, haal dit versigtig af.

Stap vyf: Druk die hale aan jou koek vas met versiersuiker.

  • Nuwe episodes van Die Koektannie se tweede seisoen sal Dinsdae om 18:30 op VIA uitgesaai word, met heruitsendings op Saterdae om 17:30.