Zoo-koekies, een van my gunstelingkoekies.

Wanneer ek een eet, voer dit my terug na toe ek klein was.

’n Verjaardagpartytjie was onvolledig sonder ’n Zoo-koekie op die spyskaart.

Nou is dit snaaks wanneer ek daaraan dink dat die eenvoudige koekie so ’n indruk op my gemaak het.

Dalk was dit omdat dit die enigste tyd was wanneer ek hulle kon eet.

Die simpel prentjie van ’n diertjie bo-op en die gestry tussen my en my boeties oor wie soek watter een, het gehelp om dié koekie op ’n troon in my geheue te plaas.

Zoo-koekies is so eenvoudig om te bak. Dit is eintlik net ’n eenvoudige soetkoekie wat dan versier word met koninklike versiersel.

Koninklike versiersel bestaan uit eierwitte, versiersuiker en water.

Jy kan dit natuurlik dan liggies geur met die geursel en kleursel van jou keuse.

So vyf jaar gelede het fênsie versierde soetkoekies gewild geraak en bak-bloggers, soos sweetopia en bakeat350, het koekies versier en hulle gebak as kunswerke begin uitstal.

Dit is ook toe dat die gogga my gebyt het.

Nodeloos om te sê dat dit dan natuurlik gepaardgaan met die obsessiewe koop van elke koekiedrukker wat jy sien.

Let wel, daardie perfekte versierde koekies, wat jy op Pinterest sien, lyk makliker as wat dit in die werklikheid is om te doen.

Die fyn spuitwerk verg geduld en ondervinding.

Leani en haar "Zoo-koekies".

Leani, my vriendin van Bloemfontein, besit ’n koffierestaurant in die stad.

Ek kon nie aan iemand meer gepas dink om mee saam koekies te bak nie.

Dit was vir my uiters snaaks toe ek besef dat Leani nie veel daarvan hou om kleingoed soos beskuitjies of koekies te bak nie.

Met ons voorskote aan het ek maar gehoop en gebid dat my tegnieke Leani sou beïndruk.

Ná ’n dag van pret in die kombuis het ons by Douglas se aftreeoord gaan kuier en die koekieliefde met die ou mense gedeel.

Hier volg die resepte en wenke waarvan ek en Leani gebruik gemaak het om ons vrolike koekies te bak. 

Tuisgemaakte Zoo koekies 

Wenk: Die belangrikste elemente van hierdie resep is die vorm van die koekies en die versiersuiker.

Verwyder rysmiddels van jou beslag om seker te maak die koekies rek nie in die oond en verloor hul vorm nie. 

Suikerkoekies – resep 

Bestanddele

2,5 ml (½ t) sout 
250 ml (1 k) sagte botter 
250 ml (1 k) suiker 
1 eier 
15 ml (1 e) melk 
5 ml (1 t) versiersuiker (waarop die deeg uitgerol word) 

Metode 

Sif die meel en sout saam.

Room die botter en suiker saam in ’n aparte bak.

Voeg die eier by en klits tot die mengsel gekombineer is.

Plaas die klitser op matige spoed en voeg die meel/sout by.

Laat die deeg twee uur in die koelkas rus voor dit uitgerol word.

Bak die uitgedrukte vormpies 10 min. teen 180 °C. 

Koninklike-versiersel 

Bestanddele

450 g (4 k) versiersuiker 
4 eierwitte 
5 ml (1 t) suurlemoensap 
5 ml voedselkleursel van jou eie keuse 

Metode

Klits die eierwitte tot die mengsel skuimerig is.

Skakel die klitser op lae spoed en sif die versiersuiker stadig by.

Voeg die suurlemoensap by.

Klits die mengsel tot dit dik word.

Voeg die kleursel bietjie-bietjie by.

Meng die kleure apart as jy meer as een kleur gaan gebruik.

As jy wit versiersuiker wil gebruik, moet jy onthou om ’n bietjie te hou. 

Wenke

As jy die koekie met versiersuiker wil bedek, moet jy eers met ’n dikker versiersuiker die rand van die koekie omring.

Hierdie beperkende randjie sal keer dat jou versiersuiker oral oor die koekie loop.

Maak dus seker dat jou versiersuikers se diktes verskil.

Gebruik water om die dikte van die versiersuiker aan te pas.

Vul ’n versiersakkie met die versiersuiker en maak seker dat jy ’n dun spuitkoppie gebruik.

Moenie kyk waar jy spuit nie; kyk eerder waarheen jy spuit.

Trek ’n draad versiersuiker liggies totdat die rand van jou koekie omring is.

Hou die spuitnaald hoog sodat die versiersel val waar hy moet wees.

Gebruik ’n tandestokkie om die vulsel mooi te versprei.

Dit is belangrik om so stadig moontlik met die versiersuiker te werk.