Deesdae bak mense die koek omdat die mayonnaise die koek heerlik klam maak.  Ek en Jo Fritz het dié mayonnaise-sjokoladekoek versier met sjokoladeharte, net reg om jou geliefde mee te bederf.

Die Koektannie en Jo Fritz.

Jo Fritz het geen bekendstelling nodig nie. Hy was een van die deelnemers aan Kokkedoor en kom van Calvinia. Hy is in murg en been ’n Noord-Kaap-kind, nes ek, en van die eerste keer toe ek hom op die kassie gesien het, het ek van hom gehou.  Sy joviale persoonlikheid en liefde vir Karookos maak hom die perfekte ou om voor te bak.

Kokkedoor Jo Fritz.

Ons hier op die platteland tussen niks en nêrens moet soms innoverend wees as dit by bak kom. Ons kan nie net in ’n winkel instap en verwag al die bestanddele wat ons nodig het vir  ’n resep sal op die rak wees nie. Party mense op plase in die Karoo gaan net een keer per week dorp toe. Wanneer jy dan lus raak vir bak, skort daar soms ’n bestanddeel of twee.

Toe ek hierdie outydse sjokoladekoekresep raak lees, het ek onmiddellik daaraan gedink. Jy sal verbaas wees as jy hoor een van die bestanddele is mayonnaise. Die resep het gewild geraak in die depressiejare in Amerika. Pleks daarvan om olie en eiers te gebruik, gooi jy mayonnaise in die beslag. Sommige mayonnaiseverskaffers het selfs die resep op hulle bottels gedruk.

Die mayonnaise-sjokoladekoek.

Hier is die resep vir mayonnaise-sjokoladekoek

Bestanddele

Maak twee lae
3 k ongesifte meel
1 ½ k suiker
? k kakao
2 ¼ t bakpoeier
1 ½ t koeksoda
1 ½ k mayonnaise
1 ½ k water
1 ½ t vanielje

Metode

Smeer twee koekpanne met olie. Plaas waspapier op die bodems van die panne. Sif al die droë bestanddele saam in ’n groot bak. Roer die mayonnaise by. Roer geleidelik die water en vanielje by en roer tot glad en gemeng. Giet die mengsel in die twee koekpanne. Bak vir 30 minute in ’n oond wat tot 180 °C verhit is of tot die koek “terugspring” wanneer jy daaraan raak. Haal die koek uit die oond en laat dit afkoel. Haal die koek uit die panne.