Die groot dag wanneer ’n baba gedoop word, word in die meeste kulture gevier met ’n asemrowende koek. 

Dit is net jammer jy as baba kan gewoonlik nog nie teen daardie tyd ’n happie van die koek kry nie. Ek moes al vreeslik baie doopkoeke bak, wat dan pryk as die middelpunt van die teetafel wat kreun onder die eetgoed. 

In die ou dae het mense die boonste laag van hulle troukoek in die vrieskas gebêre en dit dan gebruik as hul eersgeborene se doopkoek. 

Dit, vermoed ek, is seker ook een van die redes dat vrugtekoeke as troukoek so gewild was in die ou dae. 

Vandag, met al die naakte sponskoeke in die mode, is dit gevaarlik om die boonste laag van jou troukoek as doopkoek te gebruik.

Nadie, my vriendin van Prieska, het onlangs haar babadogtertjie gedoop, en ek het haar genooi om saam met my in Die Koektannie se kombuis te kom bak. 

Ek het besluit om ’n witsjokolade-brownie of ’n blondie te bak en dit dan met fondant oor te trek. Enige koek wat met fondant bedek word, moet in staat wees om die gewig van die fondant te hanteer.

Daar is ook deesdae ’n neiging om sponskoeke wat netjies en glad versier is, met Switserse botterversiersel te bedek eerder as fondant. Die keuse is joune; bak dit waarmee jy gemaklik is.

Nadie se doopkoek.

Witsjokolade is een van die hoofbestanddele wat die digtheid van die beslag beïnvloed.

Maak seker dat jou gesmelte botter stadig afkoel sodat die bestanddele in die beslag sonder enige komplikasies kan kombineer. Moenie skrik as die koek se tekstuur ’n bietjie meer kompak uitkom nie. 

Vir die roomkaasversiersel moet die roomkaas in twee aparte bakkies verdeel word.

Meng twee eiergele met een van die roomkaashelftes sodat die versiersuiker kan emulsifiseer.

Die bestanddele moet bietjie-bietjie by die witsjokolade gevoeg word.

Maak seker dat die sjokolade nie te vinnig stol nie. Kombineer dadelik die bestanddele nadat die sjokolade gesmelt is. Die ganache sal stadig begin vorm.

Die etiket en die plastieseversierselkroon is die twee elemente wat die meeste kreatiewe insette verg.

As jy wil hê die versiersel moet verhard, moet jy verharder byvoeg. Gebruik gerus enige vormdrukkers wat die nodige figuurtjies kan maak.

Maak seker dat jy die vormpies se blaartjies met ’n rollertjie rol sodat die figuurtjie bietjie lewe kan kry.

Die belangrikste aspek van hierdie proses is om geduld te hê. Die figuurtjies moet deeglik gevorm word en kans gegee word om te verhard. 

Wanneer jy gereed is om die koek met die plastiese versiersel te bedek, moet die versiersel baie dun uitgerol word.

Ten einde dit te lig, kan n mens bloot die versiersel oprol.

Plaas die koek voor jou en rol bloot die versiersel oor die koek, van agter tot voor.

Gebruik ’n koekskraper om liggies die voutjies weg te vryf.

Rek ook die nate van die versiersel sodat dit mooi netjies oor die randjies pas.

Die versiering van die koek is totaal en al afhanklik van jou persoonlike smaak.

Jy kan vooraf kraletjies en blommetjies koop om die koek mee af te rond.