Nuwe episodes van Die Koektannie se tweede seisoen sal elke Dinsdag om 18:30 op VIA uitgesaai wprd, met heruitsendings op Saterdae om 17:30.

Daar hang êrens in jou ouma se kombuis ’n antieke koekpan teen haar muur, en jy het nog altyd gedink dit is ’n jellievorm, of sal ek sê dis wat ek gedink het.

Hierdie koekpanne was in die 1950’s en ’60’s hoogmode en almal het sulkes gekoop, en kan jy glo dat dit nou weer cool is?

Die Bundt-koek is afkomstig van ’n Europese briocheagtige koek genoem die Gugelhupf en was baie gewild in Joodse gemeenskappe. Onlangs het hierdie panne ’n terugkeer gemaak en word selfs in silikon vervaardig.

Gewoonlik het die pan gleuwe of patrone teen die kant en ’n skoorsteen in die middel. Dit beteken dat meer van die beslag aan die oppervlak van die pan raak en so vinniger gaar word en die temperatuur ewerediger versprei.

Enige koek kan in ’n Bundtpan gebak word en dis nie nodig om tonne versiersel te maak om dit mee te versier nie, die koek word gewoonlik naak voorgesit met ’n sprinkel versiersuiker of ’n eenvoudige glassuursel.

Eenvoud is die wagwoord; die mooi van hierdie koek is in die patroon van die pan.

Iets wat jou wel soms kan kortwiek, is dat die koek aan die pan kan vaskleef, maar probeer my kleefwerende konkoksie om dit te vermy.

Resep vir Bundt-stapel 
Bestanddele

30 ml klapperolie
30 ml koekmeel
30 ml kookolie

Metode

Smelt die klapperolie in die mikrogolf en meng met die koekmeel en kookolie. Gebruik ’n kwas en smeer die pan met die mengsel oral op die oppervlak van die pan. Besprinkel dan die pan met koekmeel. Dit behoort te keer dat die koek vassit.

Vandeesweek bak ek ’n Bundt-stapel saam met Irma Wium van De Doorns, ons dollie twee Bundts op en stapel hulle dan bo-op mekaar.