Die span by VIA (DStv-kanaal 147) se mediese program Noodlig deel wenke wat jou lewe in ’n noodsituasie kan red.

Yaseen Khan (ILS-paramedikus) vertel ons meer oor hoe om te reageer as iemand naby aan jou ’n epileptiese aanval kry.

  • Moet nie die persoon vasdruk of oorweldig nie.
  • Die persoon se liggaam mag styftrek. Probeer om die persoon so gemaklik moontlik te maak. Maak seker die persoon se kop word op ’n sagte oppervlak geplaas.
  • Maak seker die persoon se mondarea bly skoon. Verwyder enige vloeistowwe soos skuim wat mag voorkom.
  • Plaas die persoon op hul sy en probeer om hul lugweg oop te hou.
  • Monitor die intervalle wat tussen die aanvalle plaasvind sodat ’n mens kan vasstel hoe lank elke aanval duur.
  • Hou alle harde, gevaarlike of bedreigende objekte weg van die persoon af. Die persoon mag dalk onverwags beweeg en verdere beserings opdoen.
  • Moet niks in die persoon se mond plaas nie.

Wanneer bel ek die ambulans?

  • As dit ’n kind se eerste epileptiese aanval is.
  • As die aanval langer as 5 minute duur.
  • As daar nog ’n aanval amper dadelik ná die eerste aanval plaasvind.
  • As die persoon nie wakker word ná die aanval nie.
  • As die persoon verdere beserings opdoen gedurende die aanval.

Hierdie artikel gee slegs algemene mediese kennis.

As jy in een van die bogenoemde mediese situasies beland, kan dit as wenk gebruik word. Maar dis noodsaaklik dat jy wel in so ’n noodsituasie dadelik ’n dokter raadpleeg of ’n ambulans ontbied.

  • Nuwe episodes van Noodlig word elke Woensdag om 21:00 vertoon met heruitsendings Sondae om 22:00.