Demi Lee 

Demi Lee Moore (28), wat van Durbanville in Kaapstad afkomstig is, het vir dié sangkompetisie ingeskryf nadat haar sussie vanjaar in ’n baie groot motorongeluk betrokke was.

“Ek het daarna net gevoel ek is ’n ander mens. Ek was elke aand op my knieë, en vandat ek so begin bid het, het my lewe soveel beter geword,” vertel Demi Lee.

Volgens die sangeres was dit ’n moeilike besluit vir haar om vir Die Kontrak in te skryf omdat sy haarself nie in ’n posisie wou plaas waar sy beoordeel word nie.

“Die eerste persoon wat ek gevra het, was my suster. Ek wou haar reaksie sien. Toe ek Die Kontrak noem, sê sy vir my: ‘Doen dit!’ ”

Die sangeres Monique Steyn is haar mentor. Haar grootste inspirasies in die musiekbedryf is internasionale musieksterre soos Jessie J en Céline Dion en die plaaslike sangers Steve Hofmeyr en wyle Worsie Visser. “Ons het altyd Worsie en Steve saam met my pa geluister: Dit is die musiek waarmee ek grootgeword het,” sê sy.

Demi Lee se grootste hoop vir haar musiekloopbaan is dat sy dié kompetisie wen. Dis immers nou of nooit!

“Ek sing al amper tien jaar lank voltyds. Ek was in die verlede by ’n ander platemaatskappy en ek was op ’n sangkompetisie – en elke keer het ek gevoel dit was net nie my tyd nie. En dié jaar voel ek dit is my jaar,” meen sy. 

Die talentvolle sangeres was vir ses maande ’n lugwaardin, en dit was glad nie die beroep vir haar nie, bieg Demi Lee. En as sy nie ’n sangeres was nie? Dan sou sy ’n tandarts wees, sê sy.

Wat sou sy graag wou bereik as sy wel as die wenner van Die Kontrak aangewys word? “Dat ek my eie album kan uitreik en my eie musiek kan sing, want gewoonlik sing ek drie ure van covers by hotelle. Dis wonderlike ondervinding, maar ek wil my musiek sing,” sê Demi Lee.

Ivan 

Ivan Roux (28), ’n pa van twee van Pretoria, het vir Die Kontrak ingeskryf omdat hy alles vir sy kinders wil gee wat hy nooit self gehad het nie.

Hy het moed verloor om aan musiekkompetisies deel te neem nadat hy reeds vantevore aan een deelgeneem het en nie ver gevorder het nie.

“Ek is nou geestelik ouer as die vorige keer wat ek aan so ’n kompetisie deelgeneem het – en ek sien myself nêrens anders as onder die toptwee nie,” het hy in ’n vorige onderhoud vertel. 

Ivan kyk op na musikante soos Dewald Wasserfall, wat ook sy mentor in die sangkompetisiereeks is, en ook die Skepe-sanger Jo Black oor die manier hoe hulle musiek skryf. Hy kyk ook baie op na die sangeres Tarryn Lamb, wat ook ’n mentor op Die Kontrak is, voeg hy by.

Sy grootste hoop vir sy musiekloopbaan is om met mense te praat. “Ek het ’n ruk terug vir die Here gesê: Gebruik my. My musiektalent is ’n Godgegewe gawe.”

En sy grootste vrees as kunstenaar? 

“Om te stagneer. Ek wil nie ’n kunstenaar wees wat een of twee liedjies uitreik nie. Ek is nie die soort kunstenaar wat gaan lê nie. Ek wil altyd beter wees,” vertel Ivan. 

En wat sal sy eerste doelwit wees as hy wel Die Kontrak wen? “Om ’n fenomenale album uit te reik,” laat hy hoor. Ivan wil hê mense moet weet wie Ivan Roux is, en hy wil met sy eerste album reeds sy storie oordra sodat mense sy hart kan sien en kan sien wat in sy kop aangaan.

  • Die wenner van Die Kontrak sal amptelik op Vrydag 23 November by die eerste Afrikaans Is Groot-megakonsert van 2018 by die Sun Arena in Pretoria aangekondig word.
  • Nuwe episodes van Die Kontrak word elke Woensdag om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai met heruitsendings op Vrydae om 19:00, Saterdae om 21:00 en Sondae om 18:00. Die JOOX-app is die amptelike stroomvennoot van Die Kontrak.