Hier op Huisgenoot.com deel hy weekliks slim raad en praktiese inligting oor daai mediese vrae wat jy liefs nie wil vra nie.

Oktober is borskanker-bewusmakingsmaand. Volgens die nuutste data van die Wêreld Gesondheidsorganisasie is daar vyf jaar gelede 1,7 miljoen nuwe gevalle van borskanker gediagnoseer met ’n addisionele 6,3 miljoen vroue wat alreeds daarmee leef op daardie tydstip.

Daar word geskat dat meer as ’n 1 500 nuwe gevalle van borskanker in mans jaarliks gediagnoseer word. Alhoewel vroue by verre die hoogste risiko het om borskanker te ontwikkel, moet mans ook bewus gemaak word daarvan dat borskanker nie net ’n toestand is wat vroue raak nie.

Hoe ondersoek mens ’n bors?

Die beste tyd om jou borste self te ondersoek is na ’n warm stort. Staan voor ’n spieël, met jou arms langs jou sye en kyk na enige opvallende verskille as jy jou borste vergelyk met mekaar.

Kyk veral uit vir kleurverskille, opmerklike verskil in grootte, swelling, ’n duidelike verskil in posisie van die tepels en enige rooiheid of velveranderinge van die borste. Lig dan jou arms op na die dak, en kyk vir dieselfde veranderinge.

Na hierdie ondersoek, gaan le rustig op jou bed, plaas jou arm agter jou kop en doen dan die res van die ondersoek soos ek verduidelik in die video hieronder.

KYK HIER NA DIE VIDEO:

Besoek asseblief jou dokter as jy wonder oor enige veranderinge aan jou borste. Met vroeë intervensie kan borskanker behandel word. Die ondersoek word presies dieselfde uitgevoer vir mans.

  • Nuwe episodes van Dokter-dokter wys elke Maandag om 17:30 op VIA (DStv-kanaal 147) met heruitsendings op Sondae om 22:30.