Hier op Huisgenoot.com deel hy weekliks slim raad en praktiese inligting oor daai mediese vrae wat jy liefs nie wil vra nie.

Een van die probleme wat ek gereeld sien, maar waaroor die meeste mense skaam is, is aambeie. Teen die tyd dat pasiënte die moed bymekaar geskraap het om my daaroor te kom spreek, is die probleem reeds gevorderd.

Baie mense is skaam om oor aambeie te praat, en dit is dikwels erge pyn, bloeding van die anus of uitgesakte aambeie wat nie wil teruggaan nie, wat mense uiteindelik dwing om die dokter te spreek.

Wat is aambeie?

Aambeie is niks anders as geswelde bloedvate in die anus nie – soortgelyk aan spatare. Aambeie kan aan die binnekant van die anus, of aan die buitekant van die ringspier ontwikkel.

Die presiese oorsake is nie bekend nie, maar die algemeenste bydraende faktore is:

  • swak dieet;
  • aanhoudende hardlywigheid;
  • volgehoue druk deur byvoorbeeld lang tye op die toilet deur te bring;
  • swangerskap;
  • ’n dieet wat laag in vessel is; en
  • anale seks.

Hoe weet ’n mens jy het aambeie?

Dis ’n baie algemene toestand: Bykans drie uit elke vier volwassenes ontwikkel gedurende sy/haar leeftyd aambeie. Baie mense ervaar nooit simptome nie. Die algemeenste simptome van aambeie:

  • aanhoudende jeuk rondom die anus;
  • bloeding met stoelgang – gewoonlik helder bloed op die oppervlak van die stoelgang;
  • ’n pynlike massa buite die anus; en
  • swelling rondom die anus.

Wanneer moet jy jou dokter sien?

Gaan spreek jou dokter as jy enige van die volgende ervaar:

  • erge pyn en ongemak in jou anale area;
  • aanhoudende of verergerende bloeding;
  • pyn en koors;
  • wanneer jy nie stoelgang kan passeer nie;
  • aambeie wat groter en meer pynlik raak; en
  • aambeie wat nie self wil reduseer nie.

Wat kan jy by die dokter se spreekkamer verwag?

As jy wonder of jy aambeie het, moenie wag nie. Gaan besoek dadelik jou dokter. Dit is te verstane dat jy skaam gaan wees daaroor, maar onthou: Jou dokter sien dié algemene probleem bykans daagliks. 

Ná jou dokter jou geskiedenis geneem het, gaan hy ’n fisiese ondersoek doen. Jou dokter gaan jou vra om jou klere en onderklere uit te trek om die ondersoek maklik te kan uitvoer. Daarna gaan jou dokter jou vra om op jou sy te lê en jou bene na jou borskas op te trek om die anus maklik te kan visualiseer. Jou dokter gaan eers rondom jou anus ondersoek vir enige massas, skeurtjies en tekens van infeksie of verstrengelde aambeie.

Daarna sal jou dokter met ’n handskoen ’n anale ondersoek uitvoer om die omvang van jou aambeie aan die binnekant van die anus te bepaal. Dié ondersoek kan ongemaklik wees, maar behoort nooit seer te wees nie.

Hoe gemaak om aambeie te behandel?

Afhangende van hoe erg jou aambeie is, gaan jou dokter heel waarskynlik jou aanraai om jou dieet te verander, om spesifiek op te let na veselinname, die area rondom die anus so skoon en droog as moontlik te hou, en om te kyk na jou toiletroetine en gewoontes.

Ons skryf algemeen kortisoon-bevattende room of setpille voor wat ook pynverligting bevat. In gevalle waar die aambeie nie teruggedruk kan word in die anus nie, sal jou dokter jou na ’n chirurg verwys vir ’n operasie om die aambeie te hanteer. Dié prosedure is nie aangenaam nie, en kan vir ’n dag of wat ná die prosedure redelik pynlik wees. 

Wat kan jy by die huis doen?

Die belangrikste is om die anale area droog en skoon te hou. Moet onder geen omstandighede enige kombuismiddels of skoonmaakmiddels rondom jou anale area aanwend nie. Sit in ’n bad met louwarm water waarin jy sout opgelos het. Kyk spesifiek na jou dieet en moenie hardlywig raak nie!

Belangrike feit

Aambeie is ’n algemene oorsaak van rektale pyn en bloeding, maar onthou dat ander toestande ook bloeding en pyn kan veroorsaak. Toestande soos rektale kanker, ’n rektale skeur of erge infeksie in die dermkanaal moet uitgeskakel word.

  • Nuwe episodes van Dokter-dokter wys elke Maandag om 17:30 op VIA (DStv-kanaal 147) met heruitsendings op Sondae om 22:30.