Hier op Huisgenoot.com deel hy weekliks slim raad en praktiese inligting oor daai mediese vrae wat jy liefs nie wil vra nie.

Almal raak soms in die oggend wakker en het net nie die krag om op te staan nie. Dit voel asof jy eenvoudig nie kans sien om die dag aan te pak en dinge te laat gebeur nie. Maar kort voor lank is jy aan die gang en voor jy sien, is die dag al goed op dreef. Dit is normaal. Dit gebeur met ons almal. 

Maar dink vir ’n oomblik aan die volgende scenario:

Dit is elke dag ’n stryd om net jou oë oop te maak. Dit voel asof jy wegsak in ’n bodemlose put, jy onttrek jouself aan jou vriende en familie, het geen seksdrang nie, geen eetlus nie, en dit voel asof jy nie in die minste sal omgee as die aarde vandag vergaan nie. Dit is hoe depressie voel.

IS DIT ALGEMEEN?

Daar word beraam dat tussen agt en 12 persent van volwassenes in die meeste lande een of ander tyd in hul lewe aan depressie ly. Dit klink dalk min, maar as jy dit in perspektief plaas, sal bykans 4,5 miljoen mense in Suid-Afrika in hul leeftyd met depressie sukkel.

DIE DIAGNOSE IS NIE ALTYD EENVOUDIG NIE

Die diagnose van depressie is nie so eenvoudig nie. Dit word dikwels miskgekyk aangesien algemene praktisyns daagliks al meer pasiënte sien en die konsultasietyd korter en korter raak. Algemene praktisyns is ook nie altyd bedag op die tekens van depressie nie. ’n Pasiënt stap nie noodwendig by ’n spreekkamer in en kondig aan dat hy of sy moontlik met depressie sukkel nie. Dit word dus misgekyk en en nie behandel nie.

Hoe lyk depressie?

Depressie behels veel meer as net ’n gevoel van “af” wees. As jy enige van die volgende simptome het, gaan dokter toe. Hierdie simptome is dikwels voortslepend en die handboeke skryf dat dit minstens twee weke teenwoordig moet wees, maar ek glo jy kan nie tyd koppel aan dié simptome nie. As iets buitengewoons pla, moet jy daarna laat kyk.  

  • ’n Aanhoudende depressiewe gemoed die grootste gedeelte van die dag, die meeste dae.
  • Geen belangstelling in dinge waarin jy voorheen belanggestel het nie. 
  • Verandering in eetlus/gewig: of ooreet, of bykans niks eet nie. 
  • Slaapprobleme: slaap uitsonderlik baie of baie min, of erg onderbroke slaap.
  • Jou libido is daarmee heen.
  • Erge moegheid of lusteloosheid bykans elke dag.
  • Sukkel om te konsentreer op dit wat jy moet doen (werk of by die huis).
  • Jy voel asof jy nutteloos is, jou selfbeeld is baie laag en jy dink ander mense voel niks vir jou nie.
  • Selfdood- of selfbeseringsgedagtes.
  • Voortdurende angstigheid.
  • Die gevoel dat jy nie veel vir jouself of vir ander beteken nie

Dit is ook belangrik om te onthou dat jy al hierdie simptome kan ervaar as jy deur ’n groot, onstellende gebeurtenis (soos die afsterwe van ’n geliefde, trauma, ’n nuwe werk, huis of dorp) gaan. Dit beteken nie noodwendig jy is depressief nie, en dit is gewoonlik kortstondig. Dit raak eers ’n probleem wanneer jou daaglikse funksionering, soos om na jouself of jou gesin om te sien, of om jou werk te kan doen, daaronder ly.

My BESTE RAAD as jy vermoed jy sukkel met depressie: NOEM DIT PRONTUIT AAN JOU DOKTER. ’n Dokter wat sy sout werd is, sal dit beslis nie ignoreer nie en die moontlikheid verder ondersoek. Maar wees ook bedag op dokters wat sommer net depressiemedikasie voorskryf. Vra jou dokter hoekom hy dink jy die medikasie moet neem. As hy nie goeie, duidelike redes kan gee nie, moet jy mooi dink.

Ander siektetoestande kan ook depressiesimptome naboots. Jou dokter sal altyd eers ’n ander oorsaak vir jou simptome, soos skildkliersiekte, uitskakel en kan dus bloedtoetse aanvra.

“MAAR GAAN EK VERSLAAF RAAK AAN DIE MEDIKASIE?”

Die meeste pasiënte wat ek elke dag sien, het ’n paar bekommernisse as jy van depressie begin praat.

1. Depressie is nie ’n regte diagnose nie. 

DIT IS! Depressie is ’n siektetoestand soos enige ander en kan erg buite beheer raak as dit onbehandeld bly. Jou funksie by die werk en by die huis word ingeperk.

2.  Depressie-medikasie is verslawend.

Glad nie waar nie! Die meeste middels wat gebruik word om depressie te behandel is nie gewoontevormend nie. 

3.  Depressiemedikasie gaan my weer ’n gelukkige mens maak.

Dit is belangrik om te onthou dat daar nie iets soos ’n “happy pill” bestaan nie. Depressie is ’n komplekse toestand en saam met medikasie is dit belangrik om ook psigoterapie (sielkundige sessies) te ondergaan. Depressie het dikwels ’n onderliggende sielkundige oorsaak en dit moet ondersoek en ook behandel word. 

4.  As ek eers met depressiemedikasie begin, moet ek dit vir altyd neem.

Dit is nie noodwendig waar nie. Maar moet ook nie dink dat een maand se behandeling jou totaal gaan genees en dan is als weer reg nie. Behandeling neem tyd.

5.  Depressiemedikasie werk dadelik, reg?

Die medikasies wat gebruik word om depressie te behandel begin nie dadelik werk nie. 

Inteendeel, die medikasie kan soms aan die begin van behandeling jou angstigheid vererger. Jou dokter sal hieraan aandag gee. Soms is dit selfs nodig om vir ’n kort tydjie ’n addisionele angswerende medikasie saam met jou antidepressant voor te skryf.

Depressie kan baie doeltreffend behandel word. Die geheim is om nie moed op te gee as jy nie binne ’n paar dae beter voel nie. Dit gaan beslis nie oornag gebeur nie. Gesels met jou dokter en kliniese sielkundige.

  • Nuwe episodes van Dokter-dokter wys elke Maandag om 17:30 op VIA (DStv-kanaal 147) met heruitsendings op Sondae om 22:30.