Suid-Afrikaanse mans het ’n een-uit-nege-kans om prostaatkanker te kry. Anders as testikulêre kanker, wat hoofsaaklik onder jonger mans voorkom, is prostaatkanker algemener onder ouer mans.

Tog is sifting vir prostaatkanker nie wat dit behoort te wees nie. Baie mans is bang vir die sogenaamde “vingertoets”.

Wanneer moet ’n mens getoets word?

Kenners beveel aan dat ondersoeke vanaf die ouderdom van 45 of 50 jaar gereeld gedoen word. Mans wat ’n hoër risiko vir prostaatkanker het, behoort reeds van 40 af gereeld vir ondersoeke te gaan. Dit sluit mans in by wie se pa, broer of seun prostaatkanker op ’n vroeë ouderdom gediagnoseer is, swart mans en mans met ’n BRCA-geenmutasie. 

Vanaf die ouderdom van 50 behoort alle mans minstens elke jaar of twee vir ’n siftingsondersoek te gaan. Ek raai ook my pasiënte aan om enige verandering in urienstroom, ereksies, onverklaarbare buikpyn, verandering in stoelganggewoontes en ongewone gewigsverlies te laat ondersoek. ’n Prostaatondersoek is deel hiervan.

Hoe werk die toets?

Kenners oor die wêreld meen die PSA-bloedtoets is voldoende as siftingsondersoek en dat die digitale rektale ondersoek (oftewel, die gevreesde “vingertoets”) nie noodwendig nodig is nie. Tog is daar kenners wat steeds glo ’n rektale ondersoek is ’n belangrike metode om sekere kankersoorte op te spoor.

’n Bloedtoets is eenvoudig en die uitslag is binne ’n dag of twee beskikbaar. Die uitslag sal bepaal of nog ondersoeke nodig is. 

Met die rektale ondersoek gaan jou dokter met die vinger via die rektum voel of die prostaat vergroot is, of daar ’n tasbare massa op die prostaat is en of jou prostaatoppervlak normaal is. Die ondersoek is wel ’n bietjie ongemaklik, maar dit behoort nooit seer te wees nie. 

Onthou: Nie alle vergrote prostate is kankeragtig nie. Soos die jare aanstap, kan die prostaat vergroot (dis bekend as benigne prostaathiperplasie). ’n Swakker urinestroom is gewoonlik ’n teken hiervan. Alle mans moet egter gereeld hul prostaat laat ondersoek, want jou gesondheid is kosbaar.

Het jy ’n vraag vir dr. Owen Wiese? Gaan na sy Facebookblad om met hom te gesels.

  • Dokter-Dokter word elke Maandag om 17:30 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai, met heruitsendings op Sondag om 22:30.