As daar een klagte is wat ek byna daagliks kry, is dit van vroue wat warm gloede ervaar. Dit word dikwels beskryf as ’n erg ongemaklike periode waartydens dit voel asof die vrou van al haar klere en selfs juwele wil ontslae raak. 

Die gloede het verskeie oorsake en hoewel dit bykans nooit gevaarlik is nie, is dit ongemaklik en soek pasiënte gereeld na ’n oplossing vir die probleem.

Die algemeenste oorsake van warm gloede sluit in:

Menopouse en peri-menopouse

Een van die algemeenste oorsake van gloede is menopouse of die periode wat dit voorafgaan. Kenners meen die daling in estrogeenvlakke is hiervoor te blameer. 

Voorskrifmedikasie

’n Newe-effek van sommige medikasie is warm gloede. Veral middels soos opioïede, sommige antidepressante en middels wat vir osteoporosebehandeling gebruik word.

Skildklierprobleme

’n Ooraktiewe skildklier lei daartoe dat die metaboliese prosesse in die liggaam vinniger plaasvind en een gevolg hiervan is warmgloede. Dit verskil egter van “ware” warm gloede deurdat pasiënte eerder hitte-intolerant is en dus nie warm weer en omstandighede kan hanteer nie.

Omgewingsfaktore

Warm vertrekke, weersomstandighede en materiaal wat hitte terughou is soms algemene faktore wat oorgesien word. 

Oorgewig wees

Daar is ’n duidelike verband tussen oorgewig wees en gloede.

Sommige kosse

Sterk kosse soos kerrie kan jou in ’n sweet laat uitslaan, maar sommige mense is salig onbewus van intoleransie of selfs allergieë vir sekere kossoorte en kosgroepe. Dit kan dan ook lei tot gloede. 

Emosionele toestande

’n Goeie beskrywing van oormatige angstigheid se fisieke simptome is onder meer sweterigheid en warm gloede. Strestoestande kan beslis lei tot gloede.

Infeksiesiektes

Infeksies, hetsy viraal of bakterieël, kan weens die immuunrespons van die liggaam tot gloede lei. Soms is ’n mens nie eens bewus van ’n infeksie nie, en is die gloede jou enigste simptoom! 

Wat kan jy doen aan warm gloede?

Ek beveel altyd aan dat pasiënte “boekhou” van wanneer die gloede toeslaan, hoe lank dit duur, of dit voorafgegaan word deur ’n spesifieke voorval of aktiwiteit, en hoe lank dit duur. Soms is daar ’n duidelike patroon en kan dit baie help om te verklaar wat die moontlike oorsaak is.

As jy steeds onseker is, besoek jou dokter. ’n Deeglike fisieke ondersoek openbaar soms die antwoord. Dikwels sal jou dokter ook ’n paar bloedtoetse aanvra. Neem ook alle medikasie en aanvullings wat jy gebruik saam na jou doktersbesoek.

Gloede kan enigiemand warm onder die kraag laat. Dikwels is daar ’n eenvoudige verklaring, maar soos met alles in medisyne weet ons soms nie wat die oorsaak is nie. Simptomatiese behandeling kan soms help as ’n duidelike verklaring nie gevind kan word nie.

As daar ’n duidelike hormonale oorsaak gevind word, soos skildklierprobleme of menopouse, kan hormoonterapie verligting bring.

Hoewel studies op natuurlike produkte dikwels klein is en nie deurslaggewende data oplewer nie, word beweer natuurlike produkte soos aandblomolie (evening primrose oil) kan verligting bring. Daar is ook medikasies op die mark wat jy kan probeer.

Soos altyd, as jy nie seker is nie, gesels met jou dokter! Want onthou: jou gesondheid is kosbaar.

  • Nuwe episodes van Dokter-dokter wys elke Maandag om 17:30 op VIA (DStv-kanaal 147) met heruitsendings op Sondae om 22:30.