In VIA en Coleske Artists se splinternuwe televisieprogram gaan die bekende sangers Elvis Blue, Tarryn Lamb, Monique Steyn en Dewald Wasserfall uit die talle aansoeke agt van die talentvolste kandidate kies waarvan een met ’n platekontrak wegstap.

Die agt sangers gaan elkeen die kompetisie, wat op die kassie uitspeel, met ’n Coleske Artists-platekontrak aanpak. Maar aan die einde van elke episode sal die grootbaas, Arnold Coleske, een kontrak opskeur.

Die deelnemers sal ook elke week deur ’n paneel van drie kenners beoordeel word. Die paneel bestaan uit die musieksterre Corlea Botha en Theuns Jordaan en Barry Pretorius, die kreatiewe regisseur van die Afrikaans is Groot-megakonserte.

Slegs die wenner sal aan die einde van die reeks met ’n platekontrak, wat deur Arnold Coleske geteken is, wegstap.

Elvis Blue, Dewald Wasserfall, Monique Steyn en Tarryn Lamb. Foto: Verskaf.

Die opwindende program sal deur Afrikaanse musiek se goue broer-en-suster-duo, Bobby en Karlien van Jaarsveld, aangebied word.

As jy die volgende groot Afrikaanse kunstenaar is, skryf nou in.

Skryf só in

Daar is twee maklike maniere om in te skryf. Neem eenvoudig ’n video waar jy jou gunsteling-liedjie sing en:

  1. Laai dit op die NetNuus-app se video-afdeling as jy wil seker maak jou video word nie misgekyk nie. Sê ook vir ons in dié video wie jy wil hê moet jou mentor wees. Onthou om die hutsmerk #diekontrak te gebruik.
  2. Laai jou oudisie-video op Facebook of Instagram, tag die mentor van jou keuse en gebruik die hutsmerk #diekontrak.

Onthou om te sê wie jy is, hoe oud jy is en waar jy vandaan kom.

Inskrywings open Maandag 21 Mei 2018 en sluit Saterdag 30 Junie om middernag.