Enkelouerskap is ’n werklikheid oor die wêreld heen.

Maar net omdat ’n kind net een ouer het, beteken dit nie daardie gesin hoef finansieel swaar te kry nie. 

As jy ’n enkelouer is, het Jeanette raad vir jou.

Een uit elke twee kinders het nie ’n pa se handtekening op hul geboortesertifikaat nie.

’N MAN IS NIE ’N PLAN NIE

Jeanette se boodskap aan enkelma’s is eenvoudig: ’n Man is nie ’n plan nie. “Jy moet jou eie planne maak,” sê sy. 

Dit beteken jy as enkelouer moet ’n plan hê vir jou finansies en moet daarby bly. 

Belangriker nog, sê Jeanette, is om kenners te raadpleeg. 

“Van Momentum se navorsing het gewys mense wat in beheer van hul finansies is, het twee goed gemeen: Eerstens het hulle ’n begroting waarby hulle hou en tweedens het hulle ’n finansiële adviseur by wie hulle gereeld aanklop,” sê Jeanette. 

BESKERM SO JOU KIND

Stel jou voor: Jy as enkelouer kom iets oor, byvoorbeeld ’n motorongeluk. 

Wie sal vir jou kind sorg? Hoe tref ’n mens voorsorg vir jou kind?

“Goeie lewensversekering en goeie ongeskiktheidsdekking is onontbeerlik,” sê Jeanette. 

“As iets met jou gebeur en jy kan nie verder werk nie, het jy niemand op wie jy kan terugval vir ’n tweede inkomste nie. Jy het nie ’n ridder op ’n wit perd nie: Jy moet jou eie ridder wees.”

KRY ’N NOODFONDS

Vir minder ingrypende rampe het ’n mens ’n ander plan nodig. 

’n Mens weet nie wat kan skeefloop nie – ’n gebarste band of ’n stukkende wasmasjien. 

Jeanette stel voor jy maak seker jy het ’n noodfonds in ’n spaarrekening waartoe jy maklik toegang het. 

“’n Goeie bedrag om na te werk is sowat drie maande se salaris,” sê Jeanette.

BEGIN DADELIK SPAAR

Jeanette se boodskap aan enige ouer is om te begin spaar die dag wat ’n kind gebore word. 

“In Suid-Afrika styg die koste van opvoeding elke jaar met 4% meer as inflasie,” sê Jeanette. 

“As jou kind dus vanjaar in gr. R is, sal jou kind se opvoeding jou sowat R1,3 miljoen kos in ’n gewone skool. As jy jou kind in ’n privaat skool wil sit, moet jy omtrent R3 miljoen beskikbaar hê. Die belangrike ding is dat jy onmiddellik begin spaar sodra jy jou baba kry.” 

WIE IS JEANETTE MARAIS?

Ná 28 jaar in die finansiëledienstebedryf is Jeanette Marais, ’n gerekende kenner van finansiële dienste, in Maart 2018 as die adjunk- uitvoerende hoof van MMI Holdings Bpk. aangestel. Dit is dieselfde maatskappy waar sy haar loopbaan begin het.

Jeanette het op ’n plaas in die Vrystaat grootgeword en het as student ’n BSc in wiskunde en wiskundige statistiek aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf – en later ook ’n MBA aan die gesogte IMD-besigheidskool in Switserland.

Haar loopbaan in die finansiële sektor het in 1990 begin by Momentum, waar sy bemarking en verkope behartig het.

Ná bykans nege jaar het sy die maatskappy verlaat waarna sy uitvoerende bestuursposte by verskeie ander finansiële dienste maatskappye behartig het voordat sy na MMI Holdings Bpk. teruggekeer het. 

Jeanette Marais, Theo Voster, Rozanne McKenzie. Foto: Verskaf

  • Nuwe episodes van Geldhelde word Dinsdae om 20:30 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai met heruitsendings op Woensdae om 08:30 en Sondae om 19:30. In samewerking met Momentum.