Menige ouer sal vir ’n mens sê die koms van ’n kleinding in enige huishouding is ’n ervaring wat die gesin verryk, maar terselfdertyd die begroting erg kan knou.

Maar die werklikheid is min ouers is finansieel gereed vir ’n baba en nog minder ouers is gereed vir die volgende 18 jaar van finansiële steun wat kinders nodig het. Jeanette Marais gee geldraad aan ouers.

PAS JOU PLAN AAN

Jeanette raai ouers aan om hul finansiële planne vir die toekoms te verander die oomblik wanneer hulle uitvind ’n baba is op pad. 

Daar is korttermynbehoeftes, soos om ’n babakamer in te rig, waarvoor begroot moet word.

Belangriker nog is dat ’n mens se mediese fonds aangepas moet word om voorsiening te tref vir ’n pienkvoet. Ouers moet nie net die finansiële implikasies van ’n geboorte in ag neem nie, maar moet ook onthou om die nuwe lid van die gesin ’n begunstigde op hul mediese fonds te maak.

MAAK GEBRUIK VAN JOU MEDIESE FONDS

Jeanette raai ouers aan om mooi te kyk na alles wat hul mediese fonds dek sodat hulle die mediese fonds optimaal kan benut. 

Heelwat mediese fondse tref spesiale voorsorg vir swangerskap en geboorte.

Momentum se mediese fonds het byvoorbeeld ’n swangerskapbestuursprogram. Om die lewe te skenk kan duur wees en ’n mediese fonds wat die geboorte van ’n kind dek, sal jou as ouer baie geld spaar.

BEPLAN VIR DIE ERGSTE

“Jou kind gaan baie jare finansieel van jou afhanklik wees; doen dus beplanning rondom jou lewensversekering,” sê Jeanette. 

“Het jy genoeg lewensversekering? Is jou kind as ’n begunstigde op jou lewensversekering bygevoeg?”

Al is dit ongemaklik om vir die ergste te beplan – jou onverwagte dood – kan dit die finansiële implikasies wat met ’n dood gepaardgaan, help troef.

BEPLAN VIR JOU KIND SE TOEKOMS

Nuwe ouers moet sodra hulle van die swangerskap bewus raak, dadelik vir hul kind se opvoeding begin beplan. 

“Navorsing wys dit kos nou ongeveer R90 000 per jaar om ’n kind groot te maak,” waarsku Jeanette.

“Dié bedrag styg skerp teen die tyd dat hulle skool toe gaan – om nie eens te praat van universiteit nie.” 

Jeanette se raad: As jy vandat jou kind gebore word elke maand net R300 wegsit, sal jy ná 18 jaar R200 000 hê wanneer hulle met skool klaarmaak. 

“'n Bedrag van R300 (en R200 000) is miskien oor 18 jaar van nou af nie genoeg nie, maar dis ’n voorbeeld: Dalk kan jy R1 000 per maand bekostig,” voeg sy by.

“Maar die voordeel wat ek dink jy het, is jy hét dan 18 jaar voor jou om te spaar vir jou kind se groot uitgawes. Begin onmiddellik.” 

LEER JOU KIND OM TE SPAAR

Vir Jeanette is dit net so belangrik dat ouers aan die langtermyn- finansiële gesondheid van hul kinders dink, selfs nog verder as die geboorte en die kind se onderrig. 

Om jou kind te leer spaar is vir Jeanette een van “die grootste, belangrikste bydraes tot jou kind se lewe”.  

Haar raad: “Vra vir vriende en familie om nie vir jou kind geskenke te koop nie, maar geld te gee. Sit daardie geld in ’n groot glasbottel waar hulle dit kan sien, maak dit een keer per maand leeg en gaan belê dit in ’n effektebeurs. Wys dan vir hulle op die staat hoe hul geld groei.”

WIE IS JEANETTE MARAIS?

Ná 28 jaar in die finansiëledienstebedryf is Jeanette Marais, ’n gerekende kenner van finansiële dienste, in Maart verlede jaar as die adjunk- uitvoerende hoof van MMI Holdings Bpk. aangestel. Dit is dieselfde maatskappy waar sy haar luisterryke loopbaan begin het. 

Jeanette het op ’n plaas in die Vrystaat grootgeword en het as student ’n B.Sc. in wiskunde en wiskundige statistiek aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf – en later ook ’n M.B.A. aan die gesogte IMD-sakeskool in Switserland. 

Haar loopbaan in die finansiële sektor het in 1990 begin by Momentum, waar sy bemarking en verkope behartig het. 

Ná byna nege jaar het sy die maatskappy verlaat waarna sy uitvoerende bestuursposte by verskeie finansiëledienste maatskappye behartig het voordat sy na MMI Holdings Bpk teruggekeer het. 

geldraad
Jeanette Marais, Theo Voster, Rozanne McKenzie. Foto: Verskaf
  • Nuwe episodes van Geldhelde word Dinsdae om 20:30 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai, met heruitsendings op Woensdae om 08:30 en Sondae om 19:30. In samewerking met Momentum.