In dié episode deel Jeanette haar vier wenwenke oor hoe om ’n begroting op te stel wat jou sal help om makliker deur die maand te kom.

1. Begin met ’n plan

“As ’n mens ’n plan het, weet jy waar jy wil uitkom,” verduidelik Jeanette. Die eerste stap is dus om te weet hoekom jy ’n begroting opstel. Wil jy begroot sodat jou rande jou makliker deur die maand dra en om ’n neseier op te bou? Sodra jy jou doelwit in gedagte het, het jy die basiese grondslag vir jou begroting.

2. Kyk na jou skuld

Maak seker jy neem jou skuld in ag wanneer jy jou begroting opstel. “Daar is goeie skuld en slegte skuld,” verduidelik Jeanette.

“Goeie skuld is langtermynskuld: Dis waar jy ’n bate, byvoorbeeld jou huis, afbetaal. Slegte skuld is korttermynskuld, byvoorbeeld jou kredietkaart en klererekening.

Dis slegte skuld omdat jy geweldig hoë rentekoerse daarop betaal. Doen dus jou bes om eerste van jou slegte skuld ontslae te raak.”

Om dit te doen moet jy kyk na wat jy elke maand inkry en waaraan jy maandeliks jou geld bestee. Skryf al dié bedrae op en jy sal ’n prentjie kry van waar jy jou geld kan benut om jou doelwitte te bereik.

3. Maak jou gesin deel van jou begrotingsproses

“Jou hele huishouding dra by tot hoe jy met jou geld werk, maar dis ’n fantastiese manier om jou kinders te leer hoe om met geld te werk,” sê Jeanette.

4. Hou by jou plan

Jy moet dissipline hê. “Moenie op die korttermyn skielik op ander goed fokus nie,” sê Jeanette. “As jou plan en jou doelwitte dieselfde bly, hou by jou plan.”

Wie is Jeanette Marais?

Ná 28 jaar in die finansiëledienstebedryf is Jeanette Marais, ’n gerekende beleggingskenner, in Maart verlede jaar aangestel as die adjunk- uitvoerende hoof van die MMI Holdings Bpk. – dieselfde maatskappy waar haar luisterryke loopbaan begin het.

Jeanette het op 'n plaas in die Vrystaat grootgeword en as student ’n B.Sc-graad in wiskunde en statistiek aan die Vrystaat Universiteit behaal – en later ook ’n MBA aan die gesogte IMD-sakeskool in Switserland.

Haar loopbaan in die finansiële sektor het in 1990 begin by Momentum, waar sy bemarking en verkope behartig het.

Ná amper nege jaar het sy die maatskappy verlaat waarna sy onder meer poste by PSG, Stanlib, Old Mutual en Allan Gray beklee het.

Geldhelde_Jeanette-Marais_Theo-Voster_Rozanne-McKe
Van links: Jeanette Marais, Theo Voster en Rozanne McKenzie. Foto: Verskaf

  • Nuwe episodes van Geldhelde word Dinsdae om 20:30 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai met heruitsendings op Woensdae om 08:30 en Sondae om 19:30. In samewerking met Momentum.