Die aanbieder van Geldhelde, VIA (DStv-kanaal 147) se geldsakeprogram, klop by Jeanette Marais van Momentum aan vir raad.

Hoe kies ek die regte mediese fonds vir my en my familie?

  • Wat kan jy bekostig? Dis die voor die hand liggende vraag: Jy gaan die maandelikse premie moet kan bybring.
  • In watter toestand is jou gesondheid? Iemand wat byvoorbeeld jonk en gesond is sal nie noodwendig ’n baie duur mediese fonds nodig hê nie. Maar indien jy oud is of dalk baie medikasie gebruik, dan sal jy weer op ’n heel ander plan wees.
  • Indien jy twyfel of ’n mediese fonds finansieel die moeite werd sal wees, hou boek van al jou en jou familie se mediese uitgawes. Jy sal gou agterkom dat jy daardie geld eerder in ’n plan kan belê.

Watter voordele dra die lojaliteitsprogramme van mediese fondse?

Hierdie programme hou jou op hoogte van jou eie gesondheid juis omdat dit jou dwing  om vir gereelde mediese ondersoeke te gaan. Dit dwing jou om na jou gesondheid om te sien en ook bewus te wees van moontlike kondisies waarvan jy nie noodwendig andersins sou weet nie. So ook kan dit help met die voorkoming van groot siektes of kondisies.

Jou fiksheid en hoe aktief jy is word ook op dié programme beloon. Hoe fikser en gesonder jy is, hoe laer is jou risiko tot siekte en laer is jou premies op jou lewensversekering en pensioenvoordele. Hoe gesonder jy is, hoe langer gaan jy lewe en hoe goedkoper gaan jou mediese fonds jou kos.

Die voordele vir jou as mens op beide finansiële en gesondheidsvlak, is groot. Dit maak dan sin om hierdie twee elemente te kombineer. Dis ’n eenvoudige wen-wen-situasie!

Skakel Maandae om 19:30 in op VIA (DStv-kanaal 147) om Geldhelde te volg.