In episode vier van Geldhelde, die geldsakeprogram op VIA (DStv-kanaal 147), raadpleeg die aanbieder, Lucky du Plessis, weer vir Jeanette Marais van Momentum. Jeanette bespreek die belangrikheid van ’n persoonlike finansiële adviseur en ook wat jy uit so ’n verhouding kan en moet verwag.

Wat kan mens van ’n finansiële adviseur verwag?

Die verhouding wat jy met jou finansiële adviseur gaan hê is baie persoonlik gedrewe, dus is dit nie verkeerd om twee of drie adviseurs te ontmoet voor jy op die regte een besluit nie. Julle moet ’n goeie verstandhouding hê. Jy moet ook besef dat jy hierdie persoon by jou persoonlike finansies moet betrek, dus is vertroue ’n groot faktor in so ’n verhouding.

Hoe eerlik moet jy met jou finansiële adviseur wees?

Dit is belangrik om te besef wat alles relevant is tot hierdie finansiële proses. Jy moet 100% eerlik met jou finansiële adviseur wees in terme van jou finansiële, asook jou gesondheidsposisie. Deel liefs te veel inligting as wat jy die belangrike faktore uitlaat.

Hoe gereeld moet jy jou finansiële adviseur sien?

Enige goeie en professionele adviseur sal jou ten minste een tot twee keer per jaar kontak vir ’n afspraak. Dit is wel belangrik om jou adviseur onmiddellik in kennes te stel as enige veranderinge in jou lewe jou finansiële toekoms mag beïnvloe. Saam kan julle weer met nuwe oë aan jou finansiële plan werk.

Hoe kies jy die regte adviseur?

Daar is verskeie maniere om seker te wees dat jy die regte besluit maak.

  • Dis altyd goed om ’n verwysing te raadpleeg, iemand wie se oordeel jy vertrou.
  • Jy kan Momentum se webtuiste raadpleeg. Hierdie lys van adviseurs het die regte kwalifikasies.
  • Die Financial Services Conduct Authority is die raad wat adviseurs se lisensiëring beheer. Hierdie platform kan gevolglik gebruik word as jy wil seker maak dat jou gekose adviseur die regte kwalifikasies het. 

In hierdie komplekse wêreld is dit moeilik om rasionele besluite te neem, veral wanneer dit by ons persoonlike finansies kom. Die rol van die adviseur is om daardie leemtes te vul. Dit is die rasionele stem wat jou finansiële toekoms op koers sal hou. Volgens Jeanette is “die adviseur jou kompas wat jou oor ’n tyd by daardie doelwitte gaan uitkry, want hy hou jou op koers en gaan jou help om daarby uit te kom.”

Skakel Maandae om 19:30 in op VIA (DStv-kanaal 147) om Geldhelde te kyk.