Sommige maande is dit besonder moeilik om met jou geld uit te kom. 

Wanneer ’n mens ’n lys maak van al die uitgawes wat gesny sou kon word sodat daar nog geld voor betaaldag oor is, kan die versoeking sterk wees om jou korttermynversekering ook te stop. 

Jeanette raai lesers egter ten sterkste aan om dit nie te doen nie. Jy het die versekering immers nodig.

GEEN VERSEKERING IS SOOS DOBBEL

“As ’n mens sien watter groot bedrag elke maand vir korttermynversekering afgaan, kan jy maklik dink, wel, miskien kan ek daarsonder klaarkom, maar dis amper soos dobbel,” sê Jeanette oor korttermynversekering. 

“As daar iets met jou gebeur, is jy in die moeilikheid.” 

Dink só daaraan: Vandag is net 30% van die 12 miljoen motors op Suid-Afrikaanse paaie verseker. 

“Met ander woorde, as iemand anders in jou vasry en hulle het nie versekering nie, het jy versekering nodig om seker te maak jy kan wel jou motor laat herstel of ’n ander een kry, al was die ongeluk nie jou skuld nie.”

VERSEKER NET DIT WAT BELANGRIK IS

’n Mens voel soms dis nodig om alles te verseker, maar volgens Jeanette is dit nie die geval nie. 

“Jy moet mooi gaan kyk wat is die items waarsonder jy regtig nie kan klaarkom nie. 

Juwele is miskien iets wat baie duur is om te verseker, maar jy kan daarsonder klaarkom.” 

Sommige items moet kontraktueel verseker word.

Byvoorbeeld, huise wat jy deur die bank koop en motors jy wat op huurkoop koop, moet volgens die kontrak verseker wees. 

MOENIE DIE WET OORTREE NIE

Dít moet jy weet: As jy iets onwettigs gedoen het, kan jou versekeraar jou nie dek vir die skade nie. 

“As jy die wet oortree, is jy op jou eie,” waarsku Jeanette. 

“As jy, byvoorbeeld, oor ’n rooi lig ry of dronk bestuur, kan dit tot gevolg hê dat jou versekering nie uitbetaal nie.”

VERSEKER VIR DIE VERVANGINGSWAARDE 

Soms wonder ’n mens of jy oorverseker of onderverseker is. 

Jeanette het ’n eenvoudige oplossing vir dié penarie: “Jy moet elke item verseker vir sy werklike waarde. Dit help nie om te dink jy spaar geld deur items te onderverseker nie, want dit gaan jou hele eis afgebring.” 

’n Mens moet ook te alle tye eerlik wees oor die waarde van die item wat verseker word, asook wanneer ’n mens ’n eis indien.

JA, JY KAN GELD KRY BY JOU VERSEKERAAR 

Goeie nuus: Jy kán afslag kry op jou premies of selfs kontant by jou versekeraar terugkry. 

Baie versekeringsplanne bied spesiale belonings wat jou aanmoedig, soos  om kliënte te beloon as hulle goed bestuur of gesonder lewe. 

“Die rede hiervoor is om seker te maak ons is almal veilig,” sê Jeanette. 

Gaan kyk na jou versekeringsplan om te sien hoe jy jou gewoontes kan verander om jou versekering se voordele ten beste te benut.

WIE IS JEANETTE MARAIS?

Ná 28 jaar in die finansiëledienstebedryf is Jeanette Marais, ’n gerekende kenner van finansiële dienste, in Maart verlede jaar as die adjunk- uitvoerende hoof van MMI Holdings Bpk. aangestel. Dit is dieselfde maatskappy waar sy haar luisterryke loopbaan begin het.

Jeanette het op ’n plaas in die Vrystaat grootgeword en het as student ’n BSc in wiskunde en wiskundige statistiek aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf – en later ook ’n MBA aan die gesogte IMD-sakeskool in Switserland. 

Haar loopbaan in die finansiële sektor het in 1990 begin by Momentum, waar sy bemarking en verkope behartig het.

Ná bykans nege jaar het sy die maatskappy verlaat waarna sy uitvoerende bestuursposte by verskeie ander finansiëledienstemaatskappye behartig het voordat sy na MMI Holdings Bpk. teruggekeer het. 

Jeanette Marais, Theo Voster, Rozanne McKenzie. Foto: Verskaf


  • Nuwe episodes van Geldhelde word Dinsdae om 20:30 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai met heruitsendings op Woensdae om 08:30 en Sondae om 19:30. In samewerking met Momentum.