In die laaste episode van Klavierkuiers met Pedro maak die legendariese Anneli van Rooyen ’n draai in die ateljee.

Ons het met Anneli oor haar ervaring op Klavierkuiers met Pedro gesels.

Wat was vir jou die lekkerste deel van jou kuier saam met Pedro?

Die innigheid en egtheid van my belewenis daar op stel. ’n Stel is mos gewoonlik ’n kunsmatige spasie waar ’n mens maar aanpas soos verlang, maar dit was wonderlik om in hierdie ruimte in te stap en gemaklik te voel.

Wat maak Pedro volgens jou uniek?

Hy het ’n gawe wat hom versprei oor die hele spektrum van musikaliteit, en wat hom onderskei is menslikheid, nederigheid en vermoeë en wil om ’n goeie indiepte gesprek te kan voer. En laastens is dit ook sy hoop, wat so skaars is in vandag se tyd. Ons moet hom koester daarvoor.

Wat is jou gunstelingding om te doen op ’n Vrydagaand?

Dit is dalk maar baie vervelig, maar ek is lief daarvoor om by die huis te bly en ’n lekker televisieprogram of fliek te kyk en die week se sorge agter te laat.

Noem vir ons drie van jou gunstelingliedjies.

Ek Lewe, Ek Wil U Ken en Neem My op Vlerke omdat dit my handelsmerke is. Hulle is my immergroen liedjies wat altyd vir my relevant bly.

Wat is drie goed wat jy hoop mense eendag oor jou sal sê?

Dat ek staande gebly het in die geloof van Jesus Christus, hoop en liefde probeer gee het en dat ek dankbaar was vir alles.