In episode ses kuier Andriëtte Norman by Pedro. Sy deel wonderlike gesinstradisies en staaltjies van haar ouma Johanna en vertel hoe Idols haar loopbaan beïnvloed het.

Andriëtte se jong kunstenaar is Emil Struwig, wat haar met Bittersoet van Liefde verras.

Ons het met Andriëtte Norman gesels oor haar ervaring op Klavierkuiers met Pedro.

Wat was vir jou die lekkerste deel van jou kuier saam met Pedro?

Ek ken Pedro al lank. Ons kom van dieselfde dorp en hy is so ’n warm mens. Dit het regtig vir my gevoel asof ek bloot by ’n vriend kuier.

Wat maak Pedro volgens jou uniek?

Hy het ’n vreeslike mooi omgee-persoonlikheid en ’n warmte wat nie vals is nie. Hy is so opreg en wonderlik.

Wat is jou gunstelingding om op ’n Vrydagaand te doen?

Vandat ek ’n baba het, is dit vir my in dié stadium lekker om net by die huis te bly. Sommige aande het ek optredes, maar niks is vir my lekkerder as om oor ’n naweek tuis te bly nie.

Noem drie van jou gunstelingliedjies.

Dit verander heeltyd, maar ek hou tans van Adele en P!nk se nuwe musiek en Somebody to Love van Queen.

Wat is die drie goed wat jy hoop mense eendag oor jou sal sê?

Ek hoop hulle sal sê ek was humoristies en vriendelik en dat ek ’n omgee- en diep mens was. 

Nuwe episodes van Klavierkuiers met Pedro word elke Saterdagaand om 19:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai, met heruitsendings op Dinsdae om 21:00.