In episode sewe kuier Danie Niehaus by Pedro. Ons het met Danie gesels oor sy ervaring op Klavierkuiers met Pedro.

Wat was vir jou die lekkerste deel van jou kuier saam met Pedro?

Die professionaliteit van die hele span en Pedro se begrip en respek vir die musiekbedryf en die kunstenaars en dan ook die wonderlike verrassing van die jong kunstenaar aan wie se loopbaan ek help bou het van sy skooldae af en wat nou al professioneel optree, wat vir my my gunstelinglied kom sing het en al die moeite wat hulle gedoen het om dit ’n verrassing te hou!

Wat maak Pedro volgens jou uniek?

Pedro gebruik geen bladmusiek of notas nie! Ek het nog nooit saam met so ’n pianis gewerk nie – dis absoluut verstommend, veral met al die musiek wat hy in die reeks moet speel vir al die kunstenaars. En ook die formaat van die program – dat hy die onderhoude voer agter die klavier en die klavier deel van sy onderhoude maak – daar is nie nog so ’n program nie!

Wat is jou gunstelingding om te doen op ’n Vrydagaand?

Ek tree gewoonlik Vrydagaande op, maar as ek by die huis kan wees, is dit wonderlik om teen skemeraand op die Breërivier voor ons huis te gaan roei met ’n fles koffie en daarna rustig te braai sonder enige gaste – net die stilte.

Noem vir ons drie van jou gunstelingliedjies.

Air on a G string van Bach, Danny Boy en My Only van Coleske.

Wat is drie goed wat jy hoop mense eendag oor jou sal sê?

Ek sou hoop mense sien my as nederig, vrygewig en dat ek voluit leef.

Nuwe episodes van Klavierkuiers met Pedro word elke Saterdagaand om 19:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai met heruitsendings op Dinsdae om 21:00.