In die sewende episode kuier Elzabe Zietsman by Pedro. Ons het met Elzabe gesels oor haar ervaring op Klavierkuiers met Pedro.

Wat was vir jou die lekkerste deel van jou kuier?

Wat dié ervaring anders gemaak het as ’n gewone televisiekuier, was dat ek dit met ’n ou vriend kon deel.

Pedro is so professioneel en Hennie van Greunen se agtergrondnavorsing is so deeglik gedoen dat ek platgeslaan is met die goed wat hulle uitgekrap het en vorendag gebring het.

Wat maak Pedro volgens jou uniek?

Wat is daar van Pedro wat dieselfde is as iemand anders? Pedro is eenvoudig net Pedro! Sy talent, vriendelikheid en empatie laat hom rêrigwaar uitstaan.

Wat doen jy die graagste op ’n Vrydagaand?

Die afgelope 15 jaar is die kans 95% dat ek op ’n Vrydagaand in my gastehuis werk.

Noem vir ons drie van jou gunstelingliedjies.

Here’s to Life van Shirley Horn, Skipskop en enigiets anders deur David Kramer!

Wat is drie goed wat jy hoop mense eendag oor jou sal sê?

Dat ek eerlik en opreg was en dat ek empatie gehad het.

Nuwe episodes van Klavierkuiers met Pedro word elke Saterdagaand om 19:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai met heruitsendings op Dinsdae om 21:00.