’n Nuwe aflewering van Klavierkuiers met Pedro word elke Saterdagaand om 19:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai met heruitsendings op Dinsdae om 21:00.

In die tweede episode kom kuier Stef Bos in die ateljee by Pedro en vertel van sy grootwordjare in Nederland en sy liefde vir Suid-Afrika, waar hy al die afgelope 16 jaar woon. Die jong kunstenaar Len Muller kom maak ook ’n draai om Stef se liedjie Ek Wil te sing.

Ons het met Stef Bos gesels oor sy ervaring tydens Klavierkuiers met Pedro.

Wat was vir jou die lekkerste deel van jou kuier saam met Pedro?

Die gevoel dat daar nie kameras was nie. Dit het gevoel asof ons by die huis sit en gesels, speel en sing. Pedro het my baie op my gemak laat voel. 
 
Wat maak Pedro volgens jou uniek?

Pedro het ’n opregte belangstelling en passie om ’n storie te soek en dit deur musiek en woorde te vertel. 

Wat doen jy die graagste op ’n Vrydagaand?

Daar is nie ’n Vrydagaand oop wanneer ek toer nie. Wanneer ek nie optree nie, vervul ek my vaderrol by die huis en lees graag ’n boek. 
 
Noem vir ons drie van jou gunstelingliedjies.

Hillbrow van Johannes Kerkorrel
While You Can See a Chance van Steve Winwood
Whiskeyglas van Koos Kombuis
 
Wat is drie goed wat jy hoop mense eendag oor jou sal sê?

Dat ek goed was in wat ek gedoen het.
Dat ek ander mense ruimte gegee het.
Dat my kinders uit my foute geleer het en my goeie eienskappe voortleef.