Sy het verlede Saterdag op Klavierkuiers met Pedro haar weergawe van Fokofpolisiekar se Ek Skyn (Heilig) gesing.

In dié episode van Klavierkuiers met Pedro was die groep se hoofsanger, Francois van Coke, ook 'n gas. 

Hy het die gehoor vermaak met Johannes Kerkorrel se Energie en Tot die son uit kom.

“Dit was nog altyd 'n gunsteling van my omdat die lirieke tot die been sny,” sê Suzzi. 

“Ek het ook gedink die melodie pas my stem en styl en dat ek dit so sal kan sing sonder dat dit afbreuk doen aan die oorspronklike weergawe.” 

Sy sê sy kan onthou toe sy die eerste keer die liedjie gehoor het. 

“Ek het die musiekvideo op MK gesien. Ek was mal oor hoe die foto’s saamgestel is om 'n storie te vertel wat saam met die melodie en lirieke 'n besonderse eenheid vorm.” 

Vir haar het die liedjie 'n diep betekenis. 

“Niemand van ons is altyd eerlik oor wie ons is of hoe ons voel en leef nie. 

“ 'n Mens gee meer voor in die openbaar en kom heel heilig voor, terwyl jy dalk heeltemal anders voel of sou opgetree of reageer het as die druk van die sogenaamde lig nie daar was nie.” 

Sy sê sy hoop die manne van Polisiekar keur haar weergawe goed. 

“Dit voel vir my amper soos heilige grond wat ek betree het, maar ek dink dit werk en ek glo hulle gaan mal wees daaroor!” 

Nuwe episodes van Klavierkuiers met Pedro word elke Saterdagaand om 19:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai met heruitsendings op Donderdag om 15:00 as jy dit gemis het.