Charmé en André du Toit

Charmé en André

BROCCOLISLAAI MET ’N PIKANTE SOUS
Bestanddele

broccoli
1 pak bosbessies
1 eier
1 t mosterd
1 t suurlemoensap
1/3 k olyfolie
2/3 k avokado-olie
1 e gewone jogurt
sout en peper na smaak

Metode 

Sit die broccolistukkies in kookwater tot sag maar nie heeltemal gekook nie. Voeg die bosbessies by en meng. Meng al die sousbestanddele saam en bedruip die broccoli en bosbessies daarmee.

BETTIESBAAI-OLYFROLLETJIES
Bestanddele

1 sak winkeldeeg
olywe
sondroë tamatie
roosmaryn

Metode

Rol die olywe, tamaties en roosmaryn op in die deeg en maak klein bolletjies. Bak op die braai of in die oond. 


Morné en Zelda du Toit

Morné en Zelda

KALAHARISNOEK
Bestanddele

1,5 kg beesfilet
3 t pesto (enige geur, ons het Thaise pesto gebruik)
1 e knoffel
sout na smaak
2 ½ pakkies spek
2 e olyf olie
100 g sampioene, opgesny

Metode

Sny filet se dik kant ’n bietjie dunner as nodig sodat die spek daarom sal pas. Smeer die beesfilet met olyfolie, en smeer een kant met knoffel en pesto. Sprinkel sout oor na smaak.
Lê spek neer op ’n plat oppervlak sodat die lang kante van die spek net-net oor mekaar lê. Sit die filet in die middel van die spek. Pak ’n lekker laag sampioene oor die pesto. Begin van ’n kant af die spek om die filet vou sodat dit die filet toemaak. Laat rus vir ’n ruk in die yskas (ongeveer 2 uur of tot benodig vir die braai). Braai vir 40-50 min. in ’n toeknyprooster (of jy sal dit in foelie moet sit as jy nie ’n toeknyprooster het nie) tot gaar is na smaak.

AMARULA-PATATS
Bestanddele

patats, goed gewas (los skil aan)
Amarula
gesoute botter

Metode

Sny patats in dun ringetjies en pak in gesmeerde bak vir braai of oond. Gebruik 1 eetlepel botter vir elke 2 patats. Gooi lekker baie Amarula sodat dit die patats toemaak en daarin kan kook. Sit in ’n bak wat op die vuur (of in die oond) kan gaan, en sit ’n deksel op of gebruik foelie (ons het foeliebakkies met foelie bo-oor gebruik. Plaas in oond of sit laag oor kole. Pak bie kole rondom en pak ’n paar kole oor die deksel sodat dit kan kook. Die patats is gereed sodra dit sag is. 

STOKBROOD

Deeg
500 g broodmeel
350 ml water
1 t sout
½ pakkie gis
Vulsel
kersiekonfyt
briekaas

Vir deeg

Meng alles mooi saam en sit oornag in yskas. Sit nog meel by en knie dit in die deeg in sodat dit nie meer so taai is nie en droog genoeg om te kan uitrol. Rol lekker dun (so 4 mm) sodat dit maklik op die braai kan gaar word. Sny in repe ongeveer 10 cm lank en ongeveer 13 cm breed.
Smeer kersiekonfyt in die middel (los so 1 cm bo en onder sodat dit nie uitloop nie) en sit ’n snytjie briekaas op die konfytlagie. Vou dit oormekaar, smeer die binnelaag met ’n lagie melk of gebruik 1 geklitste eier en verf aan sodat dit aanmekaar kan plak. Druk die bo- en onderpunte toe sodat die kaas nie kan uitloop nie. Sit die stokkie in, maar moenie reg deur steek nie. Sit dit versigtig op die rooster en draai gereeld. Braaityd sal ongeveer 15-20 min. wees. Klop aan die deeg: Wanneer dit hol klink, is dit gaar.

AVO-SLAAI
Bestanddele

matige grootte avokado’s (½ avo per persoon)
tamaties, opgesny in klein stukkies
komkommer, opgesny in kleinerige stukkies
fyngekapte neute (enige soort sal werk)
roket
rooi grasuie
peppadews, opgesny 
balsemieke glans en mikroblare vir garnering

Metode

Sny avokado’s in die helfte. Haal ’n bietjie van die avokado uit met ’n lepel en hou eenkant in ’n mengbak. Gooi al die bestanddele saam en meng goed. Skep die mengsel terug in die avokado’s in.
Garneer met balsemieke glans en mikroblare. 

PIESANG PAKKIES
Vir 6 mense

6 piesangs
5 pakkies Rolo-sjokolade
1 pakkie klein malvalekkers
tinfoelie
Metode
Sny die piesang oop in die lengte bo, maar wees versigtig om nie regdeur te sny na onder nie. Trek die piesang saggies oop en druk die Rolos in die sloot. Sit die malvalekkers bo-op en draai dit in die foelie toe. Maak seker dit word op die braai gesit met die gesnyde kant altyd na bo sodat alles nie uitloop nie. Dit is reg sodra die Rolos mooi gesmelt het. Sit voor met roomys.

VANIELJEROOMYS
Bestanddele

500 ml vars room
1 blikkie kondensmelk (385 g)
3 t vanieljepasta

Metode

Klits die room styf tot dit punte maak. Voeg die kondensmelk en vanieljepasta by en vou dit stadig in tot dit deeglik deurgemeng is. Gooi in ’n bak wat in die vrieskas kan gaan en vries oornag.


Herman en Marinet du Toit

Marinet en Herman

BROCCOLISLAAI 
Bestanddele

1 pak broccoli
1 klein gekapte ui
1 pak spekblokkies
fetakaas

Metode

Blansjeer die broccoli. Braai die uie en spekblokkies. Breek die kaas in stukkies. Plaas broccoli in ’n bak, spek en uie bo-oor en smeer dan mayonnaise oor. Besprinkel met die kaas. 

BRAAIPASTEI, oftewel BRAAI-PIE
Bestanddele

hoender
1 groot pak sampioene
1 groot pak spinasie
2 pakke skilferkors

Metode

Maak hoender gaar en sny fyn. Braai die sampioene en rasper die kaas. Was die spinasie af en sny die stingel uit. Ontdooi die skilferkors en plaas dit dan op die rooster. Pak die spinasieblare op, gevolg deur die gerasperde kaas, hoenderstukkies en sampioene. Plaas weer kaas en spinasie op en maak dit toe met die skilferkors. Knyp rooster toe en braai op die vuur tot gaar. 

JOU MA SE VRUGTEPOEDING
Bestanddele

1 pak vanieljemuffinmengsel 
1 blik vrugte
1 boks vla

Metode

Maak die vanieljemuffinmengsel volgens die instruksies aan. Neem ’n blikkie vrugte en plaas dit onder in die pot. Plaas die muffinmengsel bo-oor. Sit die pot se deksel op en bak op die vuur.
Wanneer die baksel gaar is, kan dit met die stroop van die vrugte bedruip word. Sit voor met vla wat verhit is op die vuur.