Kempton & Tiaan

Kempton en Tiaan.

Cheddameltsteak met sampioensous

Bestanddele 

6 lendeskyf-steaks
200 g cheddarkaas 
60 ml (4 e) braaispeserye
sout en peper na smaak

Metode

Bedek die steak met enige braaispeserye, asook sout en peper na smaak.

Braai op die vuur.

Sit gesnyde kaas en sampioensous bo-op gebraaide steak, en sit voor.

Sampioensous

Bestanddele 

50 g gesmelte botter
2 pakke sampioene (gesny)
1 pakkie sampioensop poeier
250 ml (1 k) room

Metode

Sny sampioene in kleiner stukkies.

Laat botter in pot op kole smelt.

Voeg sampioene by gesmelte botter.

Voeg die pakkie sampioensop poeier by en roer deur.

Gooi die room bietjie vir bietjie by en roer goed deur.

Bedien op die steak.

Slaai

Bestanddele 

1 kop kropslaai
1 pakkie kersietamaties
1 rooi-ui (fyngekap)
1 advokadopeer (word bedien net voor die slaai opgeskep word)
groen-, rooi- en geel soetrissie (kleiner gesny)

Metode

Plaas blaarslaai onder op slaaibak.

Sit verskillende soetrissie bo-op blare.

Sny kersietamaties in die helfte en gooi bo-op.

Versier met uie en avokadopeer.

Bedien met jou eie keuse van slaaisouse.

Drienasiesbroodjie

Bestanddele 

6 roosterkoeke (gekoop)
60 ml (4 e) botter
30 ml (2 e) fyn knoffel 
100 ml blatjang
3 groot tamaties
150 g elk van drie soorte gerasperde kaas: cheddar, gouda, feta

Metode

Smeer botter op roosterbroodjies (albei kante in binnekant.)

Smeer knoffel op een gedeelte van broodjie.

Smeer chutney op ander helfte.

Sit gesnyde tamaties en uie bo-op knoffel.

Sit drie kase (cheddar, gouda en laastens feta) bo-op tamatie en uie.

Braai op vuur tot kaas lekker gesmelt het.

Flapjacks

Bestanddele 

1 gekoopte pakkie flapjack-aanmaakmengsel
3 klein eiers (geklits)
500 ml (2 k) melk
30 ml (2 e) kookolie
1 bak frambose 
1 L vanieljeroomys

Metode

Voeg die eiers en kookolie by die melk.

Meng vloeistof goed deur.

Voeg vloeistof by droë bestanddele en meng goed deur.

Laat die mengsel vir 30 minute rus.

Sjokoladesous

Bestanddele 

2 plakke melksjokolade
250 ml room

Metode

Verhit water in ’n pot.

Plaas ’n glasbak bo-op water.

Smelt 2 plakke sjokolade in glasbak en roer goed deur tot gesmelt.

Voeg 250 ml room bietjie vir bietjie by gesmelte sjokolade.

Roer goed deur tot loperig.

Bedien op flapjacks saam met frambose en vanieljeroomys.

Alrich & Francois

Alrich en Francois.

Lendeskyf

Bestanddele (vir elke steak)

5 ml (1 t) sout
5 ml (1 t) peper
5 ml (1 t) braaisout
5 ml (1 t) olyfolie

Metode

Bedek elke steak met sout, peper, braaisout en olyfolie.

Braai dit oor matige kole tot die vleis volgens smaak gaar is.

Kaas-en-sampioenwors

Bestanddele 

1 kg kaaswors (gekoop)

Metode

Plaas die wors op ’n knyprooster.

Braai die wors oor matige kole tot gaar.

Sit dadelik voor.

Maak seker die kaas is gesmelt. 

Kreef 

Bestanddele 

20 kreefsterte (skoongemaak)
500 g knoffel botter

Metode

Plaas die kreefsterte oor die kole.

Smeer knoffelbotter oor die sterte terwyl dit gaar word.

Braai vir ongeveer 5-7 minute. 

Kreefdoopsous

Bestanddele 

125 ml brand-seekossous
125 ml  mayonnaise 

Metode

Meng die seekossous en mayonnaise saam om kreefdoopsous te maak.

Sit voor met kreefsterte.

KitKat-nagereg

Bestanddele 

1 pak suikerhorinkies 
1 pak malvalekkers 
4 KitKats
1 L sjokolade-en-vanieljeroomys
foelie 

Metode

Vul elke horinkie met 1 KitKat-blokkie en ’n paar malvalekkers.

Vou foelie om elke horinkie en braai oor die kole. Maak seker dat die inhoud van die horinkie gesmelt.

Gaby & Jo-Wayne 

Jo-Wayne en Gaby.

Steak

Bestanddele 

300 g kruisskyf 
60 ml (4 e) olyfolie
150 g bloukaas (gerasper)
sout en peper na smaak 

Metode 

Smeer steak met olyfolie en besprinkel dan met sout en peper en braai op lekker warm hitte.

Sprinkel bloukaas bo-oor steak sodra dit van die hitte af is.

Hoenderfilette met feta

Bestanddele 

6 hoenderfilette
2 pakkies spek (in repies)
2 blokke fetakaas
hand vol vars basiliekruid 
tandestokkies 

Metode

Geur die hoenderfilette met sout, peper en speserye van jou keuse.

Sny die filette dwars in die helfte en pak vars basiliekruid en gekrummelde fetakaas in die middel.

Bind die spek repies om elke hoenderfilet en druk tandestokkies deur om alles bymekaar te hou.

Braai op die vuur tot gaar.

Tuisgemaakte roosterbrood 

Bestanddele 

1 kg koekmeel
knippie sout
5 ml (1 t) suiker
5 ml (1 t) olyfolie

Metode

Gooi alle droë bestanddele in ’n mengbak.

Voeg lou water by en knie tot ’n stewige deeg.

Laat staan vir uur op louwarm plek tot dubbel grote gereis het.

Maak dan broodjies en maak gaar op lou warm kole.

Nagereg

Bestanddele 

2 pakkies Romany Creams 
50 ml room
50 ml volroommelk

Vla

Bestanddele 

30 ml (2 e) vlapoeier 
1 L volroommelk
30 ml (2 e) suiker

Metode

Verhit 1 L volroommelk in ’n kastrol tot dit net begin warm raak.

Meng die 2 eetlepels vlapoeier met suiker in ’n koppie melk en voeg in kastrol.

Roer tot vla begin dik raak.

Haal van hitte af en laat afkoel.

Pak Romany Creams in plat swart pot.

Voeg room en melk by en laat staan op matige hitte.