SM en Monique

SM en Monique.

Riboogsteak

Bestanddele 

6 x 300 g riboogsteaks 
100 ml olyfolie 
4 knoffelhuisies (fyngekap)
3 roosmaryntakkies
20 g knoffelpoeier 
20 g uiepoeier 
45 ml braaispeserye 

Metode

Kombineer al die kruier.

Bedek die vleis met olyfolie.

Strooi die speserye oor albei kante van die vleis.

Laat die vleis ongeveer 2-4 uur in die bak rus. 

Skaaptjoppies 

Bestanddele 

6 skaaptjoppies 
3 knoffelhuisies, fyngekap
500 ml ongegeurde jogurt 
30 g mentblare
sout en peper na smaak 

Metode 

Garneer die tjoppies met sout en peper na smaak.

Kombineer die res van die bestanddele en smeer oor die tjoppies.

Maak seker die tjops word heeltemal bedek.

Laat die vleis ongeveer 2-3 uur marineer.

Braai die tjops oor matige kole tot gaar – die vet aan die tjops behoort krakerig te wees. 

Spek-en-mielewiele

Bestanddele 

4 mielies, in derdes gesny
12 repies spek
Aromat na smaak 
sout en peper na smaak 
15 ml (1 e) braaispeserye 

Metode

Kook die mielies vooraf tot net voor hulle gaar is.

Sny elke mielie in drie stukke.

Pak die spek op ’n bord uit en garneer met sout, peper, braaispeserye en Aromat.

Draai die spek met die gegeurde kant na binne, om die mielies.

Steek die spek met ’n tandestokkie vas.

Braai oor matige kole tot die spek gaar is en sit dadelik voor. 

Soet

Bestanddele 

1 rol filodeeg 
1 borrelsjokolade soos Aero 
1 blik ingelegde aarbeie 
1 pakkie ongegeurde kasjoeneute, gekap 
olie vir diepbraai, soos benodig
15 ml meel 
45 ml water 

Metode

Ontdooi jou filodeeg.

Sny die deeg in óf driehoeke óf vierkante.

Vul elke vorm met ’n blokkie sjokolade, aarbeie en neute.

Vou die vormpies toe.

Kombineer die water en die meel sodat dit klewerig word.

Smeer dié “gom” rondom die randjies van die deeg en knyp die randjies vas.

Verhit die olie in ’n vuurbestande pot.

Braai die vormpies in die olie tot hulle goudbruin is.

Sit voor met room of roomys.

Lourens en Letitia

Lourens en Letitia.

Spek en steak

Bestanddele 

1 pakkie spek 
6 steaks 
sout en peper na smaak 
braaispeserye 
250 ml braaimarinade 

Metode

Plaas die steaks in ’n braaibak.

Giet die sout, peper, speserye en marinade oor die steaks.

Laat die snitte ongeveer 4-6 uur marineer.

Haal die snitte uit die marinade en draai toe met spek.

Braai oor matige kole tot gaar. 

Skaaptjops met suurlemoen en rissie

Bestanddele 

8-12 skaaptjops 
sap van 1 suurlemoen
30 ml brandrissiespeserye 
sout en peper na smaak 

Metode

Marineer die tjops in die suurlemoensap en die speserye.

Braai die tjops oor matige kole tot gaar.

Aartappelgereg 

Bestanddele

5 aartappels, gekook, geskil en in skywe gesny
1 pak aartappelgebak-geursel
1 pak spekstukkies 
500 ml room
125 ml melk
sout na smaak 
250 ml gerasperde cheddarkaas

Metode

Braai die spek oor die kole tot gaar.

Voeg die room, melk en die geursel by.

Roer die sous tot dit verdik.

Pak die aartappels in ’n oondbak.

Garneer met sout en giet die speksous oor die aartappels.

Garneer die gebak met kaas en bak 10-15 min. in die oond teen 180 °C tot alles gesmelt is. 

Sjokoladekolwyntjies 

Bestanddele

1 pakkie sjokoladekolwyntjiemengsel
2 eiers
kookolie soos benodig
water
1 pakkie Oreos 
1 blikkie karamel 
1 witsjokolade 
1 L vanieljeroomys

Metode

Neem die kolwyntjiepakkie en berei die beslag voor soos op die boks aangedui word.

Smeer ’n kolwyntjiepannetjie en giet die deeg in elke holte tot halfpad vol.

Plaas een Oreo per holte.

Plaas 5 ml (1 t) karamel op elke beskuitjie en vul die holtes verder met die beslag.

Bak die kolwyntjies 10-15 min. in die oond teen 180 °C.

Laat die kolwyntjies afkoel en sit voor op ’n piering met ’n skeppie roomys en sjokoladesous.

Jaco en Lize

Jaco en Lize.

Jaco se befaamde filet

Bestanddele 

1 beesfilet (genoeg vir 6) 
30 ml (2 e) olyfolie
sout en peper na smaak 
2 knoffelhuisies, fyngekap
speserye na smaak 

Metode 

Smeer die filet met olyfolie en speserye.

Laat die filet staan sodat die geure kan intrek.

Braai die snit oor matige kole tot gaar.

Verwyder die snit van die kole en laat rus voor dit gesny word. 

Koeskoes

Bestanddele 

koeskoes (genoeg vir 6) 
2 wiele fetakaas
1 groen soetrissie 
1 rooi soetrissie 
1 blokkie beesaftreksel, vooraf in 500 ml kookwater geplaas 
vars pietersielie, gekap, na smaak
hand vol songedroogde tamaties
150 g biltong, in klein stukkies gekerf
speserye na smaak 
warm water, soos benodig 

Metode  

Voeg die koeskoes in ’n groot mengbak.

Voeg die aftreksel by.

Bedek die bak met ’n deksel of kleefplastiek, en laat dit so staan tot die koeskoes die vloeistowwe geabsorbeer het.

Braai die rissies in ’n pan tot hulle amper gaar is.

Voeg die biltong, tamaties en feta by.

Voeg die soetrissies by sodra hulle afgekoel het.

Voeg die speserye by en roer alles goed deur.

Garneer die koeskoes met vars pietersielie.

Sit voor as ’n koue gereg. 

Potgebak 

Bestanddele 

1 eier 
3 sopies gesmelte botter
125 ml melk 
1 sopie vanieljegeursel
250 ml bruismeel 
2 sopies kakaopoeier
1 knippie sout 
125 ml suiker 
160 g donkersjokolade 

Sous

250 ml bruinsuiker 
125 ml karamelsuiker 
2 sopies kakaopoeier 
375 ml kookwater 

Metode 

Klits die eier, botter, melk en vanieljegeursel saam.

Voeg die meel, kakao, sout, suiker en gekapte sjokolade by die beslag.

Plaas die beslag in ’n  gesmeerde platboompot en plaas die pot eenkant.

Kombineer die bruinsuiker, karamelsuiker, kakao en kookwater en roer tot al die suiker opgelos is.

Giet die sous oor die beslag en plaas die pot se deksel op.

Plaas die pot ongeveer 25 min. oor matige kole.

Dit is belangrik om kole op die pot se deksel te plaas sodat die beslag van bo en onder verhit word.

Sit warm voor saam met roomys. 

Toegedraaide jalapeno’s 

Bestanddele 

12 jalapeno’s 
4 wiele fetakaas 
1 pak repiespek 
sout en peper na smaak 

Metode 

Sny die jalapeno’s in die helfte en maak elkeen skoon.

Sny die fetakaas in kleiner blokkies sodat dit in die holtes van die jalapeno’s sal pas.

Vul elke rissie met kaas.

Draai die rissies styf met die spek toe.

Pak die rissies in ’n knyprooster en braai tot die spek aan albei kante gaar en krakerig is.

Maak seker die vulsel is gesmelt.