Rayno en Zina

Rayno en Zina.

Skilpadsteak met sampioensous

Bestanddele 

100 g botter
250 g sampioene
brandrissievlokkies volgens smaak 
380 ml sampioensop
sout volgens smaak 
30 ml (2 e) suurlemoen-en-knoffelspeserye 
knoffelpasta volgens smaak (fyngekapte knoffel) 
6 steaks (genoeg vir 6 mense)

Metode

Smelt die botter in ’n pan (oor matige kole) en voeg die sampioene by.

Roer aanhoudend.

Voeg die rissievlokkies by en roer tot alles goed gemeng is.

Voeg die soppoeier stadig by en roer.

Voeg die sout, speserye en knoffelpasta by.

Roer en verwyder die pan van die hitte.

Sny tinfoelie in vierkante en plaas die steaks daarin.

Die vleis moet nie toegevou word nie.

Giet die sous oor die steaks.

Plaas bykomende tinfoelie bo-oor die snitte.

Plaas die vleis in die yskas en laat dit ongeveer 1 uur marineer.

Braai die vleis ongeveer 15-20 min. oor matige kole.

Slaai

Bestanddele 

1 kop blaarslaai
1 tamatie 
2 soetrissies (een rooi en een geel, fyngekap)
biltongvlokkies volgens smaak
4 fetakaas-wiele
enige slaaisous volgens smaak
sout en peper volgens smaak 

Metode

Breek die slaaiblare in kleiner stukkies.

Sny die tamatie en soetrissies.

Pak die blare eerste op ’n plat slaaibak.

Voeg die tamaties en soetrissies by.

Garneer met die biltong en fetakaas.

Giet die slaaisous oor en geur met die sout en peper.

Pak die slaai sodat dit ’n blom vorm. 

Melktert oor die kole

Bestanddele 

VULSEL

1 blik kondensmelk 
1 eier 
180 ml mielieblom 
250 ml melk
5 ml (1 t) vanieljegeursel

KORS

240 g  margarien
1 pak Tennis-beskuitjies (fyngekap)
’n knippie sout

Metode

VULSEL: Meng die kondensmelk met drie blikkies water in ’n kastrol oor matige kole.

Skei die eierwit en -geel. Voeg die eiergeel, mielieblom, melk en die vanieljegeursel in die kastrol.

Voeg die kondensmelk by.

Meng die eierwit by. Roer aanhoudend tot verdik.

KORS: Meng die margarien, beskuitjies en sout.

Druk die mengsel in ’n tertbak plat.

Bak die kors ongeveer 15 min. teen 180 °C.

Verwyder uit die oond en laat afkoel. 

Giet die vulsel oor die kors en bak ongeveer 25 min. in die oond teen 180 °C.

Maak seker die vulsel is gebak voor dit uit die oond verwyder word. 

Kollie Dollie se broodjies 

Bestanddele

1 groen soetrissie, gekap
1 tamatie, gekap
125 g kaas, gerasper
1 ui, gekap
5 ml knoffelbotter 
’n knippie sout na smaak
deeg (vooraf gekoop, moet in vier bolle verdeel word)

Metode

Sny die soetrissie, tamatie en kaas in kleiner blokkies.

Meng die res van die bestanddele in ’n mengbak by.

Plaas bietjies-bietjies van die mengsel in elke deegrolletjie.

Vou dit toe en laat die bolle nog ongeveer 30 min. rys.

Plaas die bolle in ’n gesmeerde kastrol, bedek met ’n deksel en bak ongeveer 35 min. oor matige kole.

Maak seker die broodjies is gaar voor dit van die kole verwyder word.

Johan en Gherswin

Johan en Gherswin.

Johan se befaamde marinade

Bestanddele 

30 ml (2 e) knoffelpoeier
15 ml (1 e) uiepoeier
10 ml (2 t) bruinsuiker
30 ml ( 2 e) worcestersous
10 ml (2 t) suurlemoenpeper
growwe sout (na smaak) 

Metode

Meng al die bestanddele in ’n mengbak.

Plaas die vleis daarin.

Smeer die vleis en maak seker al die snitte is bedek.

Laat die vleis ongeveer 24 uur in die marinade lê.

Braai die vleis oor matige kole tot gaar. 

Tania, Melissa en Jaco

Tania en Jaco.

Winter-aartappelslaai

Bestanddele

1 kg baba-aartappels
olie
11 klein sprietuie, gekap
1 pakkie babatamaties, in halwes gesny
30 ml (2 e) knoffel 
chorizo, gekap, volgens smaak
125 ml koljander, fyngekap
30 ml (2 e) Thai-speserye en origanum

Metode 

Kook die aartappels tot sag.

Haal uit die water en sny in die helfte deur.

Sit eenkant.

Plaas die olie in ’n pan en voeg die uie by.

Braai 3 min. en voeg 3/4 van die tamaties by.

Voeg die knoffel en chorizo by en braai tot die tamaties begin lyk of dit sag raak maar nie pap is nie.

Voeg die helfte van koljander en speserye by.

Laat prut en voeg die res van die uie en tamaties by.

Voeg die aartappels by sodra die uie en die tamaties vir 'n tydjie geprut het.

Verwyder van die hitte en voeg vars koljanderblare by. 

Bierbrood

Bestanddele

500 g bruismeel
2,5 ml sout
125 g cheddarkaas, in blokkies gesny
15 ml origanum
340 ml bier
50 ml water
50 ml sonneblompitte
botter

Metode

Meng die meel en sout.

Voeg die kaas en origanum by.

Voeg die bier by en meng alles goed deur.

Voeg die water by as die mengsel ’n bietjie droog is.

Vorm die deeg in ’n bol en plaas die bol in ’n gesmeerde swartpot.

Versier die brood met die sonneblompitte.

Smeer die bokant van die brood met die botter en plaas die pot oor matige kole.

Plaas kole op die deksel en bak ongeveer 45 min.

Laat die broodjie rus voor dit voorgesit word. 

Banana le Cruz

Bestanddele 

1 piesang
1 x blik karamel 
250 ml room, styf geklop
1 neutsjokoladestafie

Metode

Sny die piesang in die helfte maar nie heeltemal deur nie.

Sit dit ongeveer 20 min. in tinfoelie op die vuur.

Haal af en verwyder uit die tinfoelie.

Trek die piesang meer oop en skep 4 lepels karamel oor die piesang en voeg ’n 3/4  lepel room bo-op.

Mikrogolf die sjokolade 20 sekondes, haal uit en roer.

Herhaal tot die sjokolade gesmelt is.

Giet lepelsvol sjokolade oor die room, maar maak seker die gaste kry ook neute op hul “piesangboot”.

Sit onmiddellik voor.