Deon en Paula

Paula en Deon.

Meksikaanse slaai

Bestanddele

1 pak slaaiblare 
1 pak kersietamaties, gehalveer
2 avokadopere, in blokkies gesny
1 rooi-ui
1 blik mielies 
vars koljander, na smaak 
250 ml (1 k) cheddarkaas 
1 blik kekerertjies

Metode

Sny al die bestanddele, buiten die kekerertjies, in klein blokkies.

Plaas dit saam met die kekerertjies in ’n mengbak en roer deur.

Slaaisous

Bestanddele 

125 ml (½ k) olyfolie
125 ml (½ k) lemmetjiesap
2,5 ml (½ t) tabascosous
5 ml (1 t) heuning
2,5 ml (½ t) sout
swartpeper
vars koljander, fyngekap

Metode

Meng alles en giet ’n bietjie oor die slaai.

Sit die res voor saam met die slaai.

Knoffelbrood

Bestanddele 

1 Franse brood
10 ml (2 t) botter of margarien, na smaak 
3 knoffelhuisies, fyngekap en met sout bestrooi
sout en peper, na smaak 
kaassmeer
250 ml (1 k) cheddarkaas, gerasper of dun gesny
gepekelde jalapeños, fyngekap) 
60 ml (4 e) biltongpoeier 
foelie

Metode

Neem ’n lang Franse brood en sny gleufies elke 1,5 cm sonder om deur die brood te sny.

Meng die botter, knoffelhuisies en sout en peper.

Smeer dan die botter- en knoffelmengsel gevolg deur kaassmeer, ’n dun snytjie cheddarkaas en ’n jalapeñoskyfie in elke gleuf.

Strooi biltongpoeier oor die hele broodjie.

Draai dit in foelie toe en braai oor lae hitte vir 20 min. of tot die kaas heeltemal gesmelt het.

Ribbetjies

Bestanddele 

1 groot lamsrib (voorafgekook)
500 ml (2 k) wyn
30 ml (2 e) worcestersous
30 ml (2 e) olyfolie
550 ml braaisous 
750 ml (3 k) Lappiesbraaisous vir klewerige ribbetjies
500 ml (2 k) Sauce-A-Licious se soetsuursous

Metode

Meng al die bestanddele en giet oor die gekookte ribbetjies.

Plaas 30 min. tot 1 uur in die yskas.

Die sous lewer genoeg vir 3 groot ribbetjies.

Braai die ribbetjies oor matige kole tot gaar.

Soet tortilla

Bestanddele 

6 tortillas
125 ml (½ k) Nutellasmeer 
1 pak aarbeie
neute, gekapte
1 pak malvalekkers, klein
foelie

Metode

Smeer die middel van die tortillas met nutellasmeer, pak die aarbeie bo-op en strooi gekapte neute oor.

Gooi ’n paar malvalekkers oor en rol die tortilla op.

Rol die tortilla dan in foelie toe en plaas ongeveer 10-15 min. oor lae hitte op die vuur.

Sit  dadelik voor saam met room of roomys.

Theuns en Eldene

Eldene en Theuns.

Sampioensous 

Bestanddele 

100 ml olie 
1 ui, fyngekap
10 ml (2 t) knoffelsout
1 groen soetrissie, fyngekap
1 pakkie sampioensop
2 pakkies sampioene 
5 ml (1 t) paprika 
vars room, na smaak

Metode

Braai die uie, knoffelsout en soetrissie in verhitte olie sowat 5 min.

Maak die pakkie sop aan met ’n bietjie room.

Maak seker dat geen klonte vorm nie.

Voeg die res van die room by.

Voeg die sous, sampioene en paprika by die uiemengsel.

Plaas die mengsel oor matige kole en roer tot die sous verdik. 

Oopgevlekte lamtjoppies

Bestanddele 

6-8 lamtjoppies 
30 ml (2 e) bruinsuiker 
paprika, na smaak 
60 ml (4 e) heuning
sout en peper, na smaak 

Metode 

Giet die bestanddele oor die vleis en smeer die tjoppies in.

Laat die vleis sowat 4 uur marineer.

Braai die vleis oor matige kole tot gaar en krakerig. 

Soetbrood met Don Pedro

Bestanddele 

30 ml (2 e) olie vir die smeer van die swartpot
1 kg gekoopte brooddeeg
60 ml (4 e) bruinsuiker 
250 ml (1 k) room 

Metode

Laat die deeg eenkant staan en rys.

Knie die deeg en smeer die kastrol met die olie.

Smeer jou hande met botter om te verhoed dat dit aan die deeg vassit.

Vorm balle met die deeg en pak dit in die bodem van die kastrol.

Strooi die deeg met die suiker en giet die room bo-oor.

Bak sowat 25 min. met die deksel op, oor matige kole.

Verwyder die deksel en laat die broodjie verder bak sodat die oppervlak lekker bruin word. 

Don Pedro

Bestanddele 

1 L vanieljeroomys 
100 ml Kahlua-likeur
60 ml (4 e) warmsjokoladepoeier 

Metode

Voeg die vanieljeroomys en die likeur in ’n menger en klits tot die bestanddele gemeng is.

Neem ses nagereg glase en sprinkel die warmsjokoladepoeier in die bodem van elke glasie.

Hou van die poeier oor om die drankies mee te versier.

Giet die roomysmengsel in die glasies en sprinkel die sjokoladepoeier bo-oor.

Sit dadelik voor. Maak seker dat jy gepaste strooitjies het waarmee die gaste hul Don Pedro’s kan geniet.

George en Adel

George en Adel.

Aardse appels

Bestanddele

1,5 kg baba-aartappels
125 ml (½ k) olie
’n knippie sout
50 g botter
100 ml soetrissiesous
’n hand vol vars koljanderblare, gesnipper
’n knippie sout

Metode

Kook aartappels in water tot sag en dreineer.

Plaas aartappels terug in die kastrol met olie en sout en braai 7 min.

Roer nou en dan.

Voeg botter by en laat smelt.

Braai 2 min.

Roer die soetrissiesous by.

Verwyder van hitte.

Voeg die koljander by en roer goed.

Sit dadelik voor. 

Gerookte tamatie-en-mosselsop

Bestanddele

10 gerookte tamaties
1 kg mossels (½ skulp)
250 ml (1 k) room
sout en swartpeper, na smaak
suiker, na smaak

Metode

Rook tamaties ongeveer 15 min.

Verwerk in ’n voedselverwerker en gooi deur ’n sif.

Stoom die mossels in ’n kastrol tot gaar.

Gooi die tamatiemengsel by en verhit.

Voeg die room stadig by. Geur na smaak met sout, peper en suiker.

Kers opsteek

Bestanddele

3 blikkies swart kersies, ontpit
250 ml (1 k) suiker
250 ml (1 k) swart Sambuca-likeur

Metode

Giet die kersies se stroop af in ’n gietyster pan.

Voeg die suiker by en verhit. 

Roer aanhoudend tot die suiker gesmelt is.

Voeg die kersies by en laat 2 min. prut.

Voeg die likeur by en roer goed deur.

Verwyder van die hitte en plaas op ’n oppervlak wat hittebestand is.

Steek die pan aan die brand.

Pasop vir brand.

Sit voor saam met roomys.

Krappie in ’n Sakkie

Bestanddele

3 x 400 g Picanha steak, vet afgesny
sout en peper, na smaak 
500 g garnale, skoongemaak
100 ml botter
15 ml (1 e) knoffel

Metode

Voorverhit die oond na 200 °C.

Sny ’n sakkie in die vleis en dop die binnekant na buite.

Geur met die sout en peper.

Bruin 4 min. aan elke kant in ’n pan.

Dop die sakkie weer om met die gaar kant na binne.

Rook die garnale sowat 15 min. tot gaar.

Smelt die botter en voeg die knoffel en garnale by.

Stop die sakkie met die garnale en werk toe met slagterstou.

Braai nou die buitekant tot bruin, sowat 6 min. aan ’n kant.

Bak 20 min. in die oond.

Verwyder uit die oond en draai die vleis in foelie toe.

Laat rus 10 min., sny in skywe en sit voor.