Calvin en Marijke

Calvin en Marijke
Calvin en Marijke Foto: Verskaf

Geurige beesfilet

Bestanddele

6 groot beesfilette

olyfolie

’n hand vol koljander, fyngekap

mosterdsaad na smaak

’n hand vol pietersielie, fyngekap

sout en swartpeper na smaak

worcestersous na smaak

Metode

Sny enige onnodige vet van die filette af.

Smeer die filette met die olyfolie.

Vryf die filette met die koljander, mosterdsaad, pietersielie, sout, peper en worcestersous in.

Maak seker jy bedek die vleis.

Braai die filette 15-20 min. oor warm kole.

Haal van die vuur af.

Sny die vleis in snitte en plaas dit op die braairooster terug.

Braai elke snit volgens jou gaste se behoeftes.

Biltongsous

Bestanddele

30 ml (1 e) botter

30 ml (1 e) olyfolie

½ rooi-ui, fyngekap

250 g biltong, gekap

125 ml (½ k) room

45 ml (3 e) mayonnaise

Metode

Verhit ’n pan oor die kole en plaas dan die botter en olyfolie in die pan.

Voeg die ui en biltong by en braai 5 min.

Voeg die room en mayonnaise by.

Braai die mengsel 20 min. oor warm kole tot die sou verdik.

Haal van die braai af en laat 10 min. staan.

Sit voor saam met beesfilette.

calvin en marijke
Foto's: Verskaf

Avokado-hoender-ritz

Bestanddele

3 hoenderborsies

olyfolie

sout en peper na smaak

sap van een suurlemoen

250 ml (1 k) mayonnaise

30 ml (2 e) Dijonmosterd

suiker na smaak

sout na smaak

3 avokadopere

Metode

Smeer die hoenderborsies met die olyfolie en geur mildelik met die sout, peper en suurlemoensap.

Braai die hoenderborsies 20-30 min. oor matige kole.

Haal af en laat afkoel.

Sny die hoenderborsies in klein blokkies.

Meng die hoenderblokkies, mayonnaise, Dijonmosterd, suiker en sout.

Roer goed deur.

Halveer die avokado’s en verwyder die pitte en skil.

Skep die hoendervulsel binne die holtes van die avokadohelftes.

Chanelle en Annel

Chanelle en Annel
Chanelle en Annel Foto: Verskaf

Braaipastei

Bestanddele

1,5 kg spek, gekap

2 groot uie, fyngekap

1 pakkie sampioene, gekap

2 rolle blaardeeg

1 groot bos spinasie, gesnipper

125 ml (½ k) fetakaas

1 pakkie olywe, ontpit

125 ml (½ k) mozzarellakaas

125 ml (½ k) cheddarkaas1 eier, geklitssesamsade

Metode

Braai die spek, uie en sampioene.

Rol een rol blaardeeg uit oor ’n toeknyprooster.

Pak ’n laag spinasie op die deeg uit en strooi die spekmengsel oor die spinasie.

Krummel die fetakaas oor gevolg deur die olywe.

Strooi die mozzarella- en cheddarkaas oor.

Bedek met nog ’n laag spinasie.

Rol die laaste deeg uit en bedek die hele gereg.

Bind die kante van die deeg aan mekaar.

Smeer met die eier en besprinkel met die sesamsade. Braai oor ’n lae hitte en draai gereeld.

Hoenderdytjies

Bestanddele

2 ontbeende hoenderdytjies per gas

cheddarkaas, in skywe gesny

geglaseerde kersies

speserye van jou keuse

spek

suurlemoensap

Metode

Vlek een dytjie oop, plaas die kaas in die middel gevolg deur twee tot vier kersies aan elke kant en geur met die speserye.

Plaas die ander dytjie bo-op.

Bind die dytjies toe met kombuistou.

Vou die spek styf toe om die dytjies.

Geur met die suurlemoensap terwyl jy die hoender oor matige kole braai.

Braai tot gaar.

chanelle en annelle
Foto's: Verskaf

Roostersoet

Bestanddele

Vir die deeg:

300 g witbroodmeel

5 ml (1 t) sout

15 ml (1 e) suiker

10 g gis

30 ml (2 e) olie

200 – 220 ml louwarm water

Vir die vulsel:

Bestanddele

Nutellamalvalekkers, gesnipper

frambose

Metode

Meng al die bestanddele vir die deeg saam en laat rys.

Sny dit in 6 tot 8 stukke.

Vlek die deeg oop en plaas die vulselbestanddele binne-in.

Vou toe.

Plaas op ’n braairooster en braai tot gaar.

Erika en Charlene

Chalene en Erika
Chalene en Erika Foto: Verskaf

Peppadew-en-picanhastokkies

Bestanddele

1 groot picanhasteak

olyfolie

braaispeserye van jou keuse

Peppadews

Metode

Sny die picanha in groot blokke.

Vryf die olyfolie en braaispeserye in.

Laat sowat 2 uur staan.

Ryg die picanhablokkies en Peppadews aan sosatiestokkies.

Braai die sosaties tot gaar.

Chalene en Erika
Foto's: Verskaf

Bedruipsous vir hoender

Bestanddele

sap van ½ - 1 suurlemoen

60 ml (¼ k) olyfolie

½ vars suurlemoen, in kwarte gesny

5-10 ml (1-2 t) droë pietersielie

15 ml (1 e) droë roosmaryn

30-45 ml (2-3 e) braaispeserye

Metode

Meng al die bestanddele in ’n mengbak.

Bedruip die hoender daarmee terwyl die hoender braai.

Balsemieke vinaigrette

Bestanddele

250 ml (1 k) balsemieke asyn

60 ml (¼ k) olyfolie

5 ml (1 t) droë origanum

5 ml (1 t) droë pietersielie

30 ml (1 e) bruinsuiker

Metode

Meng al die bestanddele en bedruip oor ’n slaai.