JOHAN & JANAH

Johan en Janah

HASIEKOSSIES OP ’N STOKKIE
BESTANDDELE

klein tamatie
komkommer
pynappel
aarbeie
kaas
druiwe

METODE

Sny al die bestanddele in stukke op.
Neem ’n bamboesstokkie en ryg die bestanddele een vir een op soos wat jy verkies volgens kleur en smaak.

OUMIE SE SOETPATATS
BESTANDDELE

6-8 patats
250 g botter
250 g bruinsuiker
sout
300 ml water

METODE

Skil die patats af en sny in blokkies. Plaas die patatblokkies in water om te verhoed dat dit bruin word.
Voeg die bruinsuiker en botter bymekaar in ’n warm pot om te begin smelt en karamelliseer.
Sodra dit gekaramelliseer het, haal die patats uit die water en gooi dit by die karamel-mengsel. 
Voeg sout by en ongeveer 300 ml water, plaas die deksel op die pot en laat dit kook.
Roer gereeld sodat die patats egalig gaar word en die karamelsous goed versprei.
Kook ongeveer 1 uur 30 min.

GEVULDE AARTAPPELS MET SPEK & KAAS
BESTANDDELE

8 aartappels
10 g botter
30 g kaasblokkies
300 g spek
1 t Aromat

METODE

Plaas die aartappels op ’n bakplaat en in die oond vir ongeveer een uur teen 160 ºC. Wanneer klaar gebak, toets of dit deeglik gaar is en laat dit afkoel.
Sny dan die boonste gedeelte van elke aartappel af, skep die binneste gedeelte uit en los ’n dun randjie aartappel aan die skil. 
Meng die uitgekrapte aartappel met botter en Aromat.
Braai die spek tot gaar.
Voeg die kaas en gebraaide spek by die aartappel en skep die mengsel terug in die aartappel in.
Voeg die gerasperde kaas oor die aartappel en plaas dit terug in oond vir ongeveer 20 minute teen 170 ºC tot die kaas gesmelt is.

BEES SE MIELIEBROOD
BESTANDDELE

500 g bruismeel
1 blikkie kondensmelk
1 blikke soetmielies
3 ml sout
100 ml melk

METODE

Voeg die bruismeel, kondensmelk, soetmielies en sout bymekaar en meng goed deur.
Voeg dan die melk by.
Skep die mengsel uit in ’n gesmeerde swartpot, sit die deksel op en plaas dit op die vuur vir ongeveer 1 uur 20 min.

SAFARI-STEAK MET JOHNNY SE SAMPIOENSOUS
BESTANDDELE

riboogsteak
Six Gun Grill-speserye
sout
swartpeper
worcestersous
olyfolie
suurlemoensap

METODE

Plaas die steak in ’n bereidingsbak. Smeer al die speserye op die steak.
Voeg die suurlemoensap en olyfolie by die steak ’n uur voor dit gebraai word.


JOHNNY SE SAMPIOENSOUS
BESTANDDELE

500 g sampioene, gekerf
1 ui, fyn gekap
1 pakkie wituiesop
30 g botter
250 ml room

METODE

Smelt die botter in ’n potjie en braai die uie tot goudbruin. Voeg die sampioene by.
Meng die room en wituiesop in ’n aparte bakkie en voeg dit by die uie.
Laat die sous kook tot dik en romerig.

SOETSUUR KIEPIESOSATIES
BESTANDDELE

ontbeende hoenderborsies
peppadew
uie
groen soetrissie
soetsuursous
sout
speserye van jou keuse

METODE

Sny die hoender in blokkies en geur die borsies met sout en speserye.
Voeg die soetsuursous in ’n bak, plaas die hoender in die bak en laat dit vir ’n uur marineer.
Sny die groen soetrissie, peppadew en uie in klein stukkies.
Ryg dan die stukkies in op ’n bamboesstokkie, eers ’n stukkie hoender gevolg met ’n pikantrissie, uitjies en groen soetrissie, met ’n hoenderblokkie tussen elkeen en herhaal tot die stokkie vol is.
Braai die hoendersosaties dan op die vuur.

WILDSWORSWIELE
BESTANDDELE

blesbokwors

METODE

Sny die blesbokwors in lang stukke van ongeveer 20 cm.
Rol die wors dan op in ’n wielietjie en steek ’n bamboesstokkie regdeur sodat dit soos ’n suigstokkie lyk.
Plaas die wors op die vuur en braai tot gaar.

AMARULA-MALVAPOEDING
BESTANDDELE

1 eier
250 ml suiker
1 e fyn appelkooskonfyt
2 e sagte botter
250 ml koekmeel
1 t koeksoda
sout
250 ml melk
1 t asyn

METODE

Klits die eier en suiker saam tot romerig. Voeg die appelkooskonfyt en botter by en meng dit deeglik deur.
Sif al die droë bestanddele by die eier-en-suiker-mengsel en meng deeglik.
Voeg die melk stadig by. Sodra die mengsel goed deur gemeng is, voeg die asyn by.
Plaas die beslag in ’n oondbak en bak teen 180 ºC vir ongeveer 45 min. tot goudbruin.

AMARULASOUS
BESTANDDELE

125 ml gesmelte botter
200 ml room
125 strooisuiker
80 ml Amarula

METODE

Meng die botter, room en strooisuiker in ’n potjie oor lae hitte. Roer roommengsel tot die suiker opgelos is en begin verdik.
Verwyder die sous van die hitte af en voeg die Amarula by.
Bedien die sous oor die malvapoeding sodra dit uit die oond uit kom.

JACQUES & LOUISAAN

Jacques en Louisaan


SUURLEMOENAARTAPPELS
BESTANDDELE

7 aartappels
3 e fyn knoffel
¾ k olyfolie
¾ k water
1 e droë oreganum
1 t semolina
sout
gemaalde swartpeper

METODE

Sny die aartappels in wiggies en plaas dit in ’n roosterbak.
Meng die res van die bestanddele saam in ’n aparte bakkie. Voeg die mengsel by die aartappels. Geur die aartappelmengsel goed met sout en peper.
Bak die aartappels vir 40 min. en meng ’n knippie oreganum deur.
Bak vir ’n verdere 30 tot 40 min.
Indien die pan droog word, voeg ½ koppie water of nog van die suurlemoenmengsel by.
Bak tot bruin.

GRIEKSE GEVULDE SAMPIOENE
BESTANDDELE

1 sampioen per gas
1 k gekapte uie
olyfolie
knoffel, fyn gekap
2 k vars spinasieblare
½ k fetakaas, gekrummel
½ koppie parmesaankaas, gerasper
½ koppie broodkrummels
1 groot eier geklits
sout
peper
½ k gekapte kalamata-olywe, vir garnering

METODE

Vee die sampioene skoon. Breek dan die steeltjies af en sny dit op.
Verhit een eetlepel olyfolie in ’n pan oor medium hitte. Voeg die sampioenstingels, gekapte ui en knoffel in die pan en braai tot die uie deursigtig is.
Voeg die gekapte spinasie by en kook vir ’n minuut tot die spinasie verlep is. 
Haal die mengsel van die hitte af en plaas eenkant om af te koel.
Meng die sampioenmengsel, kase, broodkrummels, geklitste eier en speserye saam.
Olie ’n bakplaat met olyfolie en plaas die sampioene op die bakplaat.
Verf dan die sampioene se bokante met olyfolie en geur met sout en peper.
Vul elke sampioen met die mengsel en bak vir 15 tot 20 minute.

GRIEKSE PLATBROOD
BESTANDDELE

1 k water
1 e heuning
2 t gis
1 t sout
4 k meel
1½ e olyfolie
½ k melk

METODE

Verhit die water tot 45 ºC en los die heuning op in die warm water.
Voeg die gis by en laat dit oplos en begin skuim.
In ’n groot mengbak, meng die sout en 3½ koppies meel saam. Voeg dan die gismengsel, olie en melk by die meel. Meng met ’n houtlepel tot die mengsel begin bymekaarkom.
Gooi die mengsel uit op ’n werkoppervlak en knie tot sag.
Gebruik die oorblywende meel indien nodig sodat die mengsel nie meer aan jou hande vassit nie.
Plaas die deeg terug in die bak en laat dit rys tot dubbel die volume.
Knie die deeg en verdeel dit in agt stukke.
Rol die deeg uit in sirkels van ’n ½ cm dik, met kort bewegings van die rolstok.
Bak die deeg in sarsies op ’n gesmeerde plaat vir omtrent 3 min.
Verwyder van die hitte en plaas onmiddellik in ’n papiersak. Die stoom sal die brode só sag hou.

JACO & MARINA FICK 

Jaco en Marina

FRANSE SLAAI MET ’N DRAAI
BESTANDDELE

5 gekookte eiers 
1 peppadew
gemengde slaaiblare
kersietamaties
1 koppie biltong

METODE

Sny die gekookte eiers in kwarte.
Braai 1 peppadew op die kole en kap fyn op. 
Voeg al die bestanddele saam.

SITRUSSLAAISOUS
BESTANDDELE

250 ml olyfolie
100 ml varsgedrukte lemoensap
1 lemoenskil
20 g fyngekapte vars koljanderblare
sout
peper

METODE

Voeg al die bestanddele saam in ’n bak en meng goed deur.

GEWONE MAYONNAISE-SLAAISOUS
BESTANDDELE

gemengde speserye 
tiemiestokkie, opgekap
250 ml mayonnaise
125 ml suurlemoensap
2 e bruinsuiker
sout
peper

METODE

Voeg al die bestanddele saam in ’n bak en meng goed deur.

POTBROOD
BESTANDDELE

4 k broodmeel
½ pakkie gis
2 e bruinsuiker
1 liter water

METODE

Voeg al die bestanddele saam in ’n bak en meng goed met ’n lepel deur.
Voeg warm water by die droë bestanddele.
Knie die mengsel goed deur. Bedek die bak met ’n plastieksak en plaas die bak binne ’n kombers in die son.
Laat die deeg vir twee uur rys.
Bak die deeg vir een uur oor matige kole.
Sny die gebakte brood in die helfte deur en plaas jou gunstelingbestanddele soos kaas, tamatie en uie op die brood. Plaas die brood op die rooster en braai tot die brood goudbruin is en die kaas gesmelt is.

SJOKOLADEPOEDING IN SWARTPOT
BESTANDDELE

BESLAG 

500 ml koekmeel
2 e botter
30 ml kakao
2 e appelkooskonfyt
knippie sout
¾ koppie melk
2 t koeksoda

SOUS

5 k water
50 ml sjerrie
2 k bruinsuiker
30 ml kakao
2 ml vanielje-ekstrak
3 t kaneel
1 t gemmer
botter

METODE

Gooi die water en al die sousbestanddele in ’n swartpot en kook oor die kole.
In ’n aparte bak, sif die meel en al die ander deegbestanddele saam. 
Voeg koeksoda by die melk, en voeg dít dan by die bottermengsel. Meng die droë bestanddele deeglik om klonte te voorkom.
Voeg die deeg in die sous en plaas die pot oor lae hitte met die deksel op vir 45-50 min.
Moet nie die deksel binne die eerste halfuur oplig nie.
Sit poeding warm of koud voor.

ROOMYS
BESTANDDELE

1 blikkie ingedampte melk
1 blikkie kondensmelk
1 blikkie room
5 ml vanielje-ekstrak

METODE

Klits die ingedampte melk tot dik. Voeg die kondensmelk en vanielje-ekstrak by en klits die beslag deeglik deur.
Klits die room in ’n aparte bak tot mooi styf.
Vou die room by die beslag by tot alles goed gemeng is. Giet die beslag in ’n bak en plaas dit in die vrieskas.

WENK: Om die roomys vinniger te vries, giet die beslag in twee bakke en plaas in die vrieskas.