Anton en Adele


T-birds-hamburger met roosterbroodrolletjie


Vir die vleiskoekies (genoeg vir 6 mense)
Bestanddele

1,2 kg maer beesmaalvleis
1 e knoffelsout
1 e selderysout
1 e paprika
2 eiers
sout 
vars gemaalde peper

Metode

Meng al die bestanddele goed. Vorm 12 vleiskoekies van 100 g elk en plaas in die yskas om te rus.

Vir die vulsel
Bestanddele

1 klein rooi-ui, fyn gekap
200 g fyn spek
1 e olyfolie
1 k gerasperde kaas

Metode

Braai die ui en spek in die olyfolie tot gaar. Laat dit ’n bietjie afkoel en roer die gerasperde kaas by.
Skep van die vulsel op ’n vleiskoekie, plaas nog een bo-op en seël die kante sodat die vulsel nie uitloop terwyl jy braai nie. 
Braai oor warm kole tot gaar.

Smoor
Bestanddele

1 ui, in ringe gesny
1 e olyfolie
1 knoffelhuise, fyn gedruk
1 blikkie gekapte tamatie
1 t suiker
sout
vars gemaalde peper

Metode

Braai die uie in die olyfolie tot sag. Voeg die knoffel by en braai liggies. Voeg die res van die bestanddele by en kook oor matige hitte tot dik en geurig.

Vir die roosterbroodrolletjie
Bestanddele

800 g broodmeel
5 ml suiker
5 ml sout
10 ml kitsgis
30 ml olyfolie
500 ml louwarm water

Metode

Meng al die droë bestanddele in ’n mengbak en voeg die water by. 
Meng goed en knie sowat 10 min. tot jy ’n gladde bal deeg het. Bedek die bak en laat die deeg 1 uur op ’n warm plek rus. Knie die deeg af, verdeel en vorm balletjies. 
Plaas op ’n bakplaat om nog 30 min. te rys. Braai oor baie matige kole tot gaar en goudbruin.
Om die hamburger te bou, sny ’n roosterkoek oop, smeer met botter en plaas ’n paar slaaiblare op die onderste gedeelte.  
Plaas die vleiskoekie, ’n snytjie tamatie en agurkieskywe op. 
Steek die boonste deel van die rolletjie vas met ’n klein sosatiestokkie om alles in plek te hou.

Greased lightning-otjie op die kole
Bestanddele

1 e knoffelsout
1 e selderysout
1 e mosterdpoeier
sout
vars gemaalde peper
1 kg varkpens, ontbeen en kepe in die vel gesny

Metode

Meng al die speserye en vryf die varkpens deeglik daarmee in. 
Plaas sowat 20 min. in ’n roker.
Braai oor matige kole tot die vleis deurgaar en die vel lekker krakerig is.

Sandy se komkommerverrassing
Bestanddele

1 pakkie groen jellie
1 t gelatien
125 ml kookwater
250 ml mayonnaise
250 ml gladde maaskaas
2 t suurlemoensap
2 komkommers, gerasper en gedreineer
1 ui, gerasper
sout
vars gemaalde peper

Metode

Maak die jellie en gelatien met die kookwater aan. 
Voeg die mayonnaise, maaskaas, suurlemoensap, komkommer, ui, sout en peper by en meng goed.
Gooi in ’n ring en plaas in die yskas om te stol.

Danny deur die blare
Bestanddele

1 pakkie jong slaaiblare
1 pakkie mikro-kruie
paar stingeluie, gekap
2 ryp avokado’s, in blokkies gesny
gemengde klein tamaties, gehalveer
pitte van 2 gebraaide mielies

Metode

Meng al die bestanddele in ’n slaaibak en sit voor met ’n slaaisous van jou keuse.

Pink ladies se malva-sundae

Vir die malvapoeding (genoeg vir 6 mense):
Bestanddele
Beslag:

 250 ml meel
1 sakkie koeksoda
260 ml suiker
1 eier
25 ml appelkooskonfyt
25 ml asyn
25 ml gesmelte botter
250 ml melk

Sous: 

125 ml Amarula Cream
125 ml melk
250 ml suiker
125 ml warm water
125 ml botter

Metode

Smeer ’n no.10-platboompotjie met botter.
Sif die meel en koeksoda in ’n groot bak en meng die suiker by.
Klits die eier, voeg die konfyt, asyn, botter en melk by en klits deeglik ná elke byvoeging.
Voeg die nat bestanddele by die droë bestanddele en meng deeglik.
Plaas die beslag in die potjie, sit die deksel op en bak 45 min. met kole onder die pot en ’n klompie op die deksel. Moenie te veel hitte gee nie, anders kan jou poeding brand.
Wanneer die poeding al omtrent 40 min. lank bak, verhit al die bestanddele vir die sous en roer aanhoudend om die suiker heeltemal op te los. (Moenie die mengsel kook nie.)
Wanneer die poeding omtrent 45 min. gebak het, steek ’n toetspen in die middel om te toets of dit gaar is. As die pen skoon uitkom, is die poeding gaar.
Haal die poeding van die vuur af en giet die sous eweredig oor.

Vir die roomys:
Bestanddele

375 ml melk
4 eiers
125 ml suiker
750 ml room
1 eetlepel vanieljegeursel

Metode

Klits die melk en eiers goed saam in ’n pot. 
Voeg die suiker by en roer oor lae hitte tot die suiker opgelos en die vlamengsel die agterkant van ’n lepel bedek.
Laat die mengsel afkoel en roer dan die room en vanieljegeursel by. Laat oornag in die yskas afkoel en plaas ongeveer 20 min. in ’n roomysmasjien. Vries tot jy die roomys wil gebruik.
Om die nagereg voor te sit, giet ’n skeut Amarula Cream in ’n sundae-glas. Skep ’n groot lepel malvapoeding bo-oor, gevolg deur ’n lepel roomys. Spuit geklopte room oor en versier met ’n kersie.

Justin en Janine


Plankiesteak met kaassous
Bestanddele: 

1 groot biefstuk
1 blokkie botter
1 pakkie gesnyde sampioene
2 middelslag-stukke bloukaas
100g mozzarella 
1 sakkie Royco-cheddarkaassouspoeier
1 sakkie swartpeperpoeier
2 k vars room

Metode

Braai die biefstuk sodat dit steeds bloederig in die middel is en die kante medium tot gaar.
Sny die vleis in repies en plaas eenkant.
Smelt die botter in pot of pan op die kole. Plaas die gesnyde sampioene in die pan of pot en braai tot bruin. Voeg die bloukaas en mozzarella by en laat dit alles in die pot of pan saam smelt. Voeg ’n pakkie Royco-cheddarkaaspoeier en swartpeperpoeier by, saam met 2 koppies vars room. Meng tot alles saam gesmelt is en dit nie klonte gevorm het nie. 

Varkies aan stokkies
Bestanddele

1 groot stuk varkmaag
suurlemoen-en-peper-speserye 

Metode

Sny die varkmaag in stukkies, 4 per stokkie. Rol dit in die suurlemoen-en-peper-speserye en braai op die kole. 
 
Lamstjoppies
Bestanddele

tjoppies
swartpeper
suurlemoen
braaispeserye

Metode

Geur die tjops met die speserye en braai oor warm kole tot gaar en krakerig.

Roosterbroodjies

Bestanddele

botter
brood
tamatie
uie
cheddarkaas
sout
peper

Metode

Smeer die botter op die brood.
Sny die tamatie, uie en kaas in skywe en plaas op die brood.
Voeg die sout en peper op die broodjie vir smaak.
Plaas die roosterbroodjie in die rooster en braai tot krakerig.

Knoffelrolletjies
Bestanddele

room
kaas
knoffel
botter
biltongpoeier
cheddar-kaas
broodrolletjies

Metode

Voeg die room, kaas, knoffel, botter, biltongpoeier en cheddar-kaas bymekaar en meng goed. Sny gleufies in die broodrolletjies.
Plaas die mengsel in die broodrolletjies en draai dit in tinfoelie toe.
Braai die rolletjies oor die kole.

Fraaislaai

Dit is ’n kleurryke slaai, van klein gesnyde botterskorsie (wat jy kook en laat afkoel), mozzarella-balletjies, feta-kaas, roketblare, grondboontjies wat jy los oorstrooi, komkommer (klein gesny), kersietamaties en fyn gekapte rooi-uie.

Spekduiweltjies
Bestanddele

pruime
Old Brown-sjerrie
spek

Metode

Haal die pitte uit die pruime, laat dit oornag in ’n bakkie Old Brown-sjerrie lê. 
Dreineer die sjerrie en rol die pruime in spekrepies. 
Druk ’n tandestokke deur die pruim en spek en braai dit op die vuur tot die spek krakerig is.
 
Braaibessiekrummel
Bestanddele

350 g bessies, gevries
1 t bruinsuiker
1 t vanieljegeursel
1 k meel
1 k witsuiker
1 k hawermout
1 k botter
roomys

Metode

Voeg die bessies in ’n pot. Strooi die suiker oor die bessies en voeg die vanieljegeursel by. 
Voeg die meel, witsuiker, hawermout en botter bymekaar. Meng die bestanddele goed met jou vingers. Plaas die mengsel bo-oor die bessies.
Plaas die pot op die kole en bak 40 min.
Sit warm voor saam met roomys.

Wikus en Lindie

Mieliebrood

Bestanddele

500 g bruismeel
1 blikkie soetmielies
1 blikkie kondensmelk

Metode

Voeg die bruismeel, soetmielies en kondensmelk bymekaar en meng deeglik.
Bespuit ’n gewone broodpannetjie goed met kossproei. Skep die deeg daarin tot dit mooi eweredig is.  
Plaas dit in jou “varkoondjie” op die vuur en braai tot goudbruin. Druk ’n skerp mes in om te kyk of dit gaar is, as die mes skoon uitkom is die broodjie deurgaar.
Jy kan dit ook in die oond maak by 180 °C tot goudbruin.
 
Varkie-aartappelslaai
Bestanddele

baba-aartappels, middeldeur gesny  
½ ui
½ groen soetrissie
½ rooi soetrissie
1 pakkie gekapte spek
vars basilie
vars koljander
kondensmelk
mayonnaise
spuitbottel-mosterd (soos Wimpy-mosterd)

Metode

Kook die aartappels tot sag maar nie te sag nie. Die aartappels moet heeltemal afgekoel wees. 
Sny die ui en soetrissies fyn. Braai die ui tot bruin en voeg die spek by. Braai tot bruin. 
Voeg die soetrissies by en braai liggies. Laat afkoel.
Sny die basilie en koljander baie fyn (volgens jou smaak).
Voeg die afgekoelde spek-en-soetrissie-mengel by jou afgekoelde aartappels.
Voeg die basilie en koljander by die mengsel.
Voeg  3 eetlepels kondensmelk, 3 eetlepels mayonnaise en 2 eetlepels mosterd by en meng goed deur.
Die slaai moet ’n bietjie na mosterd proe, maar ook ’n soet smaak van die kondensmelk hê.  
  
Tuisgemaakte Franse slaaisous:
Plaas die volgende bestanddele in ’n leë bottel:
Bestanddele 

2 k olyfolie
1 k asyn
2 t Aromat
2 t sout
4 t suiker
1 t tiemie
2 t droë pietersielie
1 t witpeper
1 knoffelhuisie, baie fyn gesny

Metode

Voeg die olyfolie en asyn saam in ’n leë bottel en skud goed. Voeg die res van die bestanddele saam in die bottel en skud weer goed.
Laat oornag in yskas staan. Hoe langer die sous staan, hoe beter.

Aarbeie-crêpes met sjokoladesous en roomys:

Die aarbeie moet in skywe gesny en strooisuiker daarop gestrooi word. Plaas dit in ’n bakkie met ’n deksel in die yskas die oggend voor dit die aand voorgesit word sodat die aarbeie die suiker kan intrek.
 
Sjokoladesous – Verhit Nutela-sjokoladesmeer in ’n mikrogolf en giet oor die crêpes.
 
Crêpes:
Bestanddele

1 k koekmeel
4 e suiker
¼ t sout
2 eiers
1 ½ k melk
1 e botter 
aarbeie
Nutella

Metode

Sny die aarbeie in skywe, strooi suiker daaroor en plaas in die yskas om te verkoel.
Klits die meel, suiker en sout saam.
Klits die eiers een vir een by die mengsel.
Voeg die melk by.
Klits met ’n elektriese klitser tot al die klonte opgelos is en dit ’n waterige mengsel vorm.  
Laat die mengsel sowat 30 min. staan voor gebruik.
Plaas die botter op ’n plaat op die vuur (of selfs in ’n pan op die stoof). Die plaat of pan moet baie warm wees.  
Plaas die deegmengsel in klein hoeveelheid op die pan en draai om wanneer dit begin borrels maak.
 
Vou die crêpes in driehoekies en plaas die aarbeiskywe daarin. Maak die Nutella-sous warm in die mikrogolf en giet dit oor. Sit voor saam met tuisgemaakte roomys.
 
Tuisgemaakte roomys:
Bestanddele
 
1 blik kondensmelk
250 ml vars room
1 t vanieljegeursel
1 blik ingedampte melk

Metode

Klits die kondensmelk en vars room saam. Voeg die vanieljegeursel by.
Klits die ingedampte melk met ’n elektriese klitser by en klits goed tot dit ’n skuimlagie vorm.
Plaas die mengsel in ’n bak wat gevries kan word en plaas 3 tot 4 uur in die vrieskas.