WESSEL EN ERNEST SE RESEPTE

Ernest Nielsen en Wessel Vosloo

Sampioensous op die vuur

Bestanddele

5 e botter, gesmelt in ’n potjie
1 k meel, stadig bygevoeg
1 pak gemengde sampioene
gebraaide ui, na smaak
melk en room soos benodig

Metode

Maak tradisionele witsous met die botter, meel, melk en room. Voeg die sampioene en gebraaide uie by en kook tot gaar.

Aartappelgebak op die kole in ’n potjie

Bestanddele 

10 middelmatige aartappels, klaar gekook
2 uie
1 pak salami
1 blok cheddarkaas
2 sakkies aartappelgebakpoeier
botter, meel en melk soos benodig

Metode

Braai die uie en salami saam in ’n pan. Maak ’n basiese witsous met botter, meel en melk. Voeg die cheddarkaas en die aartappelgebakpoeier by. Plaas die aartappels, dan die uie en salami en kaassous in lae tot die bestanddele opraak. Rasper kaas bo-oor en bak oor die kole.

Gemmer-soetpatas

Bestanddele

soetpatats
botter
karamel-bruinsuiker
2 pakke gemmerkoekies

Metode

Skil die patats en sny in wiele. Kook tot amper sag op die vuur. Gooi die water af. Smelt botter in die pot en voeg suiker by. Kook tot dik en voeg die gekookte patats by. Kook dit verder tot sag en stroperig. Krummel die koekies in groterige stukke in en voeg by net voor dit van die vuur af kom.

Aarbeislaai

Bestanddele

1 pak roketblare
1 pak aarbeie
2 blokke fetakaas
balsemieke reduksie

Metode 

Gooi die roketblare in ’n slaaibak. Sny die aarbeie in die helfte en voeg by. Sny die feta in blokkies en pak bo-op. Gooi balsemieke reduksie en gemaalde swartpeper oor.

Beet-jelliering

Bestanddele

2 potjies gerasperde beet
2 boksies framboosjellie

Metode

Dreineer die beet en plaas in ’n jellievorm. Maak die jellie aan volgens die boks se instruksies en gooi oor die beet. Plaas in die yskas tot gestol.

Maroelapoeding

Bestanddele

2 e botter
2 e suiker
1 k koekmeel
1 t bakpoeier
1 groot eier
1 t koeksoda
1 k melk

Metode

Room die botter en die suiker saam. Voeg die eier by en sif die meel en bakpoeier by. Meng die koeksoda saam met die melk en voeg by die mengsel. Gooi in potjie wat met botter gesmeer is. Bak oor die kole tot gaar.

ANDRÉ EN MARI SE RESEPTE

André en Mari

Stadig geroosterde Marokkaanse lamsboud

Bestanddele

groot ontbeende lamsboud
olyfolie
balsemieke asyn
suurlemoensap
komyn
koljander
Italiaanse kruie
naeltjies
kaneel

Metode

Marineer die lamsboud oornag in ’n marinade wat uit olyfolie, balsemieke asyn, suurlemoensap, komyn, koljander, gemengde groen Italiaanse kruie, naeltjies en kaneel bestaan.
Braai die boud stadig vir ongeveer ’n uur en half oor matige kole. Die vleistemperatuur moet sowat 70 °C wees.
Laat rus vir 10 min en sny in skywe.

Vierkaas-roosterbroodjie

Bestanddele

ciabattabrood
4 verskillende kase van jou keuse

Metode

Vul ’n ciabattabrood en vier verskillende geure kase van formaat. Ons het brie, roomkaas, mozzarella en cheddar gebruik.
Braai dit in ’n toeklaprooster stadig oor die kole.

Biltong-avokado-en-aarbei-slaai

Bestanddele

aarbeie, gesny
balsemieke asyn
babaspinasie
biltong, gesny
avokadopeer

Metode

Marineer die gesnyde aarbeie in balsemieke asyn en braai dan die aarbeie in ’n pan tot die balsemieke asyn verdik. Pak lae babaspinasie, biltong, avokadopeer en aarbeie in ’n mooi slaaibak.

Mediterreense gebakte groente

Bestanddele

botterskorsie, in rowwe stukke gesny
patat
rooi-uie, gesny
murgpampoentjie
aartappel
olyfolie
gemengde kruie
fetakaas

Metode

Rooster die botterskorsiestukke, patat, rooi-uie, murgpampoentjie en aartappel met olyfolie en gemengde kruie in ’n platboomswartpot met die deksel op oor die kole tot sag maar nie pap nie.
Haal die deksel af en krummel fetakaas bo-oor. Rooster stadig vir nog 15 minute.

Geroosterde vrugtekebabs met heuning en kaas

Bestanddele

pynappel, in stukke gesny
aarbeie
kiwivrug
ingelegde perskes
aarbeie
sosatiestokkies
soetbrandrissiesous
heuning
kase van jou keuse
southappies

Metode

Ryg stukke pynappel, aarbei, kiwivrug, perskes op ’n sosatiestokkie en laat lê in die sous van die ingelegde perskes gemeng met ’n bietjie soet brandrissiesous.
Braai totdat die pynappel begin karamelliseer.
Plaas die sosaties op ’n mooi bord en bedruip mildelik met heuning.
Bedien saam met ’n keur van kase van jou keuse en southappies.

JAN EN RUNEL SE RESEPTE

Jan en Runel
 

Rooiwyn-picanha en sampioensois

Bestanddele

1,5 tot 2 kg picanha-steak

1 bottel Namaqua- droë rooiwyn

fyngekapte knoffel, na smaak

Metode

Marineer die steak in rooiwyn en knoffel vir drie tot vyf dae in die yskas. Draai daagliks om. Seël die vleis aan albei kante op ’n rooster oor baie warm kole. Verminder die kole of plaas die rooster hoër en braai vir 40 minute of tot verlangde graad van gaarheid. Sny in dun skyfies voor opdiening.

Sampioensous

Bestanddele

1 pakkie bruinsampioene
1 ui, fyn gekap
25 ml botter of olyfolie
room
sout en peper na smaak

Metode

Verhit olie in pan oor matige hitte. Braai die ui tot sag en voeg sampioene by. Braai vir ongeveer vyf tot 10 minute. Voeg room, sout en peper by en kook sonder die deksel tot die sous verdik.
Skep die sous op steak en geniet.

Stok-kiepie

Bestanddele

4 ontbeende hoenderfilette
1 pakkie grondboontjiepasta
50 ml olyfolie
sout en peper na smaak
sosatiestokkies

Metode

Sny die hoender in happiegrootte blokkies.
Meng die grondboontjiepasta, olyfolie, sout en peper en meng met die hoenderblokkies.
Marineer oornag in die yskas. Ryg die hoenderblokkies op sosatiestokkies en braai oor matige kole tot gaar.

Bevrore aartappels

Bestanddele

1 kg baba-aartappels
kookolie vir braai van aartappels

Metode

Skil en was die aartappels. Droog die aartappels af.  Vries die aartappels. Verhit kookolie tot baie warm. Voeg die gevriesde aartappels by en braai tot goudbruin.
Wenk: Die resep werk beter buite op die vuur as binne die huis, aangesien die aartappels die olie laat spat.

Gebraaide botterskorsie met bedruipsous

Bestanddele 

1 groot botterskorsie
Metode
Sny die botterskorsie in 1 cm-skywe en plaas in kookwater vir 10 minute en dreineer.

Bedruipsous

Bestanddele

3 ml kaneel
3 ml sojasous
60 ml olyfolie
30 ml heuning
5 ml suurlemoensap

Metode

Meng al die bestanddele van die bedruipsous saam. Braai die botterskorsie oor matige kole.  Draai gereeld om en bedruip gedurig met die sous. Braai die botterskorsie tot sag en bruin.

Mengelslaai-verrassing

Bestanddele

2 avokado’s in blokkies gesny
1 pakkie roketblare
1 pakkie swartolywe
2 wiele fetakaas, in blokkies gebreek
200 g babatamaties
4 murgpampoentjies, in die lengte deurgesny
4 skywe geskilde pynappel
olyfolie
slaaisous van jou keuse

Metode

Braai die murgpampoentjies en pynappelskywe oor matige kole en bestryk gereeld met olyfolie tot bruin gebraai. Verwyder van die hitte, laat dit afkoel en sny in kleiner porsies. Meng al die bestanddele, behalwe die slaaisous, saam. Gooi die slaaisous oor net voor opdiening.

Murgpoeding

Bestanddele

1 eier
125 ml suiker
250 ml gesifte koekmeelblom
5 ml bakpoeier
5 ml koeksoda
knypie sout
25 ml appelkooskonfyt
30 ml asyn
250 ml melk

Sousbestanddele

Bestanddele

250 ml suiker
125 ml kookwater
125 ml melk
125 ml room
60 ml botter
5 ml vanieljegeursel

Metode

Klits die eier en suiker goed saam tot lig en donsig. Voeg die meel, bakpoeier, koeksoda, sout, konfyt en asyn by en meng goed deur. Roer die melk by tot ’n gladde deeg. Gooi in ’n gesmeerde middelslag-gietyster pot. Plaas op sagte kole.  Plaas ook ’n paar kole op die deksel. Monitor die hitte gereeld en voeg kole by soos benodig. Bak vir ongeveer 45 minute of tot toetspen skoon uitkom. Verhit res van bestanddele en gooi sous oor gaar, warm poeding. Sit voor met styfgeklopte room.