Brian en Esmerelda

Brian en Esmarelda.

Gebraaide Sampioene 

Bestanddele 

6 groot bruin sampioene
15 ml (1 e) knoffel, fyngekap
30 ml (2 e) botter
500 ml (2 k) cheddarkaas, gerasper

Metode

Vul die sampioene met die knoffel, botter en gerasperde kaas.

Vou die gevulde sampioene in foelie toe en braai oor matige kole.

Maak seker die kaas is gesmelt voor die sampioene van die hitte verwyder word.

Haal die foelie af en sit dadelik voor.

Blomkoolslaai

Bestanddele 

1 blomkoolkop
1 broccolikop
1 pakkie spek, in blokkies gesny
3 soetrissies, een van elke kleur, in blokkies gesny
½ blikkie kondensmelk 
175 ml mayonnaise
sout en peper na smaak

Metode 

Kook die blomkool en die broccoli tot gaar.

Breek die koppe in kleiner blokkies.

Braai die spek en die soetrissies en voeg by die gaar blomkool en broccoli.

Voeg die kondensmelk by die mayonnaise en geur na smaak met sout en peper.

Giet die sous oor die slaai en meng goed.

Verkoel minstens oornag en haal uit die yskas net voor jy dit voorsit. 

Tina en Hugo

Tina en Hugo

Rolpoeding

Bestanddele 

240 g koekmeelblom 
10 ml (2 t) bakpoeier 
2 ml sout 
50 g botter 
1 eier 
150 ml melk 
75 ml fyn appelkooskonfyt 

Stroop

25 ml botter 
200 g suiker 
500 ml (2 k) water 
1 ml sout 
50 ml suurlemoensap 
3 ml gerasperde suurlemoenskil

Metode 

Voorverhit die oond tot 180 °C.

Meng al die droë bestanddele.

Vryf die botter daarby in.

Klits die eier en die melk saam en voeg by die meelmengsel.

Maak seker dat ’n stywe deeg vorm.

Bestrooi ’n plat oppervlak liggies met meel.

Rol die deeg uit en maak seker dat jy net in een rigting rol.

Smelt die botter vir die stroop in ’n kastrol.

Voeg die res van die stroopbestanddele by en roer oor matige hitte tot dit goed gemeng is.

Hou die stroop eenkant.

Smeer die appelkooskonfyt bo-oor die deeg en begin van een kant rol.

Die deeg behoort die vorm van ’n wors aan te neem.

Plaas die rol op ’n gesmeerde bakplaat.

Verf die rol met die stroop en bak ongeveer ’n uur.

Bedruip die rol in die oorblywende stroop sodra dit uit die oond kom.

Laat die nagereg afkoel voor jy dit voorsit.

Kerrienoedelslaai

Bestanddele 

500 g noedels 
1 groot ui, fyngekap
1 groot soetrissie, in blokkies gesny

Sous

250 ml (1 k) tamatiesous 
200 ml witsuiker 
125 ml (½ k) witasyn 
25 ml kerriepoeier
7 ml sout 
2 ml swartpeper
1 ml brandrissiesous

Metode 

Kook die noedels tot gaar.

Voeg die uie en soetrissies by die noedels.

Meng die sous se bestanddele en giet dit oor die noedels.

Meng goed.

Plaas die slaai in die yskas.

Geur na smaak met nog sout en peper voor jy dit voorsit. 

Claude en Janine

Janine en Claude.

Vuilbekkie-ribbetjies 

Bestanddele 

10 ml (2 t) suurlemoensap
30 ml (2 e) olyfolie 
60 ml (¼ k) blatjang 
60 ml (¼ k) tamatiesous 
60 ml (¼ k) sojasous 
10 ml (2 t) mosterd 
1 kg vars of gerookte varkribbetjie 

Metode

Meng die marinadebestanddele goed.

Plaas die ribbetjie in ’n skottel en giet die marinade bo-oor.

Marineer oornag in die yskas.

Haal die ribbetjies uit die marinade en braai dit oor warm kole sowat 10 min. aan elke kant.

Sit dadelik voor.

Knoffelbolletjies

Bestanddele 

30 ml (2 e) botter of margarien
7,5 ml (1½ t) knoffel, fyngekap
30 ml (2 e) meel 
250 ml (1 k) melk
½ pakkie wit uiesop
375 ml (1½ k) water
sout en peper na smaak 
12 klein rolletjies 
kaas na smaak

Metode

Smelt die botter oor matige hitte en voeg die knoffel by.

Braai die knoffel tot geurig.

Voeg die meel by en begin dadelik klits.

Voeg die melk dan bietjies-bietjies by.

Sodra die sous begin verdik, voeg die wit uiesop en water by.

Hou aan met klits. Maak seker geen klonte vorm nie.

Wanneer die sous begin kook, roer ’n paar keer en verwyder van die hitte.

Geur na smaak met sout en peper.

Sny splete aan die bokant van die rolletjies, maar nie heeltemal tot onder nie.

Skep die sous in die splete.

Bedek met kaas en rooster in die oond tot die kaas begin smelt.

Sit warm voor.

’n Slaai vir ’n braai

Bestanddele 

1 blaarslaaikop, in kleiner stukkies gebreek
1 bakkie klein tamaties 
1 komkommer, in blokkies gesny 
1 rooi-ui, in skywe gesny 
4 wiele fetakaas 
’n hand vol neute, rofweg gekap
250 ml (1 k) biltong
sout en peper na smaak

Metode

Meng al die bestanddele.

Geur na smaak met sout en peper.

Geurige rys

Bestanddele 

750 ml (3 k) rys
10 ml olyfolie 
2 uie, fyngekap
15 ml (1 e) knoffel, fyngekap
500 g spek, gesny
1 bakkie sampioene, fyngekap
2 soetrissies, fyngekap
1 pakkie tamatiepuree
1 pakkie spaghetti bolognese geurmiddel
15 ml (1 e) kerriepoeier
gemengde speserye na smaak

Metode

Kook die rys tot gaar.

Verhit intussen die olyfolie in ’n pan en braai die uie en knoffel tot geurig.

Voeg die spek by en braai tot dit gaar is.

Voeg die res van die bestanddele by en laat prut tot die geure mooi ontwikkel.

Sit warm of koud voor saam met die rys.

Melktertjies

375 ml (1½ k) kondensmelk 
15 g botter of margarien
1 eier, geklits
900 ml melk
100 ml mielieblom 
5 ml (1 t) kaneel
1 rol skilferkorsdeeg

Metode

Neem die skilferkorsdeeg en sny dit in vierkante (ongeveer 12, genoeg vir ’n kolwyntjieplaat.)

Smeer die kolwyntjieplaat en plaas die vierkante in die holtes.

Voeg die kondensmelk en botter in ’n groot mikrogolfvaste mengbak en plaas sowat 10 min. in die mikrogolfoond.

Roer die mengsel so af en toe.

Meng die mielieblom, eier en melk en voeg dit by die bottermengsel.

Plaas die bak 3 min. in die mikrogolfoond.

Roer die mengsel ná elke minuut.

Laat die mengsel eenkant afkoel.

Plaas die koue vulsel in die deegholtes en vou toe.

Smeer die degies met eier en laat dit sowat 1 uur staan.

Dompel dit in warm olie en braai tot gaar.

Bedien met roomys.

Tuisgemaakte roomys

Bestanddele 

1 L room
15 ml (3 e) vanieljegeursel 
1 blik kondensmelk 
200 ml Amarula-likeur

Metode

Klits die room tot sagte punte vorm en vou die vanieljegeursel en kondensmelk daarby in.

Voeg die Amarula by en meng stadig.

Plaas die mengsel sowat 10 uur in die vrieskas.

Sit voor saam met jou nagereg.