Cheriette en Alec  

Cheriette en Alec.

Kruisskyf met botter

Bestanddele

10 kruisskyf (rump) steaks
2 knoffelhuisies, fyngekap
5 ml (1 t) Dijonmosterd
5 ml (1 t) worcestersous 
1 takkie vars tiemie
’n hand vol vars pietersielie
1 suurlemoen se sap
250 g sagte botter

Metode

Laat die steaks in die knoffel, mosterd en worcestersous lê.

Voeg die tiemie, pietersielie en suurlemoensap by.

Geur na smaak met sout en peper.

Smeer die steaks met botter voor dit oor die kole gebraai word.

Braai die steaks volgens elke gas se voorkeur en sit dadelik voor.

Hoendervlerkies

Bestanddele

500 ml (2 k) karringmelk
250 ml (1 k) suurroom
3 sopies grasuie
1 sopie Dijonmosterd
5 ml (1 t) knoffelpoeier
5 ml (1 t) sout
5 ml (1 t) swartpeper
1 suurlemoen se sap
20 hoendervlerkies

Metode 

Meng al die bestanddele goed in een groot braaibak.

Laat die vlerkies oornag marineer.

Braai oor matige kole en sit dadelik voor. 

Krummelpap en sous

Bestanddele 

1 groot ui, fyngekap
1 tamatie, gesny
1 groen soetrissie, gesny
1 pakkie sampioene, fyngekap
1 blik braai smoor
1 blik chakalaka
sout, peper en suiker na smaak
gaar krummelpap (genoeg vir 6)

Metode

Voeg die ui, tamatie, soetrissie en sampioene in ’n pot.

Braai tot die ui deursigtig is. Voeg die smoor en chakalaka by.

Braai die sous oor matige kole tot die bestanddele gemeng is.

Garneer na smaak met sout, peper en suiker.

Sit die warm sous voor saam met die krummelpap.

Groentepak

Bestanddele 

1 pak potjiegroente
1 blik room
1 pak wit uiesop
250 ml (1 k) kaas, gerasper
Aromat, sout en peper na smaak

Metode

Kook die groente tot sag.

Meng die room en wit uiesop in ’n mengbak.

Maak seker die poeier en die vloeistof is goed gemeng en dat geen klonte vorm nie.

Plaas die mengsel oor die kole en roer aanhoudend. Voeg die kaas bietjies-bietjies by.

Geur na smaak met sout, peper en aromat.

Verwyder die sous van die hitte en bedek die potjie met foelie.

Giet die sous bo-oor die groente en sit dadelik voor.

Mengelslaai

Bestanddele

blaarslaai, in stukkies geskeur
fetakaas, na smaak 
1 komkommer, in blokkies gesny
babatamaties 
1 groen appel, in blokkies gesny
1 pakkie klein mielies 
olywe na smaak

Metode

Meng al die bestanddele behalwe die olywe.

Sit die slaai voor met slaaisouse van jou keuse en hou die olywe eenkant vir mense wat dit so verkies.

Wortelkoek

Bestanddele

Versiersuiker

250 ml (1 k) versiersuiker
1 blikkie roomkaas, ongegeur
5 ml (1 t) vanieljegeursel

Beslag

Bestanddele 

250 ml (1 k) sonneblomolie 
4 eiers 
500 ml (2 k) strooisuiker 
500 ml (2 k) meel 
10 ml (2 t) bakpoeier
10 ml (2 t) koeksoda 
5 ml (1 t) sout
5 ml (1 t) fyn kaneel
500 ml (2 k) wortels, gerasper
1 blikkie fyn pynappel
200 g pekanneute

Metode

Versiersuiker 

Klits die bestanddele vir die versiersuiker goed saam en hou eenkant.

Beslag 

Meng die olie, eiers en suiker.

Voeg die meel, bakpoeier, koeksoda, sout en die kaneel by.

Maak seker dat die beslag in hierdie stadium glad en sonder klonte is.

Voeg die wortel, pynappel en neute by.

Giet die deeg in ’n gesmeerde swartboompot, bedek die pot met ’n deksel en plaas ongeveer 40 – 50 min. oor die kole.

Maak seker dat daar kole onder en bo-op die potjie is.

Sodra die beslag deurgebak is, moet die potjie van die kole verwyder word.

Laat ongeveer 10 min. eenkant staan.

Keer die koek uit die pot.

Bedien dit in skywe met die versiersuiker apart.

Nicola en Ettiene

Ettiene en Nicola.

Fillet (beeshaas)

Bestanddele 

Beeshaas

60 ml (¼ k) olyfolie
10 ml (2 t) growwe sout 
vars gemaalde peper na smaak
30 ml (2 e) gemengde braaispeserye

Metode

Smeer die beeshaas met olyfolie.

Strooi die sout, peper en speserye op ’n skinkbord.

Rol die beeshaas deur die speserye.

Plaas die snit oor die kole en draai slegs een keer.

Verwyder die vleis vinnig van die kole en rol dit weer deur die speserye.

Herhaal dié proses soveel keer as wat jy wil, tot die vleis volgens jou eie voorkeur gaar is.

Laat die vleis rus en sny die snit in gepaste porsies vir gaste.

Gebraaide koekstruif met Amarula-vla

Bestanddele 

1 madeirakoek
100 g botter 
250 g aarbeie, gewas en gehalveer
2 Rolo-sjokolade 
50 ml Amarula
500 ml (2 k) vla

Metode

Sny die koek in vierkante van 2 cm.

Plaas ’n kastrol oor matige kole en voeg die botter by.

Voeg die madeirasnye in die pot en braai tot goudbruin.

Verwyder die pot van die hitte en voeg die aarbeie by die koekblokkies.

Roer die sjokoladeblokkies by.

Laat die pot ongeveer 10 min. eenkant staan, tot die sjokolade smelt en die aarbeie hul sappe begin vrystel.

Voeg die Amarula by die vla en bedien die vla apart.

Laat die gaste self vir hulle opskep.

Varknek met tuisgemaakte pynappelsous

Bestanddele 

6 varkneksteaks 
swartpeper, na smaak
sout, na smaak
15 ml (1 e) gemengde speserye

Metode

Geur die steaks met sout, peper en speserye en braai oor die kole.

Pynappelsous

Bestanddele 

1 blik fyngedrukte pynappel, sous ingesluit
2 fyngedrukte knoffelhuisies 
30 ml (2 e) worcestersous
sout en peper na smaak
250 ml (1 k) water

Metode

Meng die pynappel, knoffel en worcestersous goed in ’n bak.

Geur met die sout en peper.

Afhangend van hoe dik jy die sous wil hê, kan ’n mens ’n bietjie water bygooi.

Moenie al die water byvoeg nie, voeg slegs by soos nodig.

Smeer die sousie oor die steaks elke keer wanneer die vleis gedraai word.

Aartappelrolletjies 

Bestanddele

250 ml (1 k) vars room 
1 pakkie aartappelgebak, enige geur
250 ml (1 k) kaas 
’n hand vol sprietuie, gekap
250 g sampioene, gekap
6 ronde rolletjies 
fyngekapte pietersielie, na smaak

Metode

Meng die room, aartappelgeursel, kaas, sprietuie en sampioene. Sny die broodjies in die helfte en plaas dit in ’n swart pot. Giet die roomsous by en plaas die deksel op die pot. Laat die broodjie bak tot die kaas gesmelt is en die room lekker dik word. Garneer met pietersielie en sit dadelik voor.

Boompieslaai met ’n verskil 

½ klein broccolikop 
½ klein blomkoolkop
250 g spek 
1 ui, fyngekap
½ k mayonnaise 
125 ml (½ k) kondensmelk 
75 ml (5 e) suiker 
125 ml (½ k) witkaas, gerasper of in blokkies
125 ml (½ k) cheddarkaas, gerasper of in blokkies

Braai die spek tot bros. Voeg al die bestanddele saam en sit minstens 2 uur in die yskas voor jy dit voorsit.

Robbie en Karin 

Karin en Robbie.

Riboogsteak

Bestanddele

6 riboogsnitte
sout en peper, na smaak 
droë kruie, na smaak
koue knoffelbotter

Metode

Geur die vleis met die sout, peper en kruie. Braai die snitte oor matige kole tot gaar. Sny die koue botter in wiele en sit dit voor saam met die warm vleis. Die botter behoort te smelt terwyl dit saam met die vleis genuttig word.

Gemarineerde skaaptjops

Bestanddele 

12 skaaptjops 
30 ml (2 e) worcestersous,
15 ml (1 e) speserye
60 ml (¼ k) blatjang 
60 ml (¼ k) tamatiesous 
sout en peper na smaak

Metode

Meng al die bestanddele en voeg die tjops daarby. Laat die vleis minstens 4 uur marineer. Braai die vleis oor matige kole en sit dadelik voor.

Braaipizza

Bestanddele 

Deeg:

250 ml (1 k) natuurlike volroomjogurt
188 ml bruismeel
5 ml (1 t) sout 
tamatiepuree 

Vir die vulsel

1 pakkie sampioene, gekap 
1 ui, gekap
2 tamaties, in skywe gesny
1 fles Peppadews, in kleiner stukkies gesny
250 ml (1 k) kaas, gerasper
sout en peper na smaak

Metode

Meng die jogurt, bruismeel en sout tot ’n dik deeg vorm. Rol die deeg uit, smeer die deeg met die tamatiepuree en steek gaatjies in die basis van die deeg.

Bak 5 min. in ’n voorverhitte oond.

Laat dit afkoel en vries oornag.

Ontdooi die basis en versier met die sampioene, ui, tamaties, Peppadews en kaas.

Geur met sout en peper en plaas op die braai tot die kaas gesmelt is en die vulsel gaar is.

Soet kaneelrolletjies, oftewel Kallabons

Bestanddele 

250 ml (1 k) volroomjogurt
1¾ k bruismeel
¼ teelepel sout
30 ml (2 e) kaneelsuiker
bruinsuiker na smaak 
150 ml room 
1 houer mascarpone

Metode

Maak die deeg en rol dit in lang vingers uit.

Rol die vingers in kaneelsuiker en rol op sodat dit wiele begin vorm.

Neem ’n gesmeerde broodpan en pak die wiele versigtig daarbinne.

Sprinkel die wiele met bruinsuiker asook 30 ml (2 e) room.

Bak die wiele in ’n varkie-oond tot gaar; ’n karamelstroop behoort te vorm.

Klop die oortollige room en mascarpone styf en plaas bo-op die wiele.

Bedruip dan die hele spul met die karamelsous wat in die pan oorgebly het.