Chris en Renette 

Chris en Renette

Pesto-hoender

Bestanddele 

12 hoenderstukke (met vel, genoeg vir 6) 
2 e (30 ml) basiliepesto
vars knoffel na smaak (fyngekap)
30 ml (2 e) hoenderspeserye
sap van 1 suurlemoen
sout en peper na smaak 
45 ml (3 e) olyfolie

Metode

Braai die hoender ongeveer 8 min. aan ’n kant en laat afkoel.

Meng die pesto en knoffel. Lig die vel van die hoender versigtig en stop die pesto onder die vel in.

Sprinkel met die hoenderspeserye.

Giet die suurlemoensap oor.

Geur met die sout en peper.

Meng die res van die pesto met die olyfolie en hou eenkant.

Plaas die hoender op die rooster.

Plaas die rooster oor matige kole, draai en smeer die pesto-olie oor die hoender terwyl jy braai.

Sit onmiddellik voor.

Broodjie

Bestanddele 

1 kg brooddeeg (gekoop)
bruinsuiker
room

Metode

Plaas die deeg in ’n kastrol of pan.

Sprinkel dit met die suiker.

Giet die room oor die deeg.

Bak die broodjies ongeveer 30 min. oor stadige kole.

Beetslaai

Bestanddele 

250 ml (1 k) bruinsuiker 
30 ml olyfolie 
125 ml water 
balsemieke asyn???
sout en peper na smaak 
500 g gaar beet in stukke gesny

Metode

Plaas die bruinsuiker, olyfolie en halwe koppie water in ’n pan.

Kook 5 min. Voeg die balsemieke asyn by die stroop.

Geur met die sout en peper.

Plaas die beetkwarte in die stroop.

Sit voor saam met roket en feta.

Gevulde soetrissies

Bestanddele 

12 soetrissies (1 per persoon)
gemengde groente, sag gekook na smaak (pak by die winkel gekoop)
250 ml kaas (van jou keuse)
30 ml (2 e) botter 
olyfolie

Metode

Sny die soetrissies se kop af en skraap die pitte uit.

Vul met die groente en kaas.

Eindig met die kaas en stip met die botter.

Plaas die “deksels” op.

Plaas in ’n kastrol met ’n bietjie water en olyfolie.

Sit die deksel op die kastrol en plaas op die kole tot deurwarm.

Sit onmiddellik voor.

Potjie-poeding

Bestanddele

Sous

750 ml kookwater                            
5 ml vars gemmer
15 ml botter                                     
 5 ml kaneel   
100 ml sjerrie                                   
2 ml naeltjies
125 ml bruinsuiker                          
1 ml sout
125 ml gemmerstroop                   
vars gemmerstukke (na smaak, gekap)

Metode

Meng alles in ’n kastrol en kook.

Kluitjies

Bestanddele 

125 ml appelkooskonfyt
125 ml gesmelte botter
10 ml (2 t) koeksoda
375 ml koekmeel
2 ml sout

Metode

Meng die appelkooskonfyt met die gesmelte botter.

Sif die droë bestanddele saam en meng by die bottermengsel.

Vorm in okkerneut-grootte bolletjies.

Plaas die bolletjies in die kokende stroop.

Sit die deksel op en kook 20 min. sonder om die deksel te lig.

Sit voor saam met vla, roomys of room.

Kobie en Debbie

Kobie en Debbie

Beesfilet

Bestanddele 

filet
½ koppie olyfolie
braaispeserye
sout en peper na smaak
? koppie soja
¼ koppie asyn
2 e suurlemoensap
1 e worcestersous
1 t mosterd

Metode

Meng alles. Plaas die filet saam met die marinade in ’n plastieksakkie en laat oornag in die yskas marineer.

Hoenderbomme

Bestanddele 

10 hoenderfilette
karringmelk
5 soetrissies/jalapeños
sout en peper na smaak
150 ml maaskaas
250 ml cheddarkaas
20 stukkies spek

Metode

Marineer die hoender ongeveer 3 uur in die karringmelk.

Sny die soetrissies middeldeur en verwyder die pitte. 

Spoel goed af.

Sny die filette in die lengte deur.

Sit tussen waspapier en kap dunner.

Geur met die sout en peper.

Meng die maaskaas en cheddar.

Vul die rissies met die kaasmengsel en plaas met die platkant bo op die hoender.

Rol die hoender oor die rissie en rol die hoender styf toe in die spek.

Braai op die kole.

As die hoender gaar is, smeer met braaisous en braai nog 5 min.

Slaai

Bestanddele 

2 pakke babaspinasie
aarbeie
½ koppie bloubessies
½ rooi-ui
½ koppie avokado
feta

Metode

Breek die spinasieblare.

Sny die aarbeie, bloubessies, ui, avokado en feta.

Meng alles goed.

Sous 

Bestandelle

2 eetlepels strooisuiker
¼ koppie olyfolie
¼ koppie witasyn
1 eetlepel dijon-mosterd
sout en peper na smaak
paprika

Metode

Meng alles goed. Verkoel in die yskas tot voorsit.

S’mores-koek

Bestanddele 

1 pak Tennis-beskuitjies
4 sjokoladeblokke
2 pakke malvalekkers
geklopte room

Metode

Pak 1 laag Tennis-beskuitjies in ’n pot.

Pak die sjokoladeblokke bo-op.

Pak ’n laag malvalekkers bo-op.

Pak nog ’n laag sjokolade oor en herhaal met ’n laag koekies.

Bedek met tinfoelie.

Plaas ongeveer 10 min. op die kole.

 Lume en Sebastian

Lume en Sebastian

Cremora-yskastert

Bestanddele

500 ml (2 k) Cremora-melkpoeier
125 ml kookwater
1 blik ingedampte melk
125 ml suurlemoensap
1 blik ingelegde vrugte, gesnipper (enige soort, maar dreineer die stroop)
1 pak Marie-beskuitjies

Metode

Meng die melkpoeier met die kookwater en laat 15 min. in die yskas afkoel.

Meng die ingedampte melk en suurlemoensap.

Voeg dit by die aangemaakte Cremora-mengsel.

Roer die gesnipperde vrugte by.

Pak die Marie-beskuitjies onder in ’n bak om ’n kors te vorm.

Voeg die mengsel in die tertkors en plaas die tert in die yskas.

Wag ongeveer 2-4 uur tot die tert gestol het.

Amarula-malvapoeding op die vuur

Bestanddele

Poeding

1 eier (geklits) 
125 ml koppie witsuiker 
30 ml  (2 e) appelkooskonfyt of gouestroop
5 ml bakpoeier
knippie sout
250 ml (1 k) melk
1 k (250 ml) koekmeel
5 ml (1 t) koeksoda
Stroop
63 ml  botter
250 ml (1 k) suiker
125 ml kookwater
250 ml Amarula
’n knippie sout

Metode

Poeding

Klits die eier en suiker saam tot liggeel en romerig.

Voeg die konfyt, bakpoeier en sout by en roer tot gemeng.

Voeg die melk en koekmeel by en sprinkel die koeksoda oor.

Klop alles vinnig saam.

Plaas in ’n klein swartpot, sit die deksel op en sit op matige kole.

Stapel kole op die deksel. Bak ongeveer 45 min. tot 1 uur tot goudbruin en ’n skerp mes skoon uit die middel kom.
Stroop
Smelt die botter in ’n pot oor die vuur en roer al die ander bestanddele by.

Maak deurwarm, maar moenie kook nie.

Giet stadig oor die poeding en laat dit intrek.

Sit voor saam met klaargemaakte vla of geklopte room.

Espetada-steak - marinade en sous

Marinade

2-3 koppies worcestersous
500 ml (2 k) wyn
15 ml (1 e) asyn
30 ml (2 e) mosterdpoeier
250 ml (1 k) tamatiesous
steak
5-6 knoffelhuisies (fyngedruk)
3 vars lourierblare

Sous 

Plaas Bisto en bruinsuiker by om die marinade te verdik vir ’n sous. 

Metode

Meng die worcestersous, wyn, asyn, mosterdpoeier en tamatiesous.

Sny die vleis in blokkies, smeer die knoffel oor die vleis en plaas die vars lourierblare tussen die vleis.

Giet die sous oor en laat oornag marineer.

Braai

Haal die vleis uit die marinade en ryg aan ’n staalpen met lourierblare tussenin.
Geur die vleis met growwe sout en braai op warm kole.

Smeer met knoffelbotter net voor die vleis van die braai afkom.

Knoffelbotter

Bestanddele 

250 g botter
4 knoffelhuisies, fyngemaak
63 ml mayonnaise
1-2 eetlepels mosterd
pietersielie (fyngekap)

Metode

Smelt die botter en voeg die ander bestanddele by, meng goed en sit weer in die yskas.

Pangebraaide garnale op die kole

Bestanddele

1 boks groot garnale
15 ml olie 
250 ml botter
2 suurlemoene (sap)
30 ml (2 e) visspeserye 
pietersielie (na smaak, fyngekap)
2 knoffelhuisies (fyngekap)
60 ml (4 e) Portugese sous (van jou keuse)

Metode

Maak die garnale skoon.

Plaas ’n bietjie olie en botter in ’n pan op die kole.

Plaas die garnale in en voeg ’n bietjie vars suurlemoensap, speserye, vars pietersielie en knoffel oor die garnale.

Garnale braai vinnig, wees dus versigtig om dit nie oorgaar te maak nie.

Sodra die garnale gaar is, giet ’n Portugese sous van jou keuse oor, laat die sous warm raak en sit voor saam met gegeurde rys.

Aartappelgebak-broodjie op die kole

Bestanddele

Die hoeveelheid uie, tamatie, spek en sampioene hang af van die grootte van die broodjie wat jy wil bak.

Gebruik maar jou eie diskresie.

Bestanddele

2 uie
4 tamaties (gekap)
1 pakkie spek
1 pak sampioene (gekap)
knoffel na smaak (fyngekap)
sout en peper na smaak 
30 ml (2 e) gemengde speserye
1 kg winkeldeeg, afhangend van die grootte van die broodjie
250 ml (1 k) room
250 ml (1 k) melk
1 pakkie aartappelgebakpoeier van jou keuse
1 koppie kaas, afhangend van die grootte van die broodjie

Metode

Braai die uie, tamaties, spek, sampioene en knoffel in ’n pan.

Voeg ’n bietjie sout, peper en speserye by.

Rol die deeg in balletjies en plaas in ’n gesmeerde platboom-swartpot.

Meng die room, melk en aartappelgebakpoeier en giet die helfte oor die broodballe.

Voeg die gebraaide mengsel oor die balletjies.

Giet die res van die aartappelgebak-en-roommengsel oor die balletjies.

Plaas die swartpot op ’n staander oor matige kole en plaas kole op die deksel van die pot.

Die broodjie sal ongeveer 40-50 min. bak (afhangend van die grootte van jou broodjie).

Om te toets of jou broodjie gaar is, druk ’n mes in die middel van een van die broodballe.

As die mes skoon uitkom, is die deeg gaar.

Sprinkel die kaas oor, saam met ’n bietjie paprika en gedroogde pietersielie, en laat die kaas smelt voor jy dit voorsit.