De-Wald en Melanie

Melanie en De-Wald

Filet met spek

Bestanddele 

1 groot filet 
sout en peper na smaak 
1 pakkie spek (repies)
250 ml roomkaas 
165 g pikantrissie (uit sous) 

Knoffelbrood

Bestanddele 

1 Franse brood
botter na smaak 
10 ml (2 t) knoffel, fyngekap
120 g roomkaas 
15 ml (3 t) biltongpoeier
sout en peper

Metode

Sny die brood in die middel deur.

Smeer met die botter en vul met die knoffel, roomkaas en biltongpoeier.

Geur met die sout en peper.

Draai die brood in tinfoelie toe en braai oor matige kole tot die brood krakerig is en die roomkaas gesmelt.

Sit warm voor. 

Bernadine se tuingereg

Bestanddele 

1 kop blaarslaai (gekap)
2 wortels (geskil en gerasper) 
1 gekookte beet (afgekoel en fyngekap)
100 g White Rock-bessiekaas (gekrummel)
6 aarbeie (gekerf) 
’n hand vol bloubessies (gekap) 
1 grondboontjiebotterstafie (fyngekap)

Metode

Meng al die bestanddele in ’n slaaibak en garneer met die grondboontjiebotterkrummels.

Piesang-en-karamelmuffins

Bestanddele 

500 ml meel 
250 ml suiker 
7 ml bakpoeier
5 ml koeksoda 
’n knippie sout 
3 groot piesangs (ryp)
120 g margarien 
2 eiers 
65 ml water 

Metode 

Meng al die droë bestanddele.

Maak die piesangs fyn en voeg dit saam met die nat bestanddele by die droë bestanddele.

Smeer ’n muffinpan en giet die beslag in die holtes.

Bedek die pan met tinfoelie en bak oor matige kole tot gaar.

Sit warm voor saam met room of roomys.

Tiaan en Lucille 

Lucille en Tiaan.

Melktertroomys 

Bestanddele 

1 k strooisuiker 
15 ml water 
2 groot eiers 
250 ml room 
5 ml kaneel 
500 ml vla 

Metode 

Smelt die suiker in die water oor lae hitte en giet oor tinfoelie.

Laat die suiker stol en breek in stukke wanneer dit hard is.

Skei die eiers en klop die eierwitte styf tot dit sagte punte vorm.

Klop die room en kaneel tot styf.

Vou die eierwitte by die roommengsel in.

Vou die suikerstukke by die eiermengsel.

Voeg die mengsel by die vla en vries in die vrieskas.

Haal die roomys 15 min. voor voorsit uit. 

Marinade vir vleis 

Bestanddele 

75 ml sojasous 
125 ml olyfolie 
75 ml suurlemoensap 
45 ml worcestersous 
15 ml knoffelpoeier 
45 ml gedroogde basiliekruid 
vars pietersielie na smaak (fyngekap) 
5 ml witpeper 

Metode

Meng al die bestanddele en smeer oor jou gekose vleissnitte.

Laat die vleis ongeveer 8 uur in die marinade lê.

Braai oor matige kole.

Gebraaide spekmielies

Bestanddele 

6 mielies (gekook) 
45 ml botter 
1 pakkie spek 
sout en peper na smaak 

Metode

Smeer die mielies met die botter en vou dit in die spek toe.

Steek die spek met happiestokkies vas en braai oor matige kole.

Geur die mielies met die sout en peper net voor dit van die kole afgehaal word. 

Vars geroosterde halloumi- en mielieslaai 

Bestanddele 

1 blik kekerertjies 
20 ml olyfolie 
1 knoffelhuisie (fyngekap) 
1 kop blaarslaai 
½ komkommer (in blokkies gesny) 
80 ml appelasyn 
60 ml water 
45 ml strooisuiker 
15 ml geroosterde koljandersaad 
1 mielie (se pitte afgesny)
3 vars bete (in blokkies gesny) 
vars kersietamaties volgens smaak 
1 blok halloumikaas 
sout en peper
mentblare na smaak 

Metode 

Meng al die bestanddele in ’n groot slaaibak.

Hou die halloumi eenkant.

Sny in blokkies en rooster in ’n warm pan.

Voeg die warm kaasblokkies by die slaai en geur met die sout en peper.

Gebruik ’n mengsel van pietersielie, olyfolie en suurlemoensap as slaaisous. 

Marius en Elmarie

Elmarie en Marius.

Potbrood

Bestanddele 

1 kg broodmeel
10 g kitsgis 
10 ml sout
10 ml heuning
600 ml lou water
15 ml olyfolie

Metode 

Sif die broodmeel, gis en sout saam.

Los die heuning in ’n bietjie lou water op.

Giet dit stadig by die gemengde droë bestanddele en meng goed.

Giet die res van die lou water stadig by terwyl jy die deeg goed knie (of jou kombuisgereedskap inspan).

Voeg die olyfolie by en knie tot elasties en dit nie meer aan die kante vassit nie.

Plaas ’n vadoek oor die deeg op ’n lekker warm plek en laat rys.

Smeer jou gunstelingplatboompotjie met ’n bietjie olyfolie.

Knie die bal deeg, wat nou al verdubbel het, af en plaas in die pot.

Smeer klein bietjies olie oor en sit die deksel op.

Laat dit weer rys terwyl jy jou kole regkry.

Plaas die potjie oor eweredige hitte en sit nou en dan ’n paar kole op die deksel.

Ná ongeveer 1 uur kan jy die deksel afhaal en kyk hoe dit lyk.

Sampioensous

Bestanddele

15 ml olyfolie
1 ui (grof gekap)
2 knoffelhuisies (fyngekap) 
200 g sampioene (in dun skyfies gesny)
20 g botter
3 e meel
2 k aftreksel
10 ml worcestersous
sout en peper na smaak

Metode

Die sousie werk lekker as ’n mens ’n bietjie pansous het om mee te begin, maar is nie nodig nie.

Maak seker jou potjie of pan is lekker warm.

Voeg die olie by.

Sit eers die ui in en soteer tot sag.

Voeg die knoffelstukkies by en roerbraai tot sag en geurig.

Voeg die sampioene by en roer tot sag.

Voeg die botter by en roer die meel in tot die mengsel egalig en bruin is.

Voeg die aftreksel bietjies-bietjies by.

Laat prut tot verdik.

Voeg die worcestersous by en geur met die sout en peper.

Gemmerroomys

Bestanddele

500 ml room
200 ml volroommelk
2 groot stukke gemmerwortel (geskil en in stukke gesny)
250 ml suiker
5 eiers (net die geel)
1 vanieljepeul se saadjies of 1 t vanieljegeursel
2 e versuikerde gemmer (fyngesny)

Metode

Meng die room, melk, gemmer en die helfte van die suiker in ’n swaarboomkastrol.

Roer heeltyd om seker te maak die suiker los egalig op tot die mengsel begin kook.

Haal van die hitte af en laat afkoel.

Terwyl dit afkoel kan die res van die suiker en eiergele in ’n aparte bakkie geklits word tot sag en romerig.

Skep ’n halwe koppie van die lou roommengsel daarby en meng goed.

Voeg die eiermengsel by die room-en-gemmermengsel en plaas terug op die stoof.

Roer aanhoudend oor matige hitte tot die mengsel begin verdik.

Dit is reg as jy ’n lyn kan trek op die agterkant van die roerlepel en dit bly ’n rukkie daar.

Haal van die hitte af en giet deur ’n sif in ’n houer om af te koel.

Meng die vanielje in en laat staan tot heeltemal afgekoel (kamertemperatuur).

Plaas in die vrieskas (of in ’n roomysmaker).

Die stukkies versuikerde gemmer kan in die mengsel ingeroer of bo-oor gestrooi word. 

Lemoenpoeding

Bestanddele

Beslag:

botter vir smeer
5 ml koeksoda
500 ml melk
250 ml suiker
3 eiers
50 ml lemoenmarmelade
1 lemoen (skil, fyngerasper)
2 k koekmeel
10 ml bakpoeier
’n knippie sout

Stroop:

250 ml melk
250 ml room
500 ml suiker
125 g botter
repies lemoenskil
’n knippie sout

Metode

Beslag: Smeer ’n platboompotjie goed met die botter en maak seker jy het ’n plekkie langs jou vuur met genoeg kole (dieselfde hoeveelheid as vir ’n potbroodjie).

Los die koeksoda in die melk op en hou eenkant.

Klits die suiker en eiers tot dik en romerig.

Voeg die marmelade en lemoenskil by en meng goed.

Die koekmeel, bakpoeier en sout kan nou bygevoeg word.

Voeg die koeksoda-en-melkoplossing by en meng.

Plaas in die potjie en plaas die pot op matige kole met ’n paar kole op die deksel.

Bak 50 min. tot 1 uur.

Moenie oopmaak voor 45 min. nie. Haal af wanneer dit goudbruin is.

Stroop: Maak die stroop terwyl die poeding bak.

Voeg al die bestanddele oor lae hitte bymekaar.

Laat 5 min. stadig prut en hou warm.

Sodra die poeding van die vuur afgehaal word, kan die warm sous stadig en eweredig oorgegiet word.

Laat staan 10 tot 15 min. en sit voor saam met roomys.