AJ en Johan

AJ en Johan

Karoo-tjoppie

Bestanddele

8 lamtjoppies, dik gesny met vet
30 ml (2 e) worcestersous 
sout en peper na smaak 
30 ml (2 e) braaispeserye 
4 takkies vars roosmaryn 
60 ml (4 e) Lappies-braaisous

Metode

Plaas die tjoppies in ’n braaibak en voeg die worcestersous, sout en peper, speserye en roosmaryn by.

Giet die Lappies-braaisous laaste by.

Vryf alles by die vleis in.

Braai die vleis oor matige kole tot die vet bros en die vleis gaar is.

Kaapse braaiwors met ’n twist

Bestanddele 

6 klein gerolde boereworsies, gekoop
6 groot sampioene 
3 knoffelhuisies, fyngekap
125 ml (½ k) botter, gesmelt
250 ml (1 k) cheddarkaas, gerasper
sout en peper na smaak

Metode

Braai die rolle van wors oor matige kole tot net gaar.

Verwyder van die kole en braai dan die groot sampioene oor matige kole.

Meng die knoffel met die botter en smeer die sampioene aanhoudend.

Plaas die sampioene op hul rûe met hulle magies na bo.

Plaas die worsies in die magies van die sampioene.

Plaas kaas bo-op elke stapel en los op die kole tot die kaas gesmelt is.

Garneer met die sout en peper en sit dadelik voor.

Worcester chick ’n stick

Bestanddele 

1 hele hoender, ontbeen
30 ml (2 e) worcestersous 
30 ml (2 e) bruinsuiker
30 ml (2 e) blatjang 
15 ml (1 e) stroop 
1 hele suurlemoen se sap 
5 ml (1 t) kerriepoeier 
sout en peper na smaak
15 ml (1 e) gemengde speserye

Metode 

Sny die hoender in stukke.

Meng die worcestersous en suiker.

Roer die mengsel tot die suiker opgelos is.

Voeg die blatjang, stroop, suurlemoensap en die kerriepoeier by.

Besprinkel die hoenderstukke met sout en peper en die gemengde speserye.

Ryg die hoenderstukke aan stokkies, plaas die stokkies in die marinade en laat oornag marineer.

Braai die kebabs oor matige kole tot gaar.

Tradisionele pap op die vuur 

Bestanddele 

500 ml (2 k) water
’n knippie sout 
250 ml (1 k) mieliemeel 

Metode 

Kook die water tot kookpunt in ’n potjie oor die kole. Voeg die sout by.

Voeg die mieliemeel by die water sodra die water kookpunt bereik.

Roer die mieliemeel stadig met ’n houtlepel deur.

Gebruik dan ’n vurk om die klonte uit te roer.

Verwyder die pot van die kole en laat 5 min. rus voor jy dit voorsit.

Chakalaka

Bestanddele 

1 rooi soetrissie 
1 groen soetrissie 
1 geel soetrissie 
1 ui, gekap
10 ml (2 t) kerriepoeier 
1 blikkie mieliepitte
1 blikkie chakalaka
sout en peper na smaak 
5 ml (1 t) olie

Metode

Kap al die groente in eweredige blokkies.

Braai dit in ’n groot pan met ’n bietjie olie.

Roer die groente tot dit begin verkleur.

Voeg die mieliepitte met die sous by.

Roer deeglik. Voeg die helfte van die chakalaka-blikkie by die mengsel en die res na smaak. Sit die pap en chakalaka in aparte bakkies voor.

Foto's: Verskaf

Kaapse Xmas in July

Bestanddele

1 vanielje sponskoek
30 ml (2 e) appelkooskonfyt
1 bottel sjerrie 
3 soorte jellie, voorafaangemaak en gestol
1 blik ingelegde vrugte
ingelegde kersies, opsioneel
1 houer vla, gekoop
250 ml (1 k) room 
1 pakkie amandels, gekap
1 Flake-sjokoladestafie
6 glasies, waarin die koek kan pas

Metode

Druk klein ronde sirkels met ’n glas uit die sponskoek.

Smeer die koeksirkels met die appelkooskonfyt.

Sit die sirkel in die glas en gooi ’n bietjie sjerrie in.

Skep die verskillende jellies in.

Voeg die vrugte en kersies, indien gebruik, by.

Sorg dat alles mooi in lae lê in die glas.

Skep die vla oor. Klop die room styf en skep bo-oor.

Garneer met die amandels en sjokoladestukkies.

Sit dadelik voor.

Kaaps-Maleise koeksister-verrassing

Bestanddele 

500 g deeg, gekoop
125 ml (½ k) goue stroop 
500 ml (2 k) olie vir braai
60 ml (4 e) fyn klapper
kaneelsuiker na smaak 
250 ml (1 k) room, styfgeklop

Metode

Maak klein ronde balletjies uit die deeg en spuit die stroop in die holte van elke balletjie.

Vou die balletjies toe. Braai in warm olie op die vuur tot goudbruin.

Rol die gebraaide balletjies in die klapper en suiker.

Sit voor saam met die room en orige klapper.

Leonard en Diane

Leonard en Diane

Varkribbetjiemarinade

Bestanddele 

1 varkrib 
30 ml (2 e) molasse
4 knoffelhuisies, fyngekap
500 ml (2 k) rooiwyn 
45 ml (3 e) worcestersous 
30 ml (2 e) olyfolie
30 ml (2 e) shisanyama speserye

Metode

Meng al die bestanddele en laat die varkrib oornag in die marinade marineer.

Braai die varkrib oor matige kole tot gaar.

Sny in hanteerbare snitte en sit dadelik voor.

Gemarineerde rollmopsteak

Bestanddele 

1 eier, geklits
tabascosous, na smaak
45 ml (3 e) worcestersous
rooisout na smaak 
peper na smaak 
vars oreganum 
6 steaks 
tandestokkies

Metode 

Meng al die bestanddele.

Laat die steaks sowat 4-6 uur marineer.

Rol die steaks op en steek met die tandestokkies vas.

Maak seker dat die steaks plat en egalig is voor dit opgerol word. 

Braai die gerolde steak oor matige kole. 

Draai die steaks gereeld om.

Garneer met nog sout en peper.

Sit dadelik voor.

Foto's: Verskaf

Gemarineerde hoenderkebabs

Bestanddele 

kebabstokkies, in water geweek
6 hoenderborsies, in blokke gesny
1 ui, in blokke gesny
rissievlokkies, na smaak
60 ml (4 e) witwynasyn 
vars pietersielie na smaak
vars mentblare na smaak 
30 ml ( 2 e) gemengde speserye
1 suurlemoen se sap 
sout en peper na smaak 
3 knoffelhuisies, fyngekap

Metode

Ryg die ui en die hoenderstukke aan die kebabstokkies.

Meng die res van die bestanddele in ’n braaibak.

Plaas die kebabs in die marinade en laat oornag marineer.

Braai oor matige kole tot gaar en sit dadelik voor.

Nagereg

Bestanddele 

30 g amandelmeel 
50 g Erythritol-suiker
30 ml (2 e) kakaopoeier
2,5 ml (½ t) bakpoeier
’n knippie sout 
45 ml (3 e) botter, gesmelt
45 ml (3 e) melk
1 eier
1,25 ml (¼ t) vanieljegeursel 
1 sjokolade van jou keuse 
15 ml (1 e) water

Metode

Meng al die bestanddele, buiten die sjokolade en water, en giet die beslag in ’n gesmeerde oondbak.

Neem die sjokolade en druk stukke daarvan in die deeg.

Giet die water bo-oor. Plaas die bak oor die vuur in ’n bak vol water om te verhoed dat die beslag brand. Sit die nagereg voor sodra dit gaar is. Jy kan dit saam met room of roomys voorsit, indien verkies.

Wayne en Olivia

Olivia en Wayne

Rump steak in repies gesny 

Bestanddele 

3 rump steaks 
30 ml (2 e) olyfolie
sout en peper na smaak 
30 ml (2 e) heuning
5 ml (1 t) mosterd 
pietersielie na smaak, fyngekap
5 ml (1 t) rissievlokkies 
125 ml (½ k) sojasous

Metode

Smeer die steaks in met die olyfolie, sout en peper.

Braai die steaks oor matige kole en verwyder van die kole net voor dit gaar is.

Laat die vleis rus en sny in repies voor die gaste.

Meng die heuning, mosterd, pietersielie, sojasous en rissievlokkies.

Sit die sous voor saam met die vleis.

Pizzabraaibroodjie

Bestanddele 

2 pizzabasisse (gekoop) 
125 ml (½ k) mozzarellakaas 
125 ml (½ k) cheddarkaas
1 tamatie, gesny
1 ui, dun gesny
10 ml (2 t) knoffel, fyngemaal

Metode

Bedek een pizzabasis met die kaas, tamatie, uie, sout en peper.

Besprinkel met knoffel.

Plaas die tweede pizzabasis bo-op die eerste een.

Braai in ’n toeknyprooster oor matige kole tot die kaas gesmelt is.

Sit dadelik voor.

Foto's: Verskaf

Gevulde hoenderfilette

Betsanddele 

6 hoenderfilette, gesny sodat ’n holte vorm
45 ml (3 e) pesto van jou keuse
1 rissie, pitte verwyder en fyngekap
125 ml (½ k) cheddarkaas, gerasper
1 pak spek, gesnipper
sout en peper
tandestokkies

Metode

Meng die pesto, rissie, kaas en spek.

Stop die hoender met die mengsel.

Garneer met sout en peper en steek die gaping met die tandestokkies toe.

Braaitou kan gebruik word indien die tandestokkies nie die hoender styf genoeg toe hou nie.

Braai die hoenderborsies oor matige kole tot die hoender sappig en gaar is.

S’mores nagereg 

Bestanddele 

1 pak malvalekkers
1 pak volgraanbeskuitjies (digestive biscuits)
15 ml (1 e) bruinsuiker 
2 piesangs, in wiele gesny
1 sjokolade, fyngekap
vanieljeroomys

Metode

Braai die malvalekkers aan metaalstokkies oor die kole.

Neem twee beskuitjies en plaas een malvalekker in die middel.

Braai die piesangs in die bruinsuiker oor matige kole.

Bedien die s’mores met die warm piesang en roomys.

Gebruik die sjokolade om die nagereg mee af te rond.